Oudpresidente se haarlokke op pad na die ruimte

John F Kennedy in die Withuis (Julie 1963) (Foto: Cecil Stoughton, White House via Wikimedia Commons)

George Washington, John F. Kennedy, Dwight D. Eisenhower en Ronald Reagan is op pad na die buitenste ruim.

Natuurlik nie die voormalige Amerikaanse presidente self nie, maar net monsters van hulle hare.

Celestis, ʼn maatskappy in Texas wat spesialiseer in ruimte-begrafnisse, het Maandag, op die VSA se presidentedag, hul plan aangekondig.

Celestis het gesê hulle wil later vanjaar “wat ons glo egte DNS van die voormalige presidente is” na die ruimte stuur aan boord ʼn United Launch Alliance (ULA)-vuurpyl.

Saam met die haarlokke sal ʼn klein bietjie van die veraste oorskot van Star Trek-skepper Gene Roddenberry en ander lede van die rolverdeling van die 1960’s-reeks ook aan boord die vlug genaamd “Enterprise” gestuur word.

Die USS Enterprise was die ruimteskip in die wetenskapfiksiereeks met die missie om “moedig te gaan waar geen mens nog ooit vantevore was nie”.

Celestis sê die haarmonsters van die vier voormalige presidente is deur ʼn anonieme skenker aan hulle gegee met sertifikate van egtheid daarby.

Dit kom oorspronklik uit die versameling van Louis Mushro, ʼn “bekende haarversamelaar en waardeerder” van Michigan wat in 2014 oorlede is.

“Die haarmonsters word al ʼn paar jaar lank in ʼn klimaatbeheerde fasiliteit gehou ter voorbereiding op dié sending,” aldus ʼn verklaring deur Celestis. “Deur die DNS van hierdie Amerikaanse ikone op die Enterprise te plaas, vestig ons ʼn voorloper vir toekomstige menslike sendings, en maak ʼn byvoeging tot die geskiedkundige rekord van menslike ontdekkingsreise van die ruimte,” het Charles Chafer, uitvoerende hoof van Celestis, gesê.

(Foto: Sangharsh Lohakare/Unsplash)

Die haarmonsters en vingerhoedgrootte kapsules van die veraste oorskot sal in die ULA Vulcan-vuurpyl geplaas word. Die vuurpyl se nooiensvlug van Cape Canaveral, Florida, word oor die volgende paar maande geskeduleer.

Die vuurpyl sal twee satelliete ontplooi, ʼn privaat landingsvoertuig na die maan stuur en dan die vrag haarmonsters en oorskot in die ruimte lanseer.

ULA-president en uitvoerende hoof Tony Bruno sê dit was ʼn “geweldige eer om saam met Celestis te werk om hierdie vier hooggeagte Amerikaanse presidente op ons Vulcan-voertuig te lanseer”.

Celestis het in 1997 reeds van Roddenberry se as in ʼn wentelbaan om die Aarde gestuur op sy “Founders Flight”-vuurpyl.

Die Houston-maatskappy vra tans $4 995 (sowat R91 000) om oorskot in ʼn wentelbaan om die Aarde te stuur. ʼn Reis na die ruimte verby die maan begin op $12 500 (byna R230 000).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Santie Gildenhuys ·

Party mense is inderdaad gepla met die maan. Nuttelose artikels in die ruimte. Alreeds die aarde besoedel en volgende is die ruimte. Stupid, man!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.