Paassondag-bomaanvalle ‘was vergelding’

Foto: (AP Photo/Eranga Jayawardena)

Sri Lanka se minister van verdediging het gesê Sondag se dodelike bomaanvalle was vergelding vir verlede maand se skietvoorvalle by twee moskees in Nieu-Seeland.

Ruwan Wijewardene het Dinsdag die uitlating in die parlement gemaak, maar geen verduideliking gegee oor waar die inligting vandaan kom nie.

Hy het gesê die dodetal het intussen tot 321 mense gestyg met meer as 500 mense wat beseer is.

Die skietvoorvalle by twee moskees in Christchurch op 15 Maart het die lewe van 50 mense geëis. Brenton Harrison Tarrant, die vermeende skieter, staan tereg op 50 aanklagte van moord en 39 van poging tot moord.

Tarrant het glo in ʼn 74 bladsy lange anti-immigrantemanifes verduidelik wie hy is en die motief vir die aanval bekend gemaak. Hy het gesê hy is ʼn 28-jarige wit Australiër en ʼn rassis.

Die St. Sebastian’s-kerk in Negombo, noord van Colombo. Foto: (AP Photo/Chamila Karunarathne)

Intussen het dit ook aan die lig gekom dat Sri Lanka op 11 April ʼn wenk ontvang het oor moontlike aanvalle op kerke.

Priyalal Disanayaka, adjunkinspekteur van polisie, het ʼn brief aan vier direkteure van vier Sri Lankaanse veiligheidsagentskappe onderteken.

Hy het Mohammed Zaharan geïdentifiseer as die leier van die “National Thowheed Jamath” (NTJ) en gesê intelligensie dui daarop dat Zaharan se groep ʼn selfmoordbomaanval in die land beplan.

ʼn Buitelandse intelligensie-agentskap het glo ook die owerhede in Sri Lanka gewaarsku oor beplande aanvalle. Die waarskuwing het die land se eerste minister glo eers ná die aanvalle bereik.

Dit was nie onmiddellik duidelik of enige stappe ná die waarskuwing gedoen is nie. Minstens 40 mense is intussen reeds in hegtenis geneem in verband met die aanvalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dries du Toit ·

M.A.W.Dis nou vergelding op vergelding. So wat was eerste,die hoender of die eier.Wie get eerste met Boeings in hoë geboue vasgevlieg?

Fanie ·

Blykbaar was dit die VSA regering wat in die geboue vasgevlieg het? Maar ek is ook nie heeltemal seker nie.

Anoniem ·

Die mensdom is besig om heeltemal die kluts kwyt te raak HULLE MIS DIE PUNT VAN MENSWEES (Hoekom is ONS op die AARDE ???)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.