Ouers hof toe om kleuter se dood te voorkom

Tafida Raqeeb. (Foto: www.change.org)

Die ouers van ʼn vyfjarige dogtertjie wat tans in ʼn koma in ʼn hospitaal in Londen lê, het hulle na die hof gewend om te voorkom dat die masjiene afgeskakel word wat hul kind tans aan die lewe hou.

Independent berig Shelina Begum (39) en Mohammed Raqeeb (45) het Dinsdag ʼn aansoek by die hooggeregshof in Londen ingedien om te versoek dat die hof oor die saak beslis.

Volgens berigte ly Tafida Raqeeb (5) aan ʼn seldsame toestand wat veroorsaak dat daar abnormale konneksies tussen are en slagare in haar liggaam is. Nadat ʼn aar in haar brein op 9 Februarie vanjaar gebars het, het sy in ʼn koma gegaan en word sy sedertdien in die Royal London Hospital behandel.

Dokters by dié hospitaal meen ʼn operasie sal tevergeefs wees en daar is niks meer wat vir die dogtertjie gedoen kan word nie. Hulle beveel aan dat die lewensondersteuningsmasjiene waaraan sy gekoppel is, afgeskakel moet word sodat sy toegelaat word om te sterf.

Tafida se ouers glo egter hul kind kan steeds herstel indien sy nog tyd gegun word. Hulle dring daarop aan dat hulle toegelaat moet word om Tafida na ʼn kinderhospitaal in Italië te neem vir verdere behandeling.

Begum en Raqeeb voer in hul hofaansoek aan dat hulle wetlik Tafida se ouers is en daarom wetlik die enigstes is wat besluite oor haar kan neem. Die ouerpaar het aan die hof gesê Tafida word tans teen haar wil in die Royal London Hospital gehou.

Volgens BBC het dokters by ʼn hospitaal in Genoa, Italië, reeds aangedui dat hulle bereid is om Tafida te behandel. Daar sal Tafida nie voldoen aan die vereistes om breindood verklaar te word nie en sal sy dus nie van lewensondersteuning afgehaal word nie.

Medici by die Royal London Hospital weier egter dat die kleuter na Italië oorgeplaas word. Hulle hou vol daar is nie meer hoop vir Tafida nie en dit sal in haar beste belang wees om die masjiene af te skakel en slegs voort te gaan met palliatiewe sorg.

Begum sê dit is hartverskeurend om haar dogtertjie so te sien. “Ons kan nie net opgee as daar ʼn kans is dat sy kan oorleef nie,” het sy gesê.

In 2017 het ʼn Britse hof besluit dat die 11 maande oue Charlie Gard, wat aan die uiters seldsame enkefalo-miopatiese mitochondriale DNS-ledigingsindroom (MDDS) gely het, van asemhalingsmasjiene afgehaal moet word. Dit het gekom nadat Charlie se ouers maande lank in ʼn ingewikkelde regsgeding gewikkel was om alternatiewe behandeling vir Charlie aan te vra nadat die hospitaal aangeraai het dat hy ʼn vreedsame dood moet sterf.

Klein Charlie is dood kort nadat die asemhalingsmasjiene afgeskakel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanL ·

Sterkte aan die ouers en hoop jul versoek word goedgekeur. Sekerlik het die kind se ouers meer reg op besluitneming as die hospitaal.

Liza ·

Oe dis hartseer…. sterkte aan die ouers…….bid vir julle…

Wie is hulle om te sê? ·

Dokters het al vele male prognoses sonder enige hoop of vooruitsig op herstel gemaak, waarna God ingegryp en Sy almag bewys het. Ek is self ´n bewys daarvan.
Hoe kan die dokters/staat die laaste sê hê en oor die kind se lewe/dood besluit – veral as daar nog hoop is, al dink/glo hulle nie so nie?

Wie weet ·

Dit is sekerlik n baie moeilike besluit, maar daar moet in ag geneem word dat die kind kunsmatig aan die lewe gehou word, wat ook interpreteer kan word dat die drs die natuurlike proses van God om die kind moontlik te laat sterf of kragdadig in te tree en gesond te maak, vertraag. Ons sal nooit die werklike antwoorde kan gee nie, en ek dink dit is soms baie wreed om ouers die besluit te laat neem terwyl hulle nie die nodige mediese kennis het om so n besluit te kan neem nie. Die vraag sal altyd bly staan wat gaan die lewensgehalte wees van die kind as die kind wel sou oorleef???? Ek se weer dit is amper onmenslike vir die drs en ouers om n besluit teneem en hoop en bid net dat ek noit in sp posisie geplaas word nie.

wonder net ·

As die kleutertjie een van die dokters in die Royal LONDEN hospitaal se kind was… sou hy presies dieselfde gedoen het… om vir sy kind te veg!!! Die ouers betaal mos inelkgeval self vir die behandeling.. so wie is die spul om namens hulle te wil besluit??

Anoniem ·

Wonder Net, hoe seker is jy die ouers betaal self vir die behandeling? Engeland het mos “National Health Insurance”? Ek vra nie om te baklei nie, ek is wonder ook net….

Gesiggie ·

Dit moet een van die moeilikste besluite van enige ouer wees?? om toestemming te gee om die masjien af te sit…wat haar aan die lewe hou. N ouer weet wat die beste sal wees vir hul kind, en die ouers Glo en vertrou dat klein Tafida n tweede kans het en ek bid en ek hoop dat al hul wense sal waar word, en met die regte behandeling dat Tafida sal genees word, en dat sy self asem sal kan haal… sterkte aan die ouers ek kan nie wag om die opvolg te lees en veral om die wonderwerk te sien gebeur, mag al jul gebede bewaarheid word .

Grys ·

Ek verstaan nie hoe ń hospitaal kan weier, dat jy jou kind neem na ń ander mediese fasiliteit nie, die artikel wys dat in Italië die dokters dit nie sien as ń opgeepunt nie, wie is die Engelse om dit te keer ? Hoekom het die hof die reg om jou vrye keuse van mediese behandeling en beweeging te keer. ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.