Pa hou dogter as seksslaaf aan; verwek 8 kinders  

Argieffoto

ʼn 56-jarige Argentynse man word daarvan beskuldig dat hy sy biologiese dogter vir langer as twee dekades as seksslaaf in sy huis in die noorde van dié land aangehou en agt kinders by haar verwek het.

ʼn Argentynse hooggeregshof het Woensdag gehoor dat dié man sy dogter reeds 22 jaar gelede, toe sy 15 jaar oud was, begin verkrag het.

Die man is sedert Januarie verlede jaar in polisie-aanhouding, maar sy verhoor het eers vandeesweek begin nadat genoeg bewyse ingesamel is. Hy is in hegtenis geneem toe een van die kinders siek geraak het en die ma hom na ʼn dokter geneem het.

Volgens mediese personeel het die seuntjie, die jongste van die agt kinders, aan wanvoeding gely en was sy tande so te sê heeltemal vrot. Toe ʼn dokter haar vra wie die kind se pa is, het sy glo in trane uitgebars en gesê dat dit haar pa is. Die man het vir die polisie gevlug, maar is ná ʼn soektog van 45 dae in hegtenis geneem.

ʼn Staatsaanklaer het vandeesweek aan die Argentynse El Liberal-webwerf gesê DNS-toetse het finaal bevestig dat die man die pa van al agt die kinders is.

Die man sal sy lot binne die volgende paar weke aanhoor. Volgens die Argentynse media is ses van die agt kinders in ʼn kosskool in Santiago del Estero in die noorde van Argentinië. Twee van die ander kinders woon by familie.

Bronne verskil oor wat met die vrou se ma gebeur het. Verskeie mediaberigte noem dat die vrou se ma glo van haar man gevlug en haar agtergelaat het nadat die pa haar glo mishandel het. Volgens ander berigte is sy op ʼn jong ouderdom dood.

Dié voorval is soortgelyk aan die sogenaamde Josef Fritzl-skokvoorval in 2008. Fritzl, ʼn Oostenryker, het sy dogter vir 24 jaar in sy gastehuis gevange gehou en sewe kinders by haar verwek. Die polisie het hom in hegtenis geneem nadat een van haar kinders in ʼn koma verval het en sy ʼn hospitaalbesoek wou aflê.

Fritzl is daaraan skuldig bevind dat hy haar meer as 3 000 keer verkrag het.

Bron: Mirror

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

LM ·

Hoe het sy dan geboorte gegee sonder mediese hulp? Iets klink nie reg nie.

Spook ·

Ek het al gehoor van gevalle waar die vrou maar dood eenvoudig bu die huis moet geboorte gee, die is n siek man en ek sal dit nie verby hom vat nie. Ons is dan immers gebou daarvoor LM en in nood sal n vrou dit kan doen. Ongeag dit is vreeslik hartseer. Ek wil noe meer n mens wees nie

Helen ·

Natuurlik kan jy geboorte gee sonder om ooit mediese behandeling te kry? Waar val jy uit?

Sê maar net ·

‘n Vrou se liggaam is geskape sodat sy kan geboorte gee. Die mediese hulp maak dit net vir mamma en baba veiliger. Minder geboorte sterftes. Maar JA dit is verseker moontlik. My hart gaan uit na hierdie meisiekind (wat vandag ‘n vrou is) en vir haar kinders. Geen kind verdien so ‘n pa nie.

maria ·

Fritzl het sy dogter in ‘n ondergrondse kelder (met kluisdeur)aangehou- nie in ‘n gastehuis nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.