Pa rig pleidooi ná dogter glo lewe neem weens boeliery

Amy “Dolly” Everett (Foto: Facebook)

Die pa van ʼn 14-jarige meisie van Australië wat haar eie lewe geneem nadat sy glo herhaaldelik aanlyn geboelie is, het vandeesweek ʼn roerende pleidooi aan boelies wêreldwyd gerig.

Amy “Dolly” Everett, ʼn hoërskoolmeisie wat as kleuter bekend was as die gesig van die Australiese hoedvervaardiger Akubra, is volgens berigte Saterdag oorlede. Die familie wou tot in dié stadium nog nie meer inligting oor haar selfmoord bekend maak nie.

Tick, Amy se pa, het ʼn verklaring aan die media uitgereik waarin die familie sê haar afsterwe laat ʼn groot leemte agter. Volgens hom was Dolly “konstant geteister en geboelie”.

“Sy was die gaafste mensie met die mooiste siel. As ons deur Dolly se selfmoord ander mense kan help wat ook verlore is of seer het, sal haar lewe nie verniet gewees het nie. Ek weet dat sommige mense selfmoord as lafhartig beskou, maar ek waarborg daardie mense dat nie een van hulle die helfte van die innerlike krag het wat my klein engel gehad het nie.

“Dolly het gedoen wat sy gedink het nodig is om die boosheid in hierdie wêreld te ontsnap. Sy sal egter nooit weet watter intense hartseer en leemte sy agterlaat nie,” het hy in ʼn verklaring op Facebook geskryf.

Dolly het glo kort voor haar afsterwe ʼn prent geteken met die woorde: “Praat selfs al bewe jou stem.” Haar familie het gesê dié prent getuig van die “donker, angswekkende plek” waar sy in haar lewe was.

Akubra het intussen ook reageer en Dolly se selfmoord as tragies bestempel. “Boeliery in enige vorm is onaanvaarbaar. Dit is ons verantwoordelikheid om op te staan wanneer ons sien dat iemand geboelie word – Dolly kon enigiemand se dogter, suster of vriendin gewees het.”

Volgens die Australiese National Centre Against Bullying (NCAB) het aanlyn boeliegedrag die afgelope paar jaar skerp toegeneem. Volgens statistieke van dié organisasie word een in elke vyf kinders in Australië geboelie.

Die Everett-gesin het intussen aangedui dat hulle beoog om ʼn trust te stig wat ingespan gaan word om boeliery hok te slaan.

Bron: BBC

Amy “Dolly” Everett as die gesig van die Australiese hoedvervaardiger Akubra (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

HPV ·

Hoeveel kinders moet nog sterf, beseer of aangerand word voor boelies as abnormale mense geklasifiseer word? Ouers met kinders wat slagoffers van boelies is behoort ‘n kriminele klag teen die boelie by die polisie in te dien. Dit mag gedoen word.

Hans ·

Dit is iets wat hier in SA ook plaasvind. Ek kan my nie indink wat die kinders van vandag moet verduur nie, veral oor die tegnologie, sms, watsup, twitter, facebook ens. dit is nou nog makliker om te boelie. In my dae was boelie fisiek gewees nie die mind games wat vandag gespeel word nie. Almal wil deel in alles, dan kry die klomp snops wat dink hulle is gods gift to human kind omdat hul ouers hoe poste of baie geld ens het. Dit is waar wat die pa sê dat baie dink selfmoord is lafhartig, ek dink nie so nie. Dit moet regtig baie vat van n persoon om selfmoord te pleeg. As mens net al daai enrgie en brein kapasieteit kan vat en in iets positiefs sit sal dit n groot sukses wees. Dit is veel groter van n uitvoring as om jou voor te berei vir die grootse sport soort wat mens ookal beoefen. Die vraag wat ek het is hoekom sy nie gepraat het nie? Daar kan baie antwoorde of gedagtes wees hoekom nie, tog sal net sy alleen weet. So jammer vir al die ouers en vriende wat al iemand an die dood af gestaan het oor boelie.

Anke ·

My dogter is vanaf Laerskool regdeur Hoërskool deur `n meisie geboelie….dit was verskriklik.
Die boelie se mamma het haar voorgesê wat om te doen en soos hulle ouer geword het was dit
erger. Vandag is my dogter `n 2de jaar student wat baie goed doen en die boelie sit by die
huis . Daar moet regtig baie streng met boelies opgetree word.

