Outistiese man sterf toe hy ‘wou gaan swem’

Luke Renner. Foto: Facebook

Die naasbestaandes van ʼn man met outisme wat op ʼn toerskip as vermis aangemeld is, vermoed hy het gedink hy gaan swem toe hy oorboord gespring het.

Luke Renner (22), van Johns Creek in die Amerikaanse deelstaat Georgia, is Sondagaand laas op die toerskip Carnival Fantasy van die Carnival-redery gesien, berig die Miami Herald.

Renner was op reis saam met nog agt lede van die stigting Wishes4Me op ʼn vyf dag lange vaart op die skip vanaf die stad Mobile in Alabama toe sy reisgenote hom as vermis aangemeld het. Drie oppassers het saam met die groep gereis.

Bemanningslede van die skip het eers gesê hulle kon nie beeldmateriaal van Renners op die skip se veiligheidskamera-opnames kry nie. Die owerheid in Mexiko het die skip, wat tot 2 675 passasiers kan akkommodeer, Maandag deursoek terwyl dit voor anker gelê het. Daarna het die Carnival Fantasy sy gewone roete hervat.

Die redery het Woensdag bevestig dat Renner op die reëling op die dek geklim en van die skip afgespring het. Sy familie sê in ʼn verklaring hulle vermoed hy het gemeen hy kon gaan swem.

Hulle neem nou aan dat hy verdrink het, maar het gesê hulle verkwalik nie die stigting wat die pretvaart gereël het nie.

“Almal by Carnival is baie hartseer en ons dra die gas se familie en vriende in ons gebede op,” sê die redery in ʼn verklaring. “Ons sorgspan bied bystand aan die familie en sy reisgenote.”

Volgens hulle het Renner se naasbestaandes gevra dat die media hul privaatheid respekteer, berig Newsweek. “Ons gaan nie nog inligting bekend maak nie en vra dat die media die familie se versoek sal respekteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.