Paassondag-bomontploffings: Dodetal styg; nog talle vas

Foto: (AP Photo/Gemunu Amarasinghe)

Die dodetal ná Sondag se bomontploffings in Sri Lanka het tot 310 gestyg terwyl 40 verdagtes reeds in verband met die aanvalle in hegtenis geneem is.

Pres. Maithripala Sirisena het 23 April as ʼn nasionale dag van rou verklaar. Die president sal intussen met buitelandse diplomate vergader om internasionale bystand te versoek. Volgens intelligensie was “internasionale groepe” betrokke by die ontploffings by kerke en hotelle waarin meer as 500 mense beseer is.

Die Verenigde Nasies se veiligheidsraad het die bomaanvalle as “gruwelike en lafhartige terreuraanvalle” bestempel en gesê die oortreders moet verantwoordbaar gehou word. Die FBI lewer bystand in die ondersoek na die aanvalle.

Intussen word daar meer inligting bekend gemaak oor die mense wat hul lewe in die aanvalle verloor het. Sudesh Kolonne se vrou en enigste kind is in die aanval dood. Die gesin het in 2014 van Australië na Sri Lanka verhuis.

Die Amerikaanse departement van buitelandse sake het bevestig dat minstens vier Amerikaners in die aanvalle dood en talle beseer is. Sri Lanka se diplomatieke verteenwoordiger in Brittanje het intussen ook bevestig dat agt Britse burgers in die ontploffings gesterf het. Australië se eerste minister het gesê twee Australiese burgers is dood en nog twee beseer.

Foto: (AP Photo/Gemunu Amarasinghe)

Volgens berigte is twee Chinese burgers in die ontploffings dood, terwyl owerhede in Indië bevestig het dat vyf van dié land se burgers in die tragedie omgekom het. Minstens een Portugese burger en Japanse burgers is ook onder die oorledenes.

ʼn Britse man het bevestig sy vrou en twee kinders is in die aanvalle dood. Ben Nicholson het gesê sy vrou, Anita, en hul 14-jarige seun, Alex, en 11-jarige dogter, Annabel, is dood toe ʼn bom in die restaurant van die Shangri La-hotel in Colombo ontplof het. ʼn Spaanse man en vrou, albei in hul 30’s, is ook in die aanval dood.

Deense media het intussen berig drie kinders van ʼn Deense sakemagnaat, wat na bewering dié land se rykste man is, het in die ontploffings gesterf. Volgens TV2 was Anders Holch Povlsen (46) en sy vrou, Anne, saam met hul kinders in Sri Lanka met vakansie toe die ontploffings plaasgevind het. Talle mediakanale berig dat drie van Povlsen se vier kinders in die ontploffings dood is, maar die name van die kinders is nog nie bekend gemaak nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Melanie ·

Weet iemand of die Eerste Minister van NZ enigsins kommentaar gelewer oor hierdie tragedie?

Wildeboer ·

Sy is so irrelevant in die wêreld. Niemand gee om wie sy is en wat sy te sê het.

Rooi Jan ·

Ek moet se as 3 van my kinders op een slag vermoor word sal dit uiters moeilik wees vir my om nie alles in my vermoë te doen om diegene wat verantwoordelik was totaal uit te haal nie. Insluitende hulle kinders en kinders se kinders. Hierdie terroriste wil so graag n allesverterende oorlog begin, ek wonder of hulle verstaan dat as hulle eers daardie monster wakker gemaak het en hy is behoorlik kwaad gaan niemand hom stop nie.

Johan ·

Ja die bom aanvalle was op Paasmaandag maar is ons te polities korrek om dit uit te roep dat hierdie ‘n aanval was op Christene en Christen kerke

Boerboel ·

Dit is baie mense 310 sover, lafhartig, hoop die regering tree baie streng op,
Bom planters is lafaards onskuldige mense moet altyd die slagoffers wees van hulle dade.

HPV ·

Boeboel net soos die anc destyds slegs teen burgerlikes opgetree het, hulle was te lafhartig om teen ons veiligheidsmagte op te tree.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.