Ouers van Amerikaanse ‘skoolskieter’ ook aangekla

Die Amerikaanse polisie is nou ook op soek na James en Jennifer Crumbley, wie se seun, Ethan, glo vier kinders tydens ‘n skoolskietery doodgeskiet het. (Foto: Oakland County Sherrif’s Office/AFP)

Die ouers van ʼn 15-jarige skoolseun wat vier leerders by ʼn Amerikaanse hoërskool doodgeskiet het met ʼn vuurwapen wat sy pa gekoop het, gaan hulself aan die owerhede oorgee nadat hulle van onopsetlike manslag aangekla is, sê hul regsverteenwoordigers.

Teen Vrydag was dit onbekend waar James en Jennifer Crumbley, ouers van Ethan Crumbley, hulself bevind het. Dit het beteken die owerhede het hulle as voortvlugtiges beskou.

Die Crumbleys se prokureurs, Shannon Smith en Mariell Lehman, het egter aan AFP gesê die ouerpaar het die dorp die aand van die skietery “vir hul eie veiligheid” verlaat en sal nou na die gebied terugkeer.

Karen McDonald, staatsaanklaer, het in ʼn vreemde stap aangekondig dat elk van die ouers op vier aanklagte van onopsetlike manslag sal teregstaan.

“Die aanklagte is veronderstel om die individue wat tot die tragedie bygedra het aanspreeklik te hou en ook die boodskap te stuur dat vuurwapeneienaars ʼn verantwoordelikheid het,” het McDonald by ʼn mediakonferensie gesê.

“Hoewel die skieter die een was wat die skool binnegegaan en die sneller getrek het, is daar ook ander individue wat tot die gebeure op 30 November bygedra het.”

ʼn Wetstoepassingsbeampte het aan CNN gesê die ouers het Vrydag $4 000 (sowat R64 500) by ʼn kitsbank naby Oxford getrek, wat die raaisel oor hul verdwyning laat verdiep het.

Sheriff Michael Bouchard het egter gesê hulle behoort binnekort in aanhouding te wees. “Hulle kan nie weghardloop van hulle aandeel in hierdie tragedie nie.”

ʼn Beloning van $10 000 (sowat R161 000) is intussen uitgeloof vir die inhegtenisneming van die twee.

Vuurwapen gekoop

Mense woon ‘n nagwaak by ter nagedagtenis aan slagoffers van die skoolskietery. (Foto: Scott Olson/GETTY IMAGES/AFP)

Vier leerders tussen 14 en 17 jaar oud is dood in die skietery by die Oxford High School noord van Detroit, en nog ses mense, ook ʼn onderwyser, is gewond.

Ethan Crumbley staan as ʼn volwassene tereg op aanklagte van moord en terreur.

Hoewel skoolskietery deur tieners in die VSA nie ʼn vreemde verskynsel is nie, is dit vreemd dat ouers ook aangekla word.

Vier dae voor die skietery het James Crumbley die 9 mm‑Sig Sauer- semi-outomatiese handwapen wat sy seun gebruik het, gekoop.

Ethan was saam met sy pa toe hy die wapen gekoop het en die tiener het ʼn foto daarvan op sy Instagram-rekening gedeel met die woorde “just got my new beauty today”.

Volgens die polisie het Ethan die aand voor die aanval ʼn video gemaak waarin hy sê hy beplan die skietery by die skool die volgende dag. Dit is nie aanlyn gedeel nie.

Dieselfde dag het ʼn onderwyser by die skool gesien hoe Ethan in klastyd aanlyn op sy foon na ammunisie soek en dit by die skool aangemeld. Die skool het sy ma probeer kontak, maar sy het nie op stemboodskappe of e‑posse gereageer nie.

McDonald sê Jennifer Crumbley het wel ʼn boodskap oor die voorval aan haar seun gestuur wat lui “lol I’m not mad at you. You have to learn not to get caught.”

