‘Outback Wrangler’ help nou ook om krokodil te bevry

Matt Wright (Foto; Matt Wright/Facebook)

Matt Wright, aanbieder van National Geographic se reeks Outback Wrangler, is tans in Indonesië om ʼn krokodil te help wat al jare lank ʼn motorfietsband om sy nek het.

ʼn Kompetisie wat van stapel gestuur is om die publiek se hulp te bekom, is vroeër vandeesmaand opgeskort ná geen vrywilligers na vore getree het nie.

Wright het Maandag in Palu in Sulawesi aangekom op uitnodiging van die plaaslike natuurbewaringsagentskap en het ʼn lokval gebou om die krokodil te vang. Hy het Saterdag op sy Instagram-rekening gesê hulle was nog steeds nie in staat om die krokodil te vang om hom te help nie.

Wright het bygevoeg hy hou al die krokodil die afgelope 18 maande lank dop en het probeer om die beste geleentheid te kry om na Sulawesi te reis om die 4 meter lange krokodil te vang. Sy kontakte in Indonesië het onlangse foto’s van die krokodil met hom gedeel waar dit lyk of die band stywer as ooit te vore om sy nek is en dit wil voorkom of die krokodil sukkel om asem te haal. Hy het toe dringend planne beraam om na Indonesië te reis.

Die krokodil is vir die eerste keer in 2016 in ʼn rivier in Palu opgemerk met die motorfietsband om sy nek. Natuurbewaringsbeamptes is besorg dat die krokodil sal verwurg soos wat hy groter word. Plaaslike owerhede bereken daar is sowat 36 krokodille in die omgewing.

Die Australiër Chris Wilson, wat ook met krokodille werk, het Wright vergesel. Hasmuni Hasmar, hoof van die natuurbewaringsagentskap, het gesê Wilson is ook besig met opleiding van die plaaslike spesialisspan.

Vorige pogings deur lede van ʼn natuurbewaringsgroep en selfs ʼn “dierefluisteraar” was onsuksesvol.

Wright het bevestig hy kan nog ʼn paar dae lank in die gebied bly in ʼn poging om die krokodil te vang, maar hy sal daarna moet terugkeer na Australië. “Dan sal ek elke paar maande ʼn draai kom maak om te kyk of ons hom kan vang.”

‘n GoFundMe-rekening is ook intussen opgestel om die plaaslike natuurbewaringspan by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SonderSkaamte ·

Die ou wil die krok red en Suid Afrika maak hulle eerder dood oor die mense weet daar is krokedille in die water maar nee kom ons gaan loop langs die rivier sodat hulle my kan byt en my pa my hulle doodmaak.

Ann ·

Ek is bly dat iemand na vore gekom het om te probeer help. Dis ñ gevaarlike werk en ek hoop die dier sal kan gehelp word.
Hoe sal jy voel met ñ band om jou nek wat jou jaar na jaar wurg? Ouch.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.