‘Oulikste hondjie ter wêreld’ sterf

Buddy en Boo (regs) was onafskeidbaar. Foto: Facebook

Die wêreld se oulikste hondjie is hondehemel toe.

Boo, ʼn pommerhond wat op ʼn keer as die wêreld se oulikste hondjie beskryf is, se eienaar het die hartseer tyding Vrydagaand in die sosiale media gedeel: “Met diepe leedwese maak ek bekend dat Boo vroeg vanoggend in sy slaap dood is en ons verlaat het om hom aan te sluit by sy beste maat, Buddy.”

Die fraai hondjie was ʼn treffer in die sosiale media en het gereeld saam met bekendes uitgehang, ontmoetingsessies met aanhangers bygewoon en eindelik meer as 16 miljoen aanhangers op Facebook gehad, berig TMZ.

Boo se boetie Buddy is in 2017 oorlede. “Kort daarna het Boo tekens van hartprobleme begin toon,” skryf sy eienaar. “Ons dink sy hartjie het letterlik gebreek toe Buddy ons verlaat het.”

Tog het die pommerhondjie nog ʼn jaar uitgehou. “Maar dit lyk asof dit sy tyd was en ek is seker dit was ʼn uiters vreugdevolle oomblik toe die tweetjies mekaar weer in die hemel ontmoet.”

Die skattige brakkie was 12 jaar oud.

wednesday video of us doing nothing else but smiling. the greatest trick of all!

Posted by Boo on Wednesday, July 30, 2014

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Andrea ·

Pragtige diertjie . Amper so mooi soos myne . Ek hoop diere gaan hemeltoe. Ek wil nie n ewigheid sonder my dierevriende beleef nie. Rus sag ou wollie-hond. ?

Snuffels ·

Ek stem Andrea. Ons moes ons liefling hond onlangs onverwags laat uitsit. Ek kan nie verby die veearts se hondehospitaal ry sonder om te huil nie. My hart is ook gebreek!

kolla ·

hb – Stem saam. Dit het my ook opgeval. Ek is lief vir diere maar hulle moenie verpersoonlik word nie. ‘n Dier vrek of gaan dood.

Helene ·

Ek is ‘n groot diereliefhebber! Buddy en Boo , Rus sag. Party van die kommentaar maak my siek, geen wonder die wêreld is in ‘n gemors nie.

Gert ·

Ag asseblief, moenie eenvoudig en belaglik wees nie. Hê respek vir mense wat diere kan repekteer en mooi behandel. My vier Koningkinners gee my meer plesier as wat die meeste kinders hul ouers gee.

Woef ·

hb, jy sou seker gesê het “gevrek.” Kry vir jou ‘n liewe diertjie en dan voel jy hoe jou hart sag word.

hb ·

Ek het oulike honde en eks mal oor hulle maar diere gaan dood of vrek ja as jy dit so wil noem.. skrik wakker

Oop oge ·

Diere vrek en mense sterf…in engels alby “dies”. Daar bestaan nie n ding soos n honde hemel of enige hemel nie…dis onbybels. n Mens het n siel en geen dier het n siel nie. Mense maak afgode van diere, net soos wat hulle geglo het Baal sou hulle red. Dit is n uiteste jammerte dat christene nie deur hulle “leiers” reggehelp word nie.

Katerina ·

Vir my is hierdie tipe honde nie so oulik nie, gee my liewer n baba Rottweilertjie, Daar is nou vir jou oulik. Maar smaak verskil. Dis baie hartverskeurend as n geliefde dier sterf. Ek het 2 jong wyfie Rotties wat albei aan Parvo virus gesterf het. Dis nou al n paar jaar gelede en ek sal Nooit oor hul kom nie. Nooit.

Gemaskerde Sopbeen ·

Iemand het onlangs my rifrug teef vergiftig. Nodeloos om te sê het ek haar in ‘n kombers toegedraai en vee-arts toe gejaag…..Hulle het haar ondersoek en gesê hulle gaan haar ‘n “drip” gee en pille om op te gooi….ek moet solank die “deposito” betaal, wat ek onmiddelik gedoen het. En daardie deposito? Jip. R2 000,00. Later die dag ontvang ek ‘n telefoon oproep wat my inlig dat ons hond dit nie gemaak het nie….die gif was alreeds te diep in haar sisteem versprei, en sy het gevrek. En toe kry ek die volgende: U uitstaande rekening is NOG R660,00!! R2 660,00 vir ‘n drip en paar pille…en GEEN sukses nie? Ek kon vir R2 660,00 ‘n nuwe hond gekoop het….

Boet ·

Diere vrek daar nie honde of diere in die hemel hulle het nie siele nie. So berus jou maar by honde hemel wat daar ook nie is

A ·

Jôh. Honde lewe, hulle het asem en beslis siele. Hulle gee jou baie meer liefde as enige mens vir jou gee. Hulle liefde is onvoorwaardelik … of gaan jy daarmee met my verskil?

kolla ·

Ha, ha. Hierdie honde wat “oorlede” is, het ook seker nie bekke gehad nie maar monde.

Gert ·

Inderdaad, Kolla, ek dink jou kommentaar is pateties en dit stink bitter vrot!!

Sielsgenoot ·

Met ander woord die Bybel is verkeerd? “Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin ‘n lewende siel is, gee Ek al die groen plante as voedsel. En dit was so.” Gen. 1:30 (1953-vertaling)

Dries du Toit ·

Die wereld is aan die brand. Die duiwel is los. Mense versleg by die dag. Als gaan agteruit en dan stry julle oor of n hond vrek of doodgaan. Honde is heilige wesens wat meer mense gelukkig maak as wat die mens homself gelukkig kan maak. VREK is n lelike woord. Ek verkies ook oorlede of doodgaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.