Oudste egpaar ter wêreld aangewys

Julio Mora (110) en Waldramina Quinteros (104). (Foto: Dolores Ochoa, AP)

ʼn Egpaar van Ecuador het nou ʼn Guinness-wêreldrekord agter hul naam nadat hulle as die oudste egpaar ter wêreld aangewys is vanweë hul gesamentlike ouderdom van 214 jaar.

Julio Mora (110) is op 10 Maart 1910 gebore en Waldramina Quinteros (104) op 16 Oktober 1915.

Die egpaar is op 7 Februarie 1941 in die eerste kerk wat deur die Spanjaarde in Quito gebou is, getroud ná albei families nie die huwelik goedgekeur het nie. Mora het van sy ouerhuis weggeglip om in die geheim met Quinteros te trou en hulle is al 79 jaar saam.

Volgens die Guinness-wêreldrekords was daar al langer huwelike in die geskiedenis, maar daar is nie tans ʼn huwelik tussen twee mense wat so oud is nie.

Die twee afgetrede onderwysers het in Augustus die Guinness-sertifisering ontvang in die hoofstad van Ecuador waar hulle ook woonagtig is.

Mora en Quinteros is al vir 79 jaar getroud. (Foto: Dolores Ochoa, AP)

Hulle dogter, Cecilia, sê dat haar ouers steeds helder van verstand en aktief is, hoewel hulle nie meer dieselfde behendigheid as voorheen het nie. “Hulle is al ʼn maand lank neerslagtig omdat hulle groot familiebyeenkomste mis,” sê sy.

“Sedert die pandemie het ons geen familiebyeenkomste gehad nie. My ouers het daardie gesinskontak nodig.”

Dié egpaar het vier kinders wat almal steeds lewe, 11 kleinkinders, 21 agterkleinkinders en een agteragterkleinkind.

Benewens tyd saam met familie sê Cecilia dat Mora daarvan hou om televisie te kyk en melk te drink, terwyl Quinteros af en toe nagereg geniet en elke oggend koerant lees.

ʼn Egpaar van Texas in die VSA, Charlotte Henderson en John Henderson, was vóór Mora en Quinteros die wêreldrekordhouers vir die oudste egpaar met ʼn gesamentlike ouderdom van 212 jaar en 52 dae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stofdonkie ·

As dit gaan oor gesamntlike ouderdom gaan zuma die record nog by hulle wegneem, want met sy baie vrouens gaan hy beslis die maklik wen as jy al die ouderdomme bymekaar tel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.