A ·

Ek stem. Hierdie boelies pleeg eintlik moord. Hulle moet vervolg word.

Nessa ·

Ouers moet verantwoorlik en vasgevat word vir hulle kinders se ge boelie dis skandelik onmenslik ………. hulle moet hof toe

Adamsrib ·

Ek wens daar kon n wet wees teen ” boelie” self in die Huwelik ook!!!
Wat my bitter onstel en diep raak is mense wat ander manipuleer of beheer of afkraak of snottie negatiewe afbrekende aanmerkings maak . . . selfs in n huwelik.
Hierdie ” boelie ” mentaliteit MOET gestop word en daar moet n duidelike waarskuwing wees teen hierdie mense en dit moet vrek maklik wees om hierdie misdaad aan te meld met nodige beskerming EN VERSEKERING aan die klaer !!!

Ekke ·

Jy is in die kol met jou verwysing na n geboelie in die huwelik ook. Ek beleef dit elke dag. Boelie is nie net slaan nie. Woorde maak dieper seer !!

Lizette ·

Skei. Hoekom dit verduur? Jou menswaardigheid word vernietig. Doen nou iets daaraan want binnekort is dit te laat en gaan jy die duur prys op sielsvlak betaal.

ELSA ·

Dit is absoluut tragies en die boelies kom NIKS oor nie. BAIE keer is die onderwysers en skoolhoofde bewus van die boeliery by skole maar was hulle hande in onskuld. Ja ek verstaan onderwysers kan niks aan aanlyn boeliery doen nie, maar dit brei uit na die skole en oral waar die kinders hulle bevind, self by uitgaanplekke, restaurante wat die kinders so deur boelies geteister word dat hulle later nerens meer wil kom nie. DIE BOELIES SAL NIKS OORKOM NIE< julle kan hoeveel seminare hou, julle kan hoeveel dinge in plek sit daar sal ALTYD boelies wees en oral in die wereld word boeliery as 'n klein oortreding gesien. AL wat jy as ouer kan doen is om jou KIND STERK te maak daarteen. Dit verg baie harde werk en daar is sensitiewer kinders as ander, so hulle verg nog meer aandag en ondersteuning . .. Jy moet ALLES doen om jou kind sterk te maak, die Owerhede sal nooit optree teenoor hierdie mense nie. Kyk maar na die aanvalle op skole deur kinders wat geboelie is, dit RAAK NET TE VEEL, en of hulle pleeg selfmoord of moord .. DAAR het nog GEEN verbetering gekom nie.. boelies word met sagte handskoentjies hanteer.

Priscilla ·

Onderwysers wat bewus is van die gedrag sê dis die kind wat geboelie word se skuld want hy soek daarvoor. Rêrig?? Die boelies het groter sielkundige probleme en hulle moet vasgevat word.

Blaam ·

Kort gedagte: ekself sit met ‘n 14-jarige dogter. Verbale boelie aanlyn en sommer direk by skool is aan die orde van die dag. In my geval hanteer en probeer ek dit verklaar aan haar as die ‘hoogste bome’. Maar helaas, dit neem nie die seer weg nie. My opsomming is dat baie ouers ‘n groter rol speel in hulle kinders se boeliegedrag as wat hulle dink. Jaloesie op ander kinders se beter prestasie of gewildheid of iets soortgelyks, lei tot die ouers wat saam skinder oor dié betrokke kinders (en soms ook oor hulle ouers). Dus maak die bloedjies maar nes hulle ouers in baie gevalle. Dikwels net meer brutaal. Die ouers moet dus, myns insiens, ook vervolg word.

Ena geelheksie ·

Dis uiters hartseer om te dink die lewe van n ander is in die hande van n boelie…Maak dit hulle sterk…gee dit hulle mag om n ander af te breek en te vertrap?
Wonder maar net wat in hul huise en opbrengs aangaan om dit aan n ander weerlose persoon te doen. Dis waar abuse teenoor dier en mens sy oorsprong kry.
Ag kleine mensie….mag jy waar jy jou ook al nou bevind vry wees lewe soos die Here dit wou he.
Wens ek kon jou teen my druk en troos.
Ek verfoei sulke gedrag…van kindrs en grootmense.
Your Dolly was a little lady to be proud of.
My deepste condolences.

Jacobus ·

Daar was ‘n geval so 2-4jaar gelede in Amerika waar boelies vervolg was vir die selfmoord van ‘n tienermeisie.

Hulle was van moord aangekla en as my geheue my nie in die steek laat; skuldig bevind en tot lang tronkstraf gevonnis.

