Owerhede slaan toe op misdaadsindikate

Die FBI het ʼn geënkripteerde selfoonmaatskappy genaamd ANOM op die been gebring. (Foto: Nicolas Thomas/Unsplash)

Polisiebeamptes het Dinsdag meer as 800 mense wêreldwyd in hegtenis geneem nadat die FBI geënkripteerde selfone op georganiseerde misdaadsindikate geplant het.

Beamptes in 16 lande kon die boodskappe van onder meer vermeende Mafia-groepe, Asiatiese misdaadsindikate, motorfietsbendes en ander georganiseerde misdaadsindikate wêreldwyd lees en hoor, asook dophou hoe hulle dwelms en wapens verkoop en glo verskeie sluipmoorde beplan.

Die inhegtenisneming van sleutelrolspelers in die vermeende sindikate het volgens die owerhede sowat 100 moorde voorkom, verskeie grootskaalse dwelmbesendings gestuit en tot die beslaglegging op talle wapens en kontant gelei.

Meer as 700 geboue is deursoek om die vermeende misdadigers vas te trek en die owerhede het in die geheel beslag gelê op meer as agt ton kokaïen, 22 ton dagga, twee ton metamfetamien, sowel as 250 vuurwapens, 55 luukse motors en meer as €39 miljoen (sowat R643 miljoen) in kontant.

“Die resultate wat die selfone gelewer het, is verbysterend,” het Calvin Shivers, assistent-direkteur van die FBI, gesê.

Die projek om selfone te plant is gesamentlik deur die Australiese polisie en die FBI beplan.

Volgens Shivers het die FBI die afgelope 18 maande agente in vermeende misdaadsindikate in meer as 100 lande van sowat 12 000 toestelle voorsien wat die owerhede in staat gestel het om die vermeende boosdoeners se kommunikasie te monitor.

“Die inligting wat die afgelope week ontvang is, het daartoe gelei dat owerhede in Nieu-Seeland, Australië, Europa en die VSA grootskaalse inhegtenisnemings kon doen met indrukwekkende resultate,” het Jean-Philippe Lecouffe, adjunkdirekteur van die Europese Unie se wetstoepassingsagentskap Europol, gesê.

Kwaai hou vir sindikate

Volgens die eerste minister van Australië, Scott Morrision, was die geïntegreerde veldtog ʼn kwaai hou vir sindikate.

“Wat die FBI en ander owerhede reggekry het, sal weerklink binne georganiseerde misdaadsindikate wêreldwyd.”

Planne om misdaadsindikate met selfone te infiltreer het begin nadat twee groot maatskappye, Encrochat en SkyGlobal, wat geënkripteerde selfone aan misdadigers verskaf het, deur owerhede toegemaak is.

“Nadat die maatskappye hul deure gesluit het, was daar ʼn groot leemte in die geënkripteerde kommunikasiemark. Om die leemte te vul het die FBI sy eie maatskappy vir sulke toestelle genaamd ANOM begin,” het die Nieu-Seelandse polisie gesê.

Dié maatskappy het die FBI in staat gestel om die oorhand te kry.

“Ons het toegang gehad tot honderde foto’s van kokaïen wat in vrugte of geblikte goedere versteek is,” het Shivers gesê.

“Misdadigers het aangeneem dat die diens veilig is om te gebruik en het die woord onder mekaar versprei dat dit dié maatskappy is om te gebruik omdat dit 100% betroubaar is. Hulle kon nie meer verkeerd gewees het nie,” het die Nederlandse polisie in ʼn verklaring gesê.

Danksy die grootskaalse operasie het Swede sowat 155 verdagtes in hegtenis geneem, Duitsland 70, Nederland 49 en Nieu-Seeland 35. Volgens polisie in Australië is meer as 200 misdadigers wat in dié land in hegtenis geneem is, reeds aangekla.

Die meeste van die 27 miljoen ANOM-boodskappe wat onderskep is, was in Nederlands, Duits en Sweeds.

‘Sindikate het na ons toe gekom’

Volgens hofstukke het die FBI met kenners saamgewerk om die ANOM-toestelle deur die Phantom Secure-netwerk van bestaande vermeende misdadigers te ontwikkel en te versprei. Sowat 50 selfone is in Australië afgelaai om die stelsel te toets.

Die selfone het glo geen e-pos-, oproep- of opsporingsfasiliteite gehad nie en kon slegs boodskappe na ander ANOM-selfone stuur.

Die selfone was eksklusief op die swartmark beskikbaar teen ongeveer $2 000 (sowat R27 000) per foon en gebruikers kon slegs toegang tot die fone deur die kode van ʼn bestaande gebruiker verkry.

“Ons het nie net die selfone uitgedeel nie, sindikate het na ons toe gekom om die toestelle in die hande te kry,” het Shivers gesê.

Australiese intelligensieagentskappe het egter misdadigers gehelp om die selfone in die hande te kry deur die fone in die besit te plaas van sleutelmense – onder wie ʼn vermeende dwelmbaas wat in Turkye geskuil het – in ʼn poging om sindikate se vertroue te wen.

Die FBI se wêreldwye operasie het in Maart vanjaar byna op die lappe gekom toe ʼn blogger veiligheidsfoute in ANOM uitgewys het en beweer het dat dit ʼn bedrogspul is wat gekoppel is aan Australië, die VSA en ander lande.

Die plasing is egter later verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Aai ·

Slim gee vir die ANC eerste hulle fone die res sal van self kom.

Elize ·

Ons regering sal dit nie toelaat nie want dan is hulle doppie geklink

Vonkprop ·

Die ANC sal seker weer jare vat om te kyk wie moet die RICA tender kry so sal glad nie by ons werk nie.

Jasmyn ·

Ek sal deel wees van so projek. Hoe begin ons dit? Wie gaan my join?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.