Paartjie dood gevind op passasierskip

Holland America se Ryndam-passasierskip.

Holland America se Ryndam-passasierskip.

ʼn Paartjie van Ohio, in die VSA is dood aangetref aan boord van ‘n passasierskip nadat dit in Puerto Rico vasgemeer het.

Die ongeïdentifiseerde man en vrou, albei in hul 50’s, is van Cleveland, het sers. Ricardo Cruz, polisiewoordvoerder, aan Associated Press gesê. Hul liggame is in ʼn kajuit van Holland America se Ryndam-passasierskip gevind.

Die vermoede bestaan dat een van hulle die ander een doodgeskiet en toe selfmoord gepleeg het. Die oorsaak van hul dood is nog nie bekend nie. Volgens Cruz het bemanningslede op die liggaame afgekom nadat die paartjie vir ʼn lang ruk nie gesien is nie.

Dit is ook nog nie duidelik wanneer die paartjie dood is nie. Die passasierskip het Sondag van Tampa, Florida, vertrek op ʼn bootrit van twee weke in die suidelike dele van die Karibiese Eilande. Die boot het Maandag in Key West anker gegooi en Donderdag weer in Old San Juan. Erik Elvejord, woordvoerder van Holland America, het gesê die maatskappy is “ontsettend hartseer” oor die tragiese gebeure.

Passasiers aan boord van die skip het gesê hulle was nie bewus van wat gebeur het nie. “Dit is ʼn skok vir my,” het Mark Moore, wat saam met sy vrou gereis het, gesê. Volgens Moore het bemanningslede ʼn gedeelte van die skip afgesper en ʼn laken in die gang gehang toe passasiers die skip verlaat het.

Die Ryndam sou laat Donderdag van Puerto Rico vertrek en Vrydag in St. Thomas aankom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.