Ouers dagvaar oor tiener wat sterf ná besoek aan pretpark

Lauren Seitz (Foto: NBC4i)

Die ouers van die oorlede Amerikaanse tiener Lauren Seitz (18), wat gesterf het ná sy ʼn dodelike parasiet opgedoen het tydens haar besoek aan die National Whitewater Center-pretpark in Noord-Carolina, het vandeesweek dié pretpark vir nalatigheid gedagvaar.

Seitz is ’n jaar gelede dood toe sy met die sogenaamde Naegleria fowleri-amoeba (of breinvretende amoeba) besmet is tydens ʼn musiektoer saam met sowat 40 ander lede van die Church of Messiah-gemeente in Westerville.

ʼn Amoeba is ’n eensellige slymdiertjie wat soos ’n parasiet in die dermkanaal van mense leef. Die Naegleria fowleri-amoeba – een van vele spesies van dié parasiet – veroorsaak ʼn skaars en dodelike breininfeksie.

Die parasiet word oor die algemeen in warm varswater en grond aangetref, maar groei ook in pype. Die amoeba gaan gewoonlik die liggaam binne deur die neus, en gaan dan na die brein waar dit swelling veroorsaak. Simptome sluit hoofpyn, koors, aanvalle en hallusinasies in.

Seitz is 11 dae ná haar besoek aan dié pretpark aan die einste breininfeksie oorlede.

Die 18-jarige het saam met ʼn paar vriende met vlotte by die Whitewater Center op die water gery, toe die vlot skielik omgeslaan het. Volgens verklarings was dit haar enigste aanraking met die water.

Sy het ʼn paar dae ná haar terugkoms by die huis siek geraak, en is dae later met die Naegleria fowleri-amoeba gediagnoseer.

Talle toetse ná die voorval het bewys dat dié amoeba volop in die water van die pretpark is.

Dr. Jennifer Cope, ʼn kundige van die sentrum vir siektebeheer- en voorkoming in die VSA, het gesê die amoeba is nog nie voorheen elders só volop gesien nie.

Volgens hofstukke beweer Seitz se ouers dat die pretpark versuim het om sy water behoorlik te chloreer en in stand te hou. Dit het verder ook nie sy werknemers reg opgelei om die fasiliteite te reguleer nie. Die hofstukke voer dus aan dat die pretpark nalatig was.

Bron: CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

al ·

Ek neem die ouers nie kwalik nie – dit wys weereens dat pretparke hul water se gehalte moet dophou.

CQ ·

Dis baie hartseer. Maar….. hoe kan mens n pretpark dagvaat vir n virus wat opgedoen is? As sy VERONGELUK het op n pretRUT,ja…. maar n virus kons sy tog enige plek opgetel het? Wat het geword van “eie risiko”?
Jammer, die hele Christelike toer en dan dagvaar die ouers mense vir……wat presies?

marous ·

Kan die staat dan verantwoordelik gehou word vir malaria gevalle in SA omrede daar nie bespuitings gedoen wordnie?

Robert ·

@CQ: lees weer die berig. daar word glad nie van virus gepraat nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.