Oudrugbykaptein in Oekraïne-konflik gedood

Oleksi Tsybko is op 31 Maart dood. (Foto: Valeria Bandurko/Facebook)

Die voormalige kaptein van Oekraïne se nasionale rugbyspan is verlede week dood terwyl hy die gebied naby Bucha in die Kiëf-streek teen Russiese magte help verdedig het.

Oleksi Tsybko het met die aanvang van Rusland se inval in Oekraïne, soos talle ander burgers, alle pogings aangewend om sy land te verdedig. Hy was ook die voormalige burgemeester van die Oekraïense stad Smila.

Valeria Bandurko, voorsitter van die Cherkasy-streek se plaaslike administrasie, het Tsybko se dood op Facebook bevestig.

“Almal het gehoop dat die bewerings dat die voormalige burgemeester van Smila dood is, nie waar is nie, maar ongelukkig is sy amptelike doodsertifikaat vandeesweek ontvang,” sê sy.

“Hy is op 31 Maart tydens die gevegte naby Bucha dood.”

Bandurko het haar meegevoel met Tsybko se geliefdes betuig.

Oekraïense owerhede het onlangs op gru-tonele van onder meer massagrafte in Bucha en lyke van burgerlikes in en om Kiëf afgekom. Die liggame van die burgemeester van Motizhin, ʼn dorp wes van die hoofstad Kiëf, asook haar man en seun is ook in die gebied aangetref.

Volgens die Oekraïense Rugbyfederasie het Tsybko tussen 2003 en 2005, ná sy jare as rugbykaptein, as president van dié federasie oorgeneem.

“Helde sterf nooit nie,” het die federasie in ʼn verklaring gesê.

Tsybko is in 2015 as Smila se burgemeester aangewys en het die amp vir drie jaar beklee. Smila is in die Cherkasy-streek digby Kiëf.

Te midde van die onrus in Oekraïne sal ʼn roudiens Woensdag vir Tsybko gehou word, gevolg deur ʼn saamtrek deur burgers op die sentrale plein in Smila “ter nagedagtenis aan al ons gestorwe landgenote”, het Bandurko gesê.

Nog sanksies teen Rusland wink

Die VSA sal na verwagting Woensdag nuwe sanksies teen Rusland instel, waaronder ʼn verbod op nuwe beleggings, berig AFP. Dit kom ʼn dag nadat die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, vir die Verenigde Nasies se veiligheidsraad beeldmateriaal gewys het van lyke van burgerlikes wat in gebiede in en om Kiëf gevind is.

Zelenski het vroeër Rusland van volksmoord beskuldig en gesê dié moorde is gelykstaande aan oorlogsmisdade. Hy het Dinsdag die Russiese magte se optrede met dié van die Nazi’s vergelyk.

“Hulle [Russiese magte] het [burgers] se ledemate afgesny, hul kele gesny en vroue voor hul kinders verkrag en vermoor,” het Zelenski beweer.

Hy het sterker optrede van die Weste geëis en gevra dat Rusland uit die raad gesluit word, aangesien Rusland steeds invloed in die raad het om enige optrede teen te staan of te keer.

“Russiese regeringsamptenare, hul familielede, finansiële instellings in Russiese besit en staatsondernemings sal [met die sanksies] geteiken word,” het Jen Psaki, woordvoerder van die Withuis, gesê.

ʼn Nuwe sanksiepakket wat deur Europa voorberei word, sal in- en uitvoer van olie en steenkool met Rusland beperk, het Frankryk se minister van buitelandse sake tydens gesprekke van die Europese Unie in Luxemburg gesê.

Brittanje het reeds sowat $350 miljard se bates uit pres. Wladimir Poetin se “oorlogskas” gevries. Dit beteken dat meer as 60% van Rusland se buitelandse valuta-reserwes nou ontoeganklik is vir die Russiese regering.

As deel van die pogings om Moskou te isoleer, het Spanje, Italië, Denemarke en Slowenië Dinsdag tientalle Russiese diplomate wat vermoedelik intelligensie-operateurs was, geskors, ná soortgelyke skuiwe in Frankryk en Duitsland – ʼn totaal van sowat 180 diplomate in ander lande is in die afgelope 48 uur uitgesit.

Rusland hou onskuld voor

Rusland ontken steeds dat sy magte allerlei gruweldade in die Kiëf-streek gepleeg het voordat hulle eindelik uit die gebied onttrek het. Dit ten spyte van satellietbeelde wat onlangs oor die voorval aan die lig gekom het.

Sergei Lavrov, Rusland se minister van buitelandse sake, sê die ontdekking van die lyke in Bucha was “uitlokking”, wat daarop gemik is om samesprekings tussen Moskou en Kiëf in die wiele te ry.

“Wat is die doel van hierdie blatante onwaarhede? Ons glo dat dit gedoen is om voortgesette onderhandelinge te ondermyn.”

