Paleis: Vete tussen Kate en Meghan ‘onsin’

Die hertog en hertogin van Cambridge kom glo glad nie oor die weg met die hertogin van Sussex nie.

Buckingham-paleis reageer nie aldag op skinderstories in poniekoerante nie, maar die paleis neem blykbaar gerugte oor ʼn vete tussen die hertoginne van Cambridge en Sussex so ernstig op dat hy ʼn verklaring uitgereik het om dit te ontken.

Berigte oor onenigheid tussen Kate en Meghan het onlangs verskyn nadat dit aan die lig gekom het Meghan en prins Harry gaan Kensington-paleis verlaat en hul intrek neem in Frogmore Cottage, wat ondanks sy naam danksy tien slaapkamers oorgenoeg ruimte vir ʼn groeiende gesin bied, berig The Telegraph.

Die “kothuis” is tans verdeel in vyf eenhede waarin lede van die koninklike personeel voorheen gewoon het, maar dit word opgeknap en omskep in ʼn ruim woning vir die koninklike paartjie met onder meer ʼn babakamer, ruimte vir ʼn gimnasium en joga-ateljee – as hulle een sou wou inrig – en ʼn tuin van 14 hektaar wat reeds in 1790 uitgelê is.

Die koningin was glo ook nie geamuseer deur die geskeide Meghan se aandrang op ʼn sluier nie.

Die afgelope maand is beweer koningin Elizabeth II, prins Harry se ouma, het verplig gevoel om met hom te praat oor sy aanstaande se houding in die aanloop tot hul troue verlede Mei ná ʼn onderonsie oor watter tiara sy sou dra.

Meghan, die hertogin van Sussex, het haar persoonlike assistent na bewering so sleg behandel dat dié in trane bedank het. Foto: Paul Edwards, AP

Die koningin was glo ook nie geamuseer deur Meghan se aandrang op ʼn sluier nie aangesien dit nie haar eerste huwelik was nie. Kensington-paleis het destyds geweier om kommentaar op die gerugte te lewer.

Intussen het The Daily Mail se koninklike medewerker, Rebecca English, die gerugte weerlê toe sy geskryf het die hertog en hertogin van Sussex trek bloot omdat hulle ruimte nodig het om met ʼn gesin te begin. Die 37-jarige gewese aktrise en haar 34-jarige man verwag hul eersteling in die Engelse lente.

Maar nadat die gerugte net nie wou bedaar nie, het Buckingham-paleis die seldsame stap gedoen om ʼn verklaring in reaksie op skinderstories uit te reik. Dit volg ná ʼn berig in Brittanje se groot poniekoerant, The Sun, waarin beweer word dis geen wonder dat die twee nie oor die weg kom nie omdat hul persoonlikhede hemelsbreed verskil.

Die paleis het glo ʼn heksejag begin om vas te stel wie storie aandra.

Na bewering het die spanning tussen Harry en Meghan en William en Kate reeds voor hul troue begin.

Die skinderkoerante het dit intussen verder gevoer deur te beweer die paleis het ʼn heksejag begin om vas te stel watter lid van die koninklike personeel stories oor die onenigheid tussen Meghan en Kate (36) na die koerant aandra.

Drie gerugte waarmee Brittanje se sensasiepers die afgelope tyd onder meer te koop loop is dat Meghan vir Kate in trane gehad het tydens die aanpassing van Kate se dogter, Charlotte, se strooimeisierok vir Meghan se troue, berig The Sun.

Ook dat Meghan so ongeskik met haar assistent was dat dié bedank het en dat Harry boos is dat sy broer, prins William, en die howelinge nie die spreekwoordelike rooitapyt vir sy bruid uitrol nie.

Buckingham-paleis het die gerugte Saterdag prontuit ontken dat Kate haar skoonsuster op haar plek gesit het omdat dié glo ongeskik met die koninklike personeel was. “Dit het nooit gebeur nie,” sê die paleis in die verklaring.

Charles het glo ʼn gesprek tussen die twee paartjies gereël.

Dit was egter net olie op die poniekoerante se vuur, want skaars is die verklaring uitgereik, of The Mirror kom met nuwe bewerings vorendag dat prins Charles, die prinse se pa, reeds verlede Kersfees ʼn gesprek tussen die twee paartjies gereël het om die spanning te verlig.

Maar dié poging het klaaglik misluk, beweer The Mirror, toe die twee paartjies ʼn hewige uitval gehad het kort nadat Harry en Meghan by William en Catherine se plattelandse woning opgedaag het.

Kate het Meghan glo die leviete voorgelees oor haar optrede, waarna Meghan daaroor by Harry gekla het. Nadat Harry sy vrou se kant gekies het, en William syne, was dit die einde van die versoeningspoging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Paul ·

Birds of feather flock together en ander nie, so hou maar by jou eie, selfs bv daardie visarende van oorsee pas nie by die Afrika ene nie. Party voëls is gespikkel, ander nie, vat nou maar die sandpatrys.