Verder stel ek voor dat die boelies se families ook geteiken moet word as die boelie(s) skuldig bevind word.

Die hof kan beveel dat daar ‘n groot bord voor die boelie se huis moet staan wat aandui wat het gebeur en die vonnis asook watter finansiele skadevergoeding wat betaal moes word.

As die boelie se familie trek , al is die boelie dalk in die tronk/nie in die tronk, trek die bord saam asook moet die hele familie en die boelie op ‘n databasis gesit word soortgelyk aan die van kindermolesteerders om die gemeenskap in te lig wie woon in hulle buurt; of om die inwoners te laat besluit of hulle die boelie en sy/haar familie in hulle buurt wil hê.

Skole/universiteite ens. moet ook kan besluit of die boelie welkom is in hulle inrigtings.

Ouers sal dan twee keer dink en seker maak hulle kinders is nie boelies nie, want hulle gaan dan “geboelie” word omdat hulle nie aandag aan hulle kinders se gedrag gee nie.

Ek weet daar is mense (liberale) wat nie gaan saamstem nie, maar ek glo dit is al wat gaan help om die gedrag te verbeter.

Internetboelie ·

As ‘n persoon, wat aktief deel is van verskeie internetboelie groepe, wil ek graag ‘n ander perspektief gee aan die saak. Internetboelies is deel van die internet, enige persoon wat dink dit kan verander maak ‘n gevaarlike fout.
Die verantwoordelikheid lê op die ouers en gemeenskap om aan kinders en jong volwassenes ‘n lewe buite die virtuele te gee waarin hulle kan gedy.
Dus gee aan jou kinders die dié van jou vriende en familie ‘n omgewing sodat hulle in veiligheid die rekenaar kan afsit, dit sal hulle lewens behou en verbeter.

KEKSIMUS MAKSIMUS

ChrisE ·

Dit is uiters tragies van die meisie. Ek is op skool ook “erg geboelie” . Dit kom in verkeie vorme voor. In my geval is ek ‘n bymaam gegee wat eintlik ‘n renons tot my mede skoliere tot gevolg gehad het. Ek het my “toevlug” in ‘n verhouding/kys geneem en is in ‘n mate teen die aanslae van die ergste geboelie bekerm. Groot fout. In die kys/verhouding is ek net so erg geboelie. Dit is wreed. Die bynaam kleef vandag nog. Ek het onlangs ‘n oud “skoolvriend” van wie ek vir lank nie mee geskakel het nie een dag gebel. Toe hy hoor wie dit is vra hy of dit ek is, en noem die bynaam. Ek het die foon summier afgeskakel. Ek kan met alle eerlikheid sê dat ek niemand in my lewe al geboelie het nie. Ek beskou die boelie as ‘n swakkeling met ‘n minderwaardigheidskompleks wat sy/haar rekortkomings op iemand anders projekteer. Ek blameer die ouers van sulke kinders.

Andrew ·

Dit is tragies dat hierdie dinge plaasvind. Baie kinders gebruik die relatiewe anonimiteit van tegnologie om ander te teister, soms met hierdie tipe tragiese gevolge. Meer dikwels word kinders gelaat met lewenslange sielkundige letsels.

Ek het in die verlede sukses behaal teen boelies en hul ouers deur die Wet op die Voorkoming van Teistering. Ek versoek ouers wie se kinders geboelie word om ‘n beskermingsbevel te bekom. Dien dit op die ouers en die skool en sorg dat jou kind veilig is.

‘n Beskermingsbevel kan by die Gesinshof bekom word.

Inge ·

Dit is hartverskeurend! My seun word ook geboelie, ek is so bang daarvoor dat hy dalk eendag ook sy eie lewe neem. Ek sal dit nie maak nie! Ek probeer hom sterk grootmaak en wys vir hom dat ek lief is vir hom en dat hy iets beteken. Ek het self daardeur gegaan op skool, maar ek het ‘n sterk persoonlikheid en kon sulke goed hanteer. As hierdie liewe kinders maar net weet hoe onbenullig hierdie goed is en dan wanneer hulle uit die skool is, hoe alles verander. As die boelies net weet wat hulle aan hierdie kinders doen, ek wonder regtig hoekom sekere kinders boelie?

Draadjie ·

Dit is so hartseer. Almal basuin dit vandag uit dat hulle regte het maar niemand het meer respek en basiese goeie maniere nie.

