Ouers begenadig ná vreemde ‘ballon-seun’-poets

Skermgreep uit die video

ʼn Ouerpaar van Colorado in die VSA wat tronkstraf opgelê is ná hulle beweer het hul sesjarige seun Falcon het in ʼn tuisgemaakte ballon weggedryf, is deur die staat se goewerneur begenadig.

Richard en Mayumi Heene het in 2009 skuld beken op die “ballon-seun”-poets. Dit het wêreldwyd opslae gemaak met miljoene mense wat regstreeks gekyk het hoe die silwerkleurige heliumballon vir 110 km deur die lug gedryf het.

Die voorval, in Oktober 2009, het ná vyf ure geëindig toe daar bevind is die ballon is leeg en Falcon het uit sy wegkruipplek by die gesin se huis verskyn.

Staatsaanklaers het die egpaar daarvan beskuldig dat hulle die publisiteit wou gebruik om in ʼn realiteitstelevisiereeks te verskyn. Goewerneur Jared Polis het hulle Woensdag begenadig. “Die tyd het aangebreek dat ʼn permanente kriminele rekord van die ballon-seun-saga nie meer die ouers vir die res van hul lewens volg nie,” het Polis in ʼn verklaring gesê. Volgens hom het die egpaar “die prys betaal in die oë van die publiek”.

Wetstoepassers se vermoedens is later bevestig toe Falcon per ongeluk in ʼn CNN-onderhoud verklap het die voorval was “vir die program”. Die Japannees gebore Mayumi Heene het binne 48 uur ná die onderhoud skuld beken tydens polisie-ondervraging.

Die egpaar se prokureur het egter Donderdag aan AFP gesê hulle het slegs skuld beken om seker te maak sy word nie gedeporteer nie en hulle was werklik besorg dat hul seun in die ballon vasgekeer is. “Hulle is spyt dat hulle dit nie deeglik oordink het nie, maar dit was ʼn geforseerde skuldbekenning,” het David Lane gesê. “Ek dink dit het ook ʼn invloed gehad op die goewerneur.”

Richard Heene is tot 90 dae tronkstraf gevonnis op aanklag dat hy ʼn staatsamptenaar wou beïnvloed. Hy bedryf nou ʼn klein onderneming en lewer ʼn bydrae tot sy gemeenskap “deur navorsing te doen en opleiding aan te bied oor uiterste weersomstandighede”, het Polis gesê.

Mayumi Heene is tot 20 dae tronkstraf gevonnis omdat sy ʼn valse klag by owerhede ingedien het. Sy is nou ʼn Amerikaanse burger.

Die egpaar woon tans in Florida.

Falcon, nou ʼn tiener, is in ʼn heavy metal-musiekgroep saam met sy broers Ryo en Bradford. Hy het ʼn liedjie, “Balloon Boy, No Hoax”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.