Panamese beamptes het Vrydag ʼn klopjag uitgevoer op ʼn pakhuis van die regsfirma Mossack Fonseca, wat sentraal staan in die sogenaamde Panama Papers-skandaal.
Die Panama Papers is die resultaat van ʼn wêreldwye ondersoek deur ʼn internasionale bondgenootskap van meer as 100 mediakanale en is gegrond op miljoene dokumente wat uitgelek het en glo wys hoe politici, bekendes en van die wêreld se rykste en magtigste mense “banke, regsfirmas en buitelandse skynmaatskappye gebruik om hul bates weg te steek”. Mossack Fonseca se dienste sluit onder meer in die integrasie van maatskappye in buitelandse jurisdiksie, die administrasie van buitelandse maatskappye teen ʼn jaarlikse fooi en batebestuur.
Javier Caraballo, die land se spesialisaanklaer vir georganiseerde misdaad, het gesê daar is Vrydag beslag gelê op groot hoeveelhede dokumente wat met Mossack Fonseca verband hou, maar dit is nie duidelik watter inligting in die dokumente vervat word nie. Agente het glo talle sakke vol versnipperde papier weggedra.
Mossack Fonseca het Vrydag in ʼn verklaring gesê die dokumente word na ʼn fasiliteit gestuur sodat die papier herwin kan word en dat alle inligting daarin in digitale vorm bestaan en aan die aanklaers oorhandig is. Die firma se hoofkantoor is ook verlede week deursoek.
Dit het vroeër vandeesmaand aan die lig gekom dat Khulubuse Zuma, pres. Jacob Zuma se broerskind, een van die 140 mense is wat genoem word in die Panama Papers. Khulubuse Zuma word by ʼn omstrede olietransaksie in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) betrek.
Waar daar ‘n “Zuma” is is ‘n vuurtjie!
Wonder wie gaan al die versnipperde dokumente aanmekaarplak. ;-)