Oudrugbyspeler op herstelpad ná messtekery

Toutai Kefu (links) was deel van die Wallabies-span wat in 1999 die Webb Ellis-trofee verower het. Foto: Gerry Penny/AFP.

Die voormalige agtsteman van die Wallabies, Toutai Kefu, is op die herstelpad nadat hy deur inbrekers in sy huis in Brisbane aangeval is.

Die 47-jarige rugbyspeler het meswonde in sy maag opgedoen nadat hy drie jong mans gekonfronteer het wat by sy huis ingebreek het. Die voorval het omstreeks 03:00 Maandagoggend plaasgevind en hy is saam met sy vrou (Rachel) en twee van sy kinders (Josh en Madi) na die Princess Alexander-hospitaal gehaas.

Die polisie het toe gesê dat Kefu se toestand kritiek is, terwyl sy vrou diep steekwonde aan haar arm opgedoen het. Maar volgens Olivia Kefu sterk haar gesinslede goed in die hospitaal aan.

“Pa en Josh is gister geopereer en dit gaan beter met hulle,” het sy op sosiale media geskryf. Sy het bygevoeg dat haar ma en suster vandag (Dinsdag) in die teater sal wees.

Kefu in aksie teen die Springbokke op Twickenham. Foto: Odd Andersen/AFP.

Intussen is ’n vyftienjarige seun in hegtenis geneem en hy word onder meer deur vier aanklagte van poging tot moord in die gesig gestaar. Hy het vandag in Brisbane se kinderhof verskyn.

’n Tweede vyftienjarige is onder polisiebewaking in die hospitaal, terwyl daar nog na ’n derde verdagte gesoek word.

Kefu het 60 rugbytoetse vir Australië gespeel en hy was deel van John Eales se span wat die Webb Ellis-trofee in 1999 verower het. Daarbenewens was hy die afrigter van Tonga by die afgelope Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan.

Hy het sy internasionale rugbybuiging teen die Springbokke in 1997 gemaak.

“Toutai Kefu en sy gesin is in my gebede,” het Sonny Bill Williams op Twitter geskryf, terwyl die Wallabies en All Blacks hom ook sterkte toegewens het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Misky ·

Daai 15 jarige hoort nie in die kinderhof nie. As hy hom soos ‘n krimineel wil gedra, moet hy soos een behandel word

Frank ·

Daarsy, MM, ‘n 15 jarige wat ander mense probeer vermoor moet ‘n “jong man” genoem word, want dit is hoe hy vervolg behoort te word. Geen kinderhof of ouer toesig nie.

B-Man ·

As dit so aanhou daar gaan al die Suid-Afrikaners dalk terugkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.