Selfde probleem ·

As jy by die skole kla jou kind word geboellie dan word daar niks gedoen nie dis him dit so gaan ek is ñ mamma van 4dogters my oudste jou 12 maar ons bly in ñ klein dorpie en as jy nie deel is van die dorpie sê kliek span en baie geld het en jou kinders name brand skoenne en klere dra nie dan pas hulle nie in nie alles gaan oor geld vir kinders my kinders Sal nie ñ vlieg eers skade doen nie hulle het Maniere en is op hulle plek maar geboellie Sal hulle geboellie word ñ kind is darem maar erg regtug en hulle leer dit by die ouers om ander sleg tesê en gebreek my kind het dae om gehuil in die badkammers by die skool ek kry die ouers vreeslik jammer ek weet hoe hulpeloos voel mens

Hanlie ·

Die grootste geskenk wat ons, ons kinders kan gee is om hulle te bemagtig en ‘n veilige hawe te gee. Ons moet ons kinders leer hoe om boelie te oorkom. Ons as ouers moet altyd ‘n oop deur hê sodat ons kinders kan kom praat. Die hartseer realiteit is dat 90% van boelies kinders en volwassenes is wat self ‘n swak selfbeeld het en voel hulle moet ander afkraak om self beter te voel.

Valerie ·

Maar die Facebooks, ens. voel vere . . . is net gulsig agter nog meer geld aan. En die ouers luister nie almal as hul kinders kla nie, en koop maar vinnig die nuutse foon, ens.

Met my dogter wat geboelie was, het ek dadelik in die hoof se kantoor ingestap sonder ‘n afspraak, die boelies se name genoem en gesê dit stop vandag. Hy het dadelik die kinders ingeroep en die ouers gekontak en die volgende dag is my dogter om verskoning gevra en dit het gestop. Nie almal is so gelukkig, maar ek glo ‘n mens moet praat en ‘n ander moet luister en iets doen.

DESMARI ·

Leer jou kind om met jou te praat. My dogter is in graad 9 so geboelie dat sy in haar dagboek geskryf het sy wil liewer doodgaan. Sy het die boek een aand in my hand gedruk en gesê: Mamma lees”. Na baie trane en ure se praat het ek die volgende dag onmiddellik die skoolhoof gekontak, al wou sy nie gehad het ek moet dit doen nie. Dit is onmiddellik aangespreek en het dieselfde dag gestop. Sy het nou 7 onderskeidings in matriek gehad en ek is nie vir een oomblik spyt dat ek onmiddellik opgetree het nie. Sy is nou ‘n sprankelende kind wat elke dag sê; “Dankie dat ek met mamma kan praat.” Leef naby jou kinders sodat hulle jou met hulle seer kan vertrou.

Valerie ·

Bly om dit te hoor. My meisie is ook vandag ‘n professionele persoon. Is jy nie nog steeds bly jy het iets gedoen nie?

Ratelvark ·

Ek glo vas, jy moenie wag tot jou kind geboelie word voor jy hom of haar daarop voorberei nie. Jou kind moet van kleuterskool dae af hierop voorberei word. As jy wag tot dit begin het jy jou kind in die steek gelaat. As jy vuil wasgoed was op sosiale media en jou huislike omstandighede bekendmaak op sosiale media en jou kind word gespot is dit jou skuld. As jy jou kind van baba tyd op ‘n “pedestal” sit en sy of hy kom in die skool en word geboelie is dit jou skuld. As jy jou kind ongesond groot maak en hulle word geboelie oor hul gewig is dit jou skuld. Boelies is daar, niemand kan dit wegvat nie. Maar of jou kind ‘n slagoffer gaan wees lê by die ouers. Daar was ‘n boelie in my seun se kleuterskool. Ek het my seun van 3jarige ouderdom af laat begin met Kickboxing. Een middag baie trots in my kar geklim en gesê X het hom weer probeer seer maak en hy het hom ‘n hou in sy maag gegee X het grond toe gesak en gehuil, laaste probleem met die boelie. Laat jou kind aktief aan sport deelneem (SAFTY IN NUMBERS) , help hom of haar om akademiese goed te doen en praat met hulle daaroor voor dit gebeur. Moenie dit jou kind in lala land grootword nie. Moenie vir boetie en sussie hulle sin gee nie want die maatjies by die skool gaan nie. Sterkte aan almal. Equipyourchild.

Adam ·

Was boelie nie maar nog altyd ‘n Afrikaanse “sport” nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.