‘Moenie dit doen’

James en Jennifer Crumbley se huis in Oxford, Michigan, in die VSA. (Foto: Jeff Kowalsky/AFP)

Ethan se ouers is op die dag van die skietery na die skool ontbied nadat ʼn onderwyseres ʼn nota op Ethan se lessenaar gevind het wat gevaarligte laat flikker het. Dit het ʼn tekening van ʼn vuurwapen met die woorde “The thoughts won’t stop. Help me”, bevat.

Die tekening is aan die Crumbleys gewys tydens ʼn vergadering met die skool en hulle is aangeraai om binne 48 uur berading vir die kind te kry.

Hulle wou egter nie hul seun huis toe neem nie en hy het teruggekeer klas toe.

Hy is later ʼn badkamer binne en het uitgekom met ʼn vuurwapen wat hy in sy rugsak versteek het. Hy het daarna losgebrand.

“Die gedagte dat ʼn ouer die woorde kon lees en weet dat hul seun toegang het tot ʼn dodelike wapen wat hulle vir hom gegee het, is ondenkbaar en ek dink dit is misdadig,” het McDonald gesê.

“Ek is woedend. Ek is woedend as ʼn ma. Ek is woedend as die aanklaer. Ek is woedend as iemand wat in hierdie land woon.

“Ons moet beter doen.”

Ethan Crumbley het minstens 30 skote geskiet en herlaai terwyl sy medeleerders gevlug het.

Onderwysers en leerders het in klasse geskuil – soos hulle tydens oefeninge oor skoolskietery geleer word – terwyl sommige deur vensters gevlug het.

McDonald sê Jennifer Crumbley het, nadat sy van die skietery gehoor het, ʼn boodskap aan haar seun gestuur wat lui “Ethan don’t do it”.

James Crumbley het huis toe gery en die 911-noodnommer gebel om aan te meld dat ʼn vuurwapen uit sy huis vermis word en dat sy seun moontlik die skieter kan wees, sê McDonald.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

AW ·

Ek persoonlik het nie n probleem daar mee , dat die ouers ook vervolg sal word!!

As dit tog maar ook net in SA, sal gebeur, waar ouers tot verantwoording gebring word, ten oosigte van hulle kind se misdaad op tredes .

Maar by nou al weet meeste van ons, dat dit Bitter min is dat kinders vervolg word in SA, wat nog te sê die ouers van die kind.

Jean ·

Die eienaar van die wapen moet vervolg word, ma of pa en nie albei nie.
“Soos hulle tydens oefeninge oor skoolskietery geleer word” ummm Ethan het seker ook die oefeninge gedoen op ‘n tyd en geweet wat almal gan doen.

Keelvol ·

Dis nou lekker vertraag. So, dan moet elke ouer aangekla word, wat n baseball bat, krieket bat en kolfstok vir hulle kinders gekoop het en so ook n kar wanneer so n kind iemand se dood veroorsaak.

Keelvol ·

Ag Stephen hoe kan ouers vir hulle kinders se optrede verantwoordelik gehou? Kan jy as pa vir jou seun se kriminele optrede verantwoording doen wanneer hy n vrou verkrag? Kan jy as pa verantwoordelik gehou word wanneer jou kind iemand dood ry? Jy moet regtig jou sieninge hersien.

nikkel ·

Baie tragiea.
Onverantwoordelike ouers.
Wanaangepasde kind met probleme waaraan daar nie aandag gegee was nie.
Was die kind dalk geboelie?
Ek dink nie iemand staan eendag op en gaan skiet ander mense dood nie.
Dit het ‘n aanloop.
Sal maar wag en kyk wat presies aanleiding gegee het tot die skietery.

Keelvol ·

Hoe was die ouers onverantwoordelik? Ek weet van ouers in die einste land wat agter hulle kinders skuil deur om te land te verlaat.

Winnie ·

Dit is die gevolg as die “arme bloedjies” nie getug mag word nie want hulle het mos regte

Pieter ·

Is al oplossing wat ons bloeddorstige volk ken. Rand aan, dan is als mos reg.

pompies ·

Die kind het vir hulp gevra deur n briefie in sy klas te los die skool het sy ouers ingeroep maar dit klink soos n ma wat net vir haar seun geskerm het en n afwesige pa, nou ja dan kan sulke dinge gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.