Rusland het intussen erken dat hy twee Oekraïense helikopters uit die lug geskiet het wat probeer het om leiers van Oekraïne se omstrede nasionalistiese Azof-bataljon uit die beleërde Marioepol te vlieg. Dié bataljon het kort ná die aanvang van die konflik met die Oekraïense weermag saamgesmelt.

Russiese magte het ook voorgestel dat Oekraïense soldate liefs hul wapens moet neerlê en Marioepol “via ʼn ooreengekome roete” verlaat. Oekraïne het glo hierdie voorstel van die hand gewys.

Russiese magte het in die nagtelike ure ʼn brandstofaanleg naby die stad Dnipro gebombardeer.

Hoewel niemand tydens die aanval beseer is nie, het brandbestryders vir agt ure gespook om die brand te blus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Mallie ·

Sanksies gaan nie die oorlog stop nie. Daar sal drasties teen hulle op getree moet word. Rusland se optrede laat my dink aan Hitler.

Cherokee ·

Mallie, drastiese(r) optrede as sanksies, sal ‘n wêreldoorlog inlui. Dit is waarom Westerse Wêreldleiers nog nie die wapen opgeneem het nie, maar waarskynlik word dit net uitgestel.

annie ·

Die Russe moet darem beter mik. Om nou ons liewe parlement ok raak te skiet… Of was dit Biden met sy nuwe langafstandvuurpyl wat effens suid gewaai is. Ons moet maar ligloop en nie te veel afkyk vir slaggate nie… Die gat kom dalk vanuit ‘n ander oord.

hendrie ·

Volgens VSA en ander Westerse syfers het daar tussen 129,000 en 226,000 mense gesterf agv die 2 kernbomme wat die VSA op onderskeidelik Hiroshima en Nagasaki teen die einde van WO2 gewerp het. Dodesyfers tydens die VSA se Viëtnam ‘avontuur’ wissel tussen 1,2 milj en 3,2 miljoen siele wat soldate en burgerlikes aan beide kante van die konflik insluit. Die VSA se meer onlangse oorloë en gewapende konflikte in Irak, Afghanistan, Libië, Lebanon, Sirië ens, het reeds derduisende lewensverliese ten gevolg.
Verstommend dat die VSA alweer voor-innie-koor aan’t sing is oor ‘n konflik wat volgens die Russiese regering hul soewereiniteit en vrede bedreig.
Wonder wat die VSA se reaksie sal wees indien Rusland met die samewerking van Mexiko en ander Suid Amerikaanse state, militêre ooreenkomste en missiel basisse teenaan die Amerikaanse grens sou vestig?

MT ·

Korrek, beskou hierdie konflik as die Kubaanse missielkrisis, maar die keer in tru-rat.

Manie ·

Hulle sal die horries kry. Die VSA dink mos hy is die enigste supermoontheid en niemand mag groter, beter of sterker as hy wees nie. Klomp arrogante skepsels die Yanks. Ek wag vir die dag wanneer alle internasionale handels transaksies en pryse van die dollar ontbondel word, dan gaan die Amerikaanse ekonomie laer as slangsleepsel wees.

Anna-marie ·

Die Boelies van Brussels (EU) gaan nou Victor Orban straf omdat hy dit gewaag het om neutraal te staan teenoor Rusland. Orban het gesê sy land en sy mense kan nie sonder die gas en ander komoditeite van Rusland klaar kom nie.

Anna-marie ·

Dit gaan interessant wees om te sien wie kom uit daai staalfabriek in Mariupol. Daar is nou al 4 helikopters wat afgeskiet is deur die Russe wat belangrike mense daar wou kom red. Daar is sterk bewerings dat die NAVO spesiale magte en grootkoppe is van Frankryk, Britanje, Swede (wat veronderstel is om neutraal te wees). Macron het vir Poetin gebel en hom gesmeek vir hulp. Die staalwerke is omring deur die Russe. Van die Oekraiense soldate daar het al oorgegee. Omtrent 260 van hulle.

Marthinus W ·

As mens kyk na die Russiese weermag se optrede die afgelope tien jaar, maak Zelenski se bewerings nie sin nie. Jy moet werklik liggelowig wees om alles wat hy se vir soetkoek op te eet. Volgens die Russiese weermag het hulle Boetsja op 30 Maart verlaat, en hulle het n gesprek met die burgemeester om dit te bevestig. (Hy het ook n selfie-video gemaak, en lyk na n vriendlike, gawe mens, en kon sy blydskap nie inhou oor die Russe wat onttrek nie.)

Kobus ·

Ander is liggelowig en eet alle nuus vir soetkoek op, maar jy glo wat die Russiese weermag vertel….? Baie betroubare bron…

Marthinus W ·

Die selfie-video van die burgemeester is deur die Oekrainse media versprei. [Hulle het seker nie geweet hul maatjies is besig met n false flag nie.] Dis die wet van onbedoelde gevolge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.