Oudpresident van Zambië sterf

Oudpres. Kenneth Kaunda van Zambië. (Foto: Lehtikuva / AFP)

Oudpres. Kenneth Kaunda van Zambië is Donderdag in die ouderdom van 97 dood.

Kaunda se kantoor het vroeër die week gesê dat hy vir longontsteking in ’n hospitaal behandel word en dat sy toestand oor die afgelope paar dae versleg het.

Kaunda het Zambië 27 jaar lank regeer nadat dié land in Oktober 1964 onafhanklikheid van Brittanje verkry het.

Kaunda was aanvanklik ’n gewilde leier in Zambië, maar het later in sy loopbaan al meer outokraties geword en alle opposisiepartye verbied. Hy is 1991 tydens dié land se eerste veelpartyverkiesing uitgestem en deur Frederick Chiluba vervang.

Nietemin is Kaunda, ook alombekend as “KK”, in sy leeftyd deur sommiges as “Gandhi van Afrika” bestempel.

Pres. Edgar Lungu, Zambië se huidige president, het tydens Kaunda se 97ste verjaarjaardagvieringe in April vanjaar gesê dat Zambië nie sou wees wat dit vandag is “sonder Kaunda se bydrae nie”.

Kaunda was ook ’n jarelange vriend van oudpres. Nelson Mandela en destyds een van die sprekers by Mandela se begrafnis. Die Nelson Mandela-stigting het Kaunda se dood Donderdag in ’n verklaring betreur en hom as politikus en vryheidsvegter geloof.

“Ons sal nooit sy bydrae in die stryd teen kolonialisme en apartheid vergeet nie, ook nie die lesse wat sy lewe ons geleer het van hoe ’n demokrasie gemeet en versterk kan word nie.”

Kaunda en sy vrou, Betty, wat in 2012 dood is, het saam nege kinders gehad.

Luidens mediaberigte het hy van baldans gehou, kitaar gespeel en graag romantiese liedjies vir sy vrou gesing.

Hy het selfs al met Brittanje se ystervrou, Margaret Thatcher, tydens ’n konferensie in Lusaka in 1979 gedans.

In huldeblyke aan Kaunda word gesê dat hy vir sy warm persoonlikheid onthou sal word asook vir sy kenmerkende wit sakdoek wat hy gereeld gebruik het om sy trane tydens emosionele toesprake – veral oor bevryding van onderdrukking – af te vee.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Harry

Hierdie man het my pa 24 uur gegee om Zambia te verlaat. Dit omdat hy ‘n onderonsie met ‘n man gewen het. Nee wat hierdie man was nie goed vir mense nie.

Chris

EK onthou nog goed hoe wyle Eerste Mininter John Vorster hier in die sestigs gese het dat hy Dr Kaunda “so hard sal slaan dat hy dit nooit sal vergeet nie” nou ja Dr Kaunda het duidelik nie geskrik nie en 97 gehaal