Paul ·

Abe, as jy nie tussen die lyne kan lees nie, ook niks van haar herkoms weet nie, kan ek jou nie help nie.

leser ·

as ek nie van my swaer hou nie, wie gaan my dwing van hom te hou
kate en meghan verskil hemelsbreed in persoonlikheid, so gun hul elkeen sy eie spasie

Paul ·

Meghan pas net nie in die hogere gestoeltes nie. Sy pas wel daar waar sy nooit die koning se vrou sal wees nie.

Pieterv ·

Ek verstaan dat Maroela ‘n wye leserskring het.
Regtig ek verstaan dit.
Wat ek nie verstaan nie is dat daar n berig oor die Britse koninglikes geplaas word wat langer is en baie meer detail bevat as van die nasionale nuus wat elke Suid Afrikaanse landsburger direk raak.
Om alles te kroon is die berig op ponie nuus gebou.
Die berig oor die totstandkoming van n nuwe (hoogs debateerbare onderwerp) poletieke party is baie korter.
Watter een (gegewe ons SA situasie) is nou van meer belang?
Eish!!

Abe ·

Pieterv,
Ek wil nie namens Maroela praat nie, maar ek kan my voorstel dat die lengte van ‘n berig nie noodwendig die belangrikheid van die inhoud weerspieel nie. Ek stel voor as jy van n berig nie hou nie, gaan bloot net aan en lees die volgende berig. Daar is baie van ons wat wel van berigte oor die koninklikes hou en Maroela doen in n mate marknavorsing en hulle weet wat die publiek wil he.

Twakkie ·

Ek koop en/of lees geen skinderkoerante of skindertydskrifte nie, aangesien ek weet dat die VSA se aandrang op vryheid van spraak en byna totale gebrek aan lasterwette beteken dat enigiemand enigiets kan skryf, selfs as NIKS daarvan eens naastenby waar is nie. Soos die eindelose twakstories oor Trump. Ek vermoed Brittanje is dieselfde, dus ignoreer ek hulle skindermedia ook. Dank aan Maroela dat julle dié belaglike stories oor die koninklikes van die tafel vee. Sal julle vergewe dat julle die stories in detail herhaal. Nou weet ek ook wat NIE waar is nie! ??

Nel ·

Waar daar ‘n rokie is…. Destyds was dit dieselfde met Diana en Charles. Liesbet en haar woordvoerders het die gerugte van huweliksprobleme tussen die twee ten sterkste ontken en kyk toe…

Abe ·

Nel,
Die naam van die Britse monarg was nog nooit “Liesbet” nie. As jy haar so noem in ‘n poging om snaaks te wees, is dit ‘n bitter klein grappie.

Die Kwien ·

Lekker gelag vir jou ‘Liesbet’ Nel. Geen heilige verering vir dié sg monarg of haar nasate nie. Is maar gewone sterflinge soos die res van ons.

lolla ·

ek wil lag oor dit….. ek glo dis die punt van die ysberg wat gesien word….mamma trek ook nou in by die koninklikes….. sy gaan seker nou vergoeding ook kry vir ‘koninklike diens en pligte’ ….. ja nee wat ‘kerrie herrie’ herskep die koninklike familie.,,,,, ek volg die manewales van die ‘wales’ want ek dink daai sirkus gaan nog interesanter as ons land se sirkus word…..

Cora Simpson ·

Dankie vir die Meghan nuus. Ek is altyd nuuskierig oor hulle doen en lates. Dit maak ons nuus n bietjie flou lyk want ons het nie sulke lekker skindernuus nie. Ek sien uit na episode 2. kate wil meghan m bietjie opvoed of miskien foeter.

Elsa ·

Ek lees ook graag nuus oor die Britse Koningsgesin, maar ek steur my sowaar nie aan enige skinderstories oor hulle nie en kry hulle eintlik jammer. Hulle is nie net volksbesit nie, maar die hele wêreld eien hulle die reg toe om hierdie mense se lewens te verpes. Hulle het geen privaatheid nie en ek wonder nog of skinderstories en voorspellings nie gehelp het om Diana en Charles se huwelik te kelder nie. Hoekom kan ons nie net aanvaar William en Harry het ‘n hegte band nie en dat hulle en hul vrouens een “happy family” is nie en dat die twee skoonsusters ook ‘n goeie verhouding het nie? Is ons gewone mense se lewens dan so vervelig dat ons gedurig in beroemdes se lewens wil krap vir geraamtes in die kas of net sit en wag vir een om ‘n verkeerde beweging te maak?

Foxi ·

In net n ligte luim……….niemand weet enige-iets van my lewe af nie, maar tog word daar nog geskinder. Hoe nou??

Annelize ·

Presies Foxi. Dis gewoonlik die wat die minste van my lewe weet, of die wat hulle verbeel hulle weet wat in my lewe aangaan, wat die meeste te se het. Terwyl hulle eie lewenspad en keuses, nou nie eintlik vlekloos is nie…

Lee Randburg ·

Ek geniet ook nuus oor die Britse Koningshuis. Stem saam met Foxi en Annelize. Ek steur my nie aan skinderstories en is baie bly die twee seuns het oulike vrouens gekry!

Perspektief ·

Wat ‘n aangename berig. Het ek nou lekker gegiggel agter my lessenaar.
Vir ‘n oomblik het ek nie gelees van moord, rooftogte, verkragting, die EFF of ander verdoemende nuus nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.