Panda-tweeling in Tokio gebore

Die Ueno-dieretuin se Naoya Ohashi wys ‘n foto van reusepanda Shin Shin wat geboorte gee aan die eerste van haar twee welpies by die dieretuin op 23 Junie 2021. (Foto: Behrouz Mehri/AFP)

ʼn Pandabeer by die Ueno-dieretuin in Tokio, Japan, het Woensdag geboorte gegee aan ʼn tweeling.

Die dieretuin het in ʼn verklaring gesê die tweeling is in die vroeë oggendure gebore en die geslag van elkeen is nog nie bevestig nie.

Yutaka Fukuda, direkteur van die dieretuin, het gesê dit is die eerste tweeling-geboorte vir die Ueno-dieretuin.

“Toe ek die nuus ontvang dat die tweede baba gebore is, kon ek nie anders as om te juig nie,” het hy aan verslaggewers gesê.

Naoya Ohashi, woordvoerder van die dieretuin, het later tydens ʼn mediakonferensie gesê een van die welpies (wat 124 g geweeg het) is in ʼn broeikas geplaas.

Hy het bygevoeg Shin Shin, die moeder-panda, is “gesond en kyk mooi na die ander welpie”.

Wanneer pandas tweelinge het, maak hulle gewoonlik net die een groot, “so ons sal seker maak die moeder-panda borsvoed die een terwyl ons die ander een in die broeikas hou,” het Ohashi gesê.

Dieretuinopsigters sal ook die welpies ruil sodat albei hulle natuurlike voeding kan inneem.

‘n Werknemer by die Ueno-dieretuin in Tokio hanteer een van die pasgebore pandawelpies. (Foto: Verskaf/Tokyo Zoological Park Society/AFP)

Shin Shin het vroeër vandeesmaand ʼn styging in aandele van eetplekke naby die dieretuin ontlok toe die vermoede van haar swangerskap aangekondig is, met beleggers wat ʼn toename in besoekers ná die geboorte verwag het.

Aandele in een Chinese restaurant naby die dieretuin het met byna 30% gestyg sedert die swangerskapaankondiging en het sedert Woensdag met nog 6,4% gestyg.

Katsunobu Kato, woordvoerder van die Japannese regering, het die geboorte van die welpies as “vreugdevolle nuus” beskryf en het landsburgers genooi om “ook oor hulle te waak”.

Dieretuinopsigters was bewus van ʼn moontlike swangerskap sedert Shin Shin en haar maat, Ri Ri, vroeg in Maart gepaar het.

Shin Shin en Ri Ri is ook die ouers van ʼn pandawyfie, Xiang Xiang, wat in Junie 2017 gebore is en ʼn groot trekpleister vir die dieretuin geword het.

Xiang Xiang is geskeduleer vir repatriasie na China ná haar geboorte twee jaar gelede, maar Japannese owerhede het onderhandel om haar verblyf tot die einde van dié jaar te verleng.

Die reusepanda Shin Shin by die Ueno-dieretuin in Tokio, Japan. (Foto: Verskaf/Tokyo Zoological Park Society/AFP)

Die Japannese media bied gereeld brokkies oor die Ueno-pandas, wat in nie-pandemiese tye groot skares plaaslike en buitelandse toeriste lok.

Volgens die omgewingsakegroep WWF (World Wildlife Federation) is daar na raming slegs 1 800 reusepandas in die vrye natuur oor, hoofsaaklik in bamboeswoude in die berge van China.

Nog 600 pandas bly in dieretuine en teëlsentrums wêreldwyd. Die Internasionale Unie vir Bewaring van die Natuur klassifiseer groot pandas as “kwesbaar”.

Dié swart-en-wit soogdiere is uiters gewild oor die hele wêreld en China leen hulle uit as deel van ʼn “panda-diplomasie”-program om buitelandse bande te smee.

Pandas is bekend daarvoor dat hulle moeilik voortplant, maar vroeg in Junie het ʼn panda in Maleisië geboorte gegee aan haar derde welpie.

ʼn Nuweling-panda in Washington DC in die VSA het Amerikaners sedert sy geboorte in Augustus verlede jaar in vervoering, met meer as ʼn miljoen mense wat die virtuele “Panda Cam” gebruik het om na klein Xiao Qi Li (klein wonderwerkie) te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.