Ouers gaan terminaalsiek-baba ‘vreedsaam laat sterf’ oor hof sloer

Foto: Facebook.

Die ouers van die 11 maande oue terminaalsiek Charlie Gard van Engeland het Maandag die regsgeding vir alternatiewe behandeling wat moontlik sy lewe kan red, laat vaar.

Die uiters seldsame Encephalomyopathic mitochondrial DNA depletion-sindroom (MDDS) is kort ná jong Gard se geboorte by hom gediagnoseer. Dié sindroom beïnvloed weefsel in die spiere, lewer, of beide die spiere en brein, en veroorsaak as’t ware dat “foutiewe DNS” in die liggaam nie genoeg krag na die spiere en brein stuur om te beweeg of aksies uit te voer nie.

Volgens Chris Gard en Connie Yates, Charlie se ouers, het dié siekte sy hart, lewer én niere aangetas. Hy kan ook nie self asemhaal nie en is daarom aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel. Hy kan ook nie sy oë oopmaak of sy arms of bene beweeg nie.

Die egpaar se prokureur, Grant Armstrong, het Maandag aan die hooggeregshof in Engeland gesê volgens kundiges is daar nie meer kans om die seuntjie se lewe te red nie.

“Dit is te laat vir Charlie… Daar is geen kans dat behandeling meer sy lewe kan red nie. Dit gaan niks help om hom op die asemhalingsmasjien te hou nie,” het Armstrong gesê.

Hy het gesê die skuld moet op die hof geplaas word wat die hofsaak laat sloer het, omdat Charlie se lewe glo gered kon gewees het as die alternatiewe behandeling van die begin af toegestaan was.

Die Yates-egpaar was sedert die begin van die jaar in ʼn ingewikkelde regsgeding gewikkel om alternatiewe behandeling vir Charlie aan te vra nadat die hospitaal aangeraai het dat hy ʼn vreedsame dood moet sterf.

“Ons wou hom net ʼn kans gee om te lewe – en nou is ons nie in staat daartoe nie. Ons as ouers moes nou die moeilikste besluit maak wat ouers ooit kan doen,” het ʼn gebroke Connie buite die hof gesê.

Talle ondersteuners van die saak het buite die hof saamgedrom waar hulle hul misnoeë en ongeloof teenoor die Britse regstelsel uitgespreek het.

Die Amerikaanse president, Donald Trump, en pous Franciskus het hulself vroeër vandeesmaand tot sosiale media gewend om ondersteuning vir Charlie se saak te werf sodat die toestemming vir behandeling toegestaan word.

Dit is onseker wanneer Chris en Connie hul seun moet groet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Liezille ·

My hart is so seer vir hierdie mamma en pappa. Ek het self ‘n seuntjie en wil graag nog een he, maar as ek nou sien wat als tydens ‘n swangerskap, of a.g.v die baba se DNS kan skeefloop, sien ek nie kans nie. Ek wens ek kon hulle ‘n drukkie gee

LB S ·

Liezille, nee man, kyk om jou hoeveel gesonde babas daar is. Waarvoor hierdie pessimisme?
As jy nou sou sê a.g.v. al die dinge wat in die land (of wêreld) aangaan, kon ek nog verstaan, maar regtig, die grootste persentasie babas word wel geskape en gesond gebore.

christelle ·

So sad, and my heart goes out to family and friends. God bless!!!!

karen ·

Dis so hartseer maar ek dink ook dis die beste vir Charlie en ouers – let go let God. Geen maklike besluit mag dit asb nie oor my pad kom want ek weet nie hoe om dit te hanteer . Sterkte

Johan ·

Mens kan nie anders as om simpatie met die ouers te hê nie; maar, die artikel is swak bevoordeelde sentimentele sensasionalisme.
Die feite is dat die hospitaal en van die beste kundiges ter wêreld die seuntjie se toestand evalueer het en toe die hof genader het vir toestemming om die masjiene af te skakel om “verdere lyding te voorkom”.
Die ouers het die hof se instemming nie aanvaar nie en tot by die Europese appelhof daarteen appel aangeteken – en telkens is die oorspronklike uitspraak gehaandhaaf.
Die ouers het ge-eis dat hy na ‘n Dr in Amerika gaan wat ‘n eksperimentele behandeling ontwikkel het wat nog nie eers op muise getoets is nie.
Vandag se aankondiging kom nadat die Dr uit Amerika waarop hulle hulle hoop geplaas het ook die seuntjie ondersoek het en bevind het dat hy geen kans op herstel het nie.
Die blaam wat die prokureur nou die hof en die regter toedig (wat in alle opsigte in die beste belang van die klein seuntjie opgetree het) is om uit ‘n tragedie ‘n onsmaaklike munt te probeer slaan.
Jammer dat Maroela so op die wa geklim het – dit doen afbreuk aan julle standaarde

Daan ·

Ek kry die ouers baie jammer, maar mens moet ook regverdig wees. Wat se lewe sal die kind hê? Kom ons gun hom liewer die vreugdevolle lewe in die Hemel.

oumie ·

Ons kleinseuntjie, die liefste kleinding, is omtrent twee weke jonger as klein Charlie. Dis ondenkbaar hoe Charlie se ouers en familie moet voel, veral ook na die uitgerekte stryd in die hof. Net een ewige troos. Hulle seuntjie sal by Jesus wees, veilig en vir altyd volmaak gesond. Mag hulle alle genade ontvang.

Susan du toit ·

Ons Harte gaan uit na die ouers dis nie lekker nie maar ons Vader daar bo weet beter. Sterkte

Kosie ·

Want die hof is die opperste voog van die kind. Dit moet so wees want ouers kan nie altyd rasionele besluite maak nie.

Marzanne Slabbert ·

God het gese Hy gee vir ons die outoriteit om lewe te spreek en deur Sy genade wonderwerke te sien manifisteer in die hier en nou as ons kies om te glo in die voltooide werk van Jesus aan die kruis. Dit is ons keuse. Jesus het gesterf vir ons sonde EN vir alle vorme van siekte. Ons moet die aanslag verdryf in die naam van Jesus. Dankie Jesus vir U bloed. U woord se alles is moontlik vir die wat glo. Mark 9:23. Dankie vir genesing vir hierdie kleinding. Ek breek nou in die naam van Jesus alle woorde wat dood gespreek het oor Charlie Gard. Charlie Gard behoort aan Jesus. Hy is vrygekoop en verlos van alle siekte. Ek bid nou vir die manifestering van die wonderwerk wat U reeds vir Charlie Gard kom doen het. Charlie Gard, in die naam van Jesus, maak oop jou ogies. Pappa-God wil he jy moet lewe. Laat U naam verheerlik word Jesus. Dankie dankie dankie vir U bloed. Amen en amen. As jy n wedergebore kind van Jesus isbid dit saam met my en neem vandag nagmaal vir Charlie Gard. Jou geloof kan berge verskuif. Spreek lewe. Amen

Astrid ·

Ek stem 100% Marzanne, ek glo ons moet bid, bid vir geneesing en vir God vra om na Charlie om te sien en gesond te maak maar ek glo ook dat die Here se wil moet geskiet en op die stadium is nie een van ons seker wat die Here se wil is nie. Al wat ons kan doen is om te bid en te vertrou dat die Here ‘n plan het met Charlie ongeag wat die uitkoms is. Ek wil ook net beklemtoon, enige persoon kan vir Charlie bid, wedergebore kind of nie, ek is seker daarvan sy mamma en pappa sal almal waardeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.