Palestyns-Israelse konflik: Vlugte na Israel geraak

Vuurpyle word uit Gaza op woongebiede en burgerlike teikens in Israel afgevuur Foto: www.cesi-italia.org

Vuurpyle word uit Gasa op woongebiede en burgerlike teikens in Israel afgevuur Foto: www.cesi-italia.org

Die vuurpyle wat vanuit Gasa op woongebiede en burgerlike teikens in Israel afgevuur word, het daartoe gelei dat die Amerikaanse FAA vlugte na Tel Aviv vir 24 uur opgeskort het.

Ook die Europese Agentskap vir lugvaartveiligheid, die EASA, het ‘n beroep op Europese lugdienste gedoen om die lughawe Ben Gurion te vermy. Dit volg nadat ‘n projektiel Dinsdag naby die lughawe ontplof het.

Intussen neem internasionale druk toe tot die afkondiging van ‘n skietstilstand. Die proses word egter bemoeilik deurdat die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PLO) en sy vernaamste onderdeel, Fatah, hul gewig ingewerp het by Hamas se eis dat so ‘n skietstilstand gepaard moet gaan met die oopstel van die Gasa-strook se grense. Hamas erken nie Israel se bestaansreg nie, en benut elke verslapping om sy terreur teen Israel te verskerp.

Egipte en Jordanië bemiddel intussen om ‘n vyfdag-lange skietstilstand te bewerkstellig. Ook die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, is by die onderhandelinge vir ‘n skietstilstand betrokke.

Meer as 600 Palestyne, en 29 Israeli’s het teen Dinsdag om die lewe gekom.

Bron: Telegraph, Christian Science Monitor, Trouw, RSG-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.