Pa skiet kinders, toe homself in kerk

Polisiebeamptes buite die kerk in Sacramento, Kalifornië. (Foto: Max Whittaker/Getty Images/AFP)

ʼn Amerikaanse pa het Maandag drie van sy kinders in ’n kerk in Kalifornië doodgeskiet voordat hy die vuurwapen op homself gerig het.

Die skietery in Sacramento het ook die lewe van ’n vyfde persoon geëis. Daar word vermoed dat die persoon toesig gehou het gedurende ’n ontmoeting tussen die pa en die kinders.

Sers. Rod Grassmann van Sacramento County se sheriff-kantoor, sê polisiebeamptes is net ná 17:00 na die Kerk van Sacramento in die omgewing van Arden Arcade ontbied nadat ’n werker by die kerk geweerskote gehoor en 911 gebel het.

’n Pa en drie kinders, almal jonger as 15 jaar, is op die toneel met noodlottige skietwonde aangetref.

Scott James, sheriff van die Sacramento-distrik, sê die skieter was na bewering vervreem van die ma van sy kinders en dat die ma ’n beskermingsbevel teen die pa gehad het.

Ondersoekers glo die skietery het gebeur tydens ʼn besoek onder toesig met die kinders. Die vyfde slagoffer was na bewering die toesighouer tydens die ontmoeting.

Die skieter se identiteit is nog nie bekend gemaak nie.

Gavin Newsom, goewerneur van Kalifornië, het die moorde Dinsdag as “sinneloos” op sosiale media bestempel.

“Nog ʼn sinnelose daad van vuurwapengeweld in Amerika – hierdie keer in ons agterplaas. In ʼn kerk met kinders daarin.”

Bronne: AFP, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Janine ·

Dis tragies. Daai arme ma! Ek sal beslis van my kop af raak as so iets moet gebeur.

Kirst ·

Iemand (ek dink dit was in The Shack) het dit so verduidelik: Alle mense is kinders van God en God het ons almal ewe lief ten spyte van ons sondes en tekortkominge. As een van jou kinders iemand sou seermaak of vermoor; sal hy of sy dan ophou om jou kind te wees en jy ophou om lief te wees vir hom/haar?
Moordenaars bly God se kinders en Hy bly lief vir hulle. Hy is ook by magte om hulle te vergewe, daarom moet ons maar die oordeel aan Hom oorlaat.
Dit bly egter ‘n ongelooflike hartseer gebeurtenis vir ons wat nie die perspektief het om te verstaan waarom dit gebeur het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.