Panda-tweeling kry hul name op 100ste dag

Meng Yuan en Meng Xiang (AP Photo/Michael Sohn)

Die panda-tweeling wat in Augustus in ʼn dieretuin in Duitsland gebore is, se name en geslagte is uiteindelik aangekondig.

Maroela Media het vroeër berig dat dié panda-tweeling die eerste reusepandas is wat in Duitsland gebore is.

Volgens die Duitse nuuswebwerf DW.com, het die Berlynse Dieretuin mense se voorstelle om die panda-tweeling Hong en Kong te noem, geïgnoreer. Hulle wou die pandas meer tradisionele name gee.

Die pandas, wat albei manlik is, se name is Meng Xiang en Meng Yuan. Dié name vertaal na “onverwagte droom” en “droom is bewaarheid”.

Meng Yuan en Meng Xiang (AP Photo/Michael Sohn)

Die tweeling se ma se naam is Meng Meng en hul pa is Jiao Qing.

Die proses om vir die tweeling-boeties name te gee, het tonge laat klap toe die name Hong en Kong boaan ʼn naamvoorstelpeiling was wat deur ʼn Duitse koerant gepubliseer is. Die name Hong en Kong sou dien as ondersteuning vir die voortslepende protes in Hongkong.

Meng Xiang en Meng Yuan het hul eerste paar weke in ʼn broeikas deurgebring, maar nou is hulle in die sorg van hul ma met die hulp van die dieretuinpersoneel.

Die Berlynse Dieretuin het ook aangekondig dat die baba-pandas nou sowat 6 kg elk weeg en dat hulle oefen om te loop, maar dat hulle nog sukkel.

Dit is ʼn jarelange tradisie in China om babas eers op hul 100ste dag van lewe hul naam te gee, en dié tradisie is toe ook na die baba‑pandas oorgedra. Dieretuine buite China volg ook hierdie gebruik.

Meng Yuan en Meng Xiang (AP Photo/Michael Sohn)

Die Berlynse Dieretuin is die enigste Duitse dieretuin wat dié skaars diere in hulle besit het. Pandas buite China behoort steeds aan China en word bloot deur ander lande gehuur. ʼn Volwasse panda kos sowat $1 miljoen per jaar. Die geld word in China se suksesvolle panda‑telingsprogram teruggeploeg.

Daar is vermoedelik minder as 2 000 pandas in die natuur en hulle is ʼn bedreigde spesie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Suster Sê ·

Hulle is so CUTE! Sal wat wil gee om een te kan sien in lewende lywe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.