Ouers sterf ook toe hulle 11-jarige uit vulkaan wou red

Reddingsbeamptes by die toneel waar drie persone, insluitend ‘n 11-jarige seun, in ‘n krater geval en gesterf het Foto: Ciro Fusco/ANSA via AP

Drie persone, ʼn 11-jarige seun en sy ouers, is dood toe hulle in kokende modder in ʼn vulkaniese krater in Italië geval het.

Die gesin het die vulkaniese krater Solfatara in Pozzuoli, ʼn stad in Italië naby Napels, besoek. Solfatara, ʼn vlak vulkaniese krater, is ʼn toeriste-aantreklikheid.

Die gesin het die krater Dinsdag besoek toe die seun ʼn afgesperde gebied betree, gegly en in ʼn drie meter diep gat ingeval het, het die Italiaanse nuusagentskap ANSA berig. Sy pa en ma het hom probeer red en het ook in die gat geval.

Nog ʼn lid van die gesin, ʼn sewejarige seun, was daar naby. Hy het nie die afgesperde gebied betree nie. Volgens owerhede is hy in die veiligheid van maatskaplike werkers geplaas totdat sy ouma en oupa opdaag.

Vincenzo Figliolia, burgemeester van Pozzuoli, het sy skok uitgespreek oor die tragedie. “Dit is ʼn oomblik van diepe hartseer vir ons almal,” het hy op Facebook gesê.

Die slagoffers, Massimiliano Carrer (45), Tiziana Zaramella (42) en hul seun Lorenzo van Meolo, ʼn dorp in die noorde van Italië, het die vulkaan besoek, berig ANSA.

Dit is nog nie duidelik of hulle dood is weens die warm lawa en of hulle omgekom het weens die swaelgasse uit die dormante vulkaan nie.

Die Associated Press berig swaar reën het moontlik ook ʼn rol gespeel en openinge op die krater se oppervlak veroorsaak.

Figliola het Woensdag ʼn dag van rou aangekondig vir die gesin en vlae sal halfstok hang in die land. Hy het skole en kantore aangemoedig om ook ʼn oomblik van stilte te hou.

Diego Vitagliano, ʼn ooggetuie, het gesê hy het gesien die sewejarige huil en roep om hulp. “Ek het nie gedink ek sou só iets ooit sien gebeur nie. Ek bly dink aan die gesin en die arme kind wat om hulp geroep het,” het hy aan die koerant La Repubblica gesê.

Alhoewel die Solfatara-terrein privaat besit word, monitor geoloë deurgaans die gebied se temperatuur en gasse, berig AP. Kennisgewingborde waarsku toeriste in verskeie tale van die kokende temperatuur en stoom van tot 160°C.

Die laaste uitbarsting in die gebied was tydens ʼn week in 1538. Wetenskaplikes het verlede jaar gewaarsku dat die vulkaan moontlik weer ʼn uitbarsting kan hê, berig Washington Post.

-Washington Post

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

'n Vraag? ·

Elf jaar oud behoort darem te besef om nie kanse te vat maar nou-ja dit het gebeur. Dit geld ook vir verkeersreëls wat deur volwassenes met geen breinselle in ons land verontagsaam word wat tot beserings en die dood lei.
Graag sou ek wou weet of die drie se liggame uitgehaal kon word of nie?
Weereens ‘n bewys hoe skielik dinge kan skeef loop.

Werner ·

Ag nee man. Wat ‘n hartseer storie. My hart bloei vir die 7 jarige. Hoekom moet die dinge altyd gebeur. Hoekom hoekom.! Kan net in dink in watter nag merrie daardie familie nou is.

Alida ·

Tragies.
Wat my opval is dat ‘n dag van rou afgekondig word en vlae halfstok hang.
Daar word nog omgegee vir ‘n mens se lewe.

Vixie ·

Alida, ek dink aan dieselfde ding. As hulle in Suid-Afrika ‘n dag van rou moet afkondig vir elke persoon (wit, bruin, swart) wat onder ons huidige regering vermoor word, sal die hele jaar vakansiedae wees

pieterdp ·

Dis wonderlik dat n regering saam rou met n tragedie van n gesin. Dit is n regwring wat daar is vir die volk wat ook al gebeer het.
Italië ek saliheer julle jul is n voorbeeld vir baie lande.

Poppie ·

Alida, dit het my ook dadelik opgeval. En toe dink ek as die vlae halfmas moet hang wanneer “my” mense vermoor word in ons land, sal dit nooi weer die bo punt sien nie

Toeris ·

Dit is verskriklik tragies, maar genade tog AFGESPERDE gebied, sê dit vir niemand iets nie? Dit is nie ‘n ongeluk nie, hierdie gebiede word met mening afgesper. Die ouers moet tog toesig oor die kinders ook hou. Ongelukkig met ons omswerwinge deur die land en wereld het ons agtergekom ouers het geen beheer meer oor hulle kinders nie. Die dissipline is sigbaar nie meer daar nie. Jammer oor die groot verlies, maar wanneer gaan mense begin LEES en LUISTER? Dit klink baie ongevoelig, maar as dit iemand se lewe kan red, sal ek die houe vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.