Oudrugbyspeler ná rusie doodgeskiet

Federico Aramburu is Saterdag doodgeskiet. (Foto: Paul Ellis/AFP)

ʼn Oudrugbyspeler van Argentinië is die afgelope naweek in Parys doodgeskiet nadat hy glo by ʼn woordewisseling betrokke was.

ʼn Vrou is intussen in verband met sy moord in hegtenis geneem, maar twee ander verdagtes is nog op vrye voet.

Federico Aramburu, wat die grootste gedeelte van sy rugbyloopbaan in Frankryk deurgebring het, is Saterdag in die vroeë oggendure in die Saint-Germain-distrik doodgeskiet nadat hy en sy vriende glo met ʼn ander groep mense in ʼn stryery by ʼn restaurant gewikkel geraak het.

Uitsmyters het glo om 06:00 die twee groepe uiteen gedwing, waarna een van die mense in ʼn motor gespring en weggery het. Aramburu en sy vriende het by die restaurant agtergebly.

“Die woordewisseling was afgehandel, maar die groep mans het later teruggekom en Aramburu vanuit hul motor geskiet,” het ʼn vertroulike bron aan AFP gesê.

Die 42-jarige Aramburu is na bewering drie keer geskiet en is op die toneel dood verklaar.

ʼn Vrou is Maandag in verband met sy moord in hegtenis geneem en is Dinsdag aangekla as ʼn medepligtige aan sy moord. Sy is steeds in polisieaanhouding.

Sy het glo die motor bestuur vir die twee verdagtes wat Aramburu glo vermoor het. Die twee ander mans, albei in hul 30’s, is steeds soek.

“Hierdie gruwelike misdaad en Aramburu se dood het sy familie, vriende en die rugbywêreld verstom en in smart gedompel,” het Yann le Bras, prokureur vir die Aramburu-familie, gesê.

Aramburu het Argentinië in altesame 22 toetse as senter of vleuel verteenwoordig en hy was onder meer by die Wêreldbekertoernooi in Frankryk in 2007 in aksie.

Sy drie in die uitspeelwedstryd teen die gasheerland het ʼn groot rol in die Suid-Amerikaners se uiteindelike derde plek gespeel.

Hy het ook klubrugby in Frankryk gespeel waar hy vir Biarritz, Perpignan en Dax uitgedraf het. Hy het die Top-14-reeks twee keer saam met Biarritz gewen en het ook later in die klub se direkteursraad gedien.

Sedert sy uittrede uit die sport het Aramburu in Biarritz gewoon en vir ʼn toerismemaatskappy gewerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Lyk my dis nie net in SA waar dinge handuit ruk nie. Dis SO onnodig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.