Pandemie eis eintlik 15 miljoen lewens

Argieffoto (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Donderdag beraam dat die Covid-19-pandemie die afgelope twee jaar eintlik ongeveer 15 miljoen mense wêreldwyd se lewe geëis het – dit is byna driedubbel die aantal sterftes wat voorheen aan die siekte toegeskryf is.

Dit behels nie net sterftes wat direk verwant hou met die virus nie, maar ook dié wat gesterf het weens die uitkring-effek van die pandemie op die gesondheidstelsel en die samelewing.

Die jongste skatting beteken dat een uit elke 500 mense wêreldwyd aan Covid-19-verwante oorsake, of die uitwerking van die pandemie, gesterf het.

Die WGO se langverwagte skatting van die algehele aantal sterftes, gee eindelik ʼn numeriese waarde aan die breër uitwerking van die krisis.

“Die uiteindelike sterftesyfer tussen 2020 en 2021, wat direk of indirek met die Covid-19-pandemie verband hou, is tussen 13,3 miljoen en 16,6 miljoen, met ʼn gemiddeld van 14,9 miljoen sterftes,” het die Verenigde Nasies (VN) se gesondheidsagentskap gesê.

Die WGO het gesê die syfer van 14,9 miljoen is bereken deur toonaangewende wêreldkundiges wat ʼn metodologie ontwikkel het om ramings te genereer waar data ontbreek.

Die syfers, wat ook oortollige sterftes in ag neem, word bereken as die verskil tussen die aantal sterftes wat voorgekom het en die getal wat verwag sou word in die afwesigheid van die pandemie, gegrond op data van vroeër jare.

Die syfers neem ook sterftes in ag wat weens die pandemie voorkom is, aangesien daar byvoorbeeld ʼn laer risiko van werkverwante sterftes of padongelukke is.

Die WGO het in Januarie 2020 die uitbreking van Covid-19 as ʼn internasionale noodgeval vir openbare gesondheid verklaar, nadat gevalle buite China begin versprei het.

Lande wêreldwyd het in 2020 en 2021 meer as 5 miljoen Covid-19-verwante sterftes by die WGO aangemeld – ʼn syfer wat nou op 6,2 miljoen staan.

Die WGO het egter lank reeds gesê dat die werklike aantal sterftes veel hoër sal wees as net die aangetekende sterftes wat direk aan Covid-19-infeksies toegeskryf word.

Sterftes wat indirek met die pandemie verband hou, word toegeskryf aan die toestande waaronder mense verkeer wat nie toegang tot mediese behandeling kon verkry nie omdat gesondheidstelsels deur die krisis oorlaai was.

Dít kan vertragings in chirurgiese operasies of chemoterapie vir kankerpasiënte insluit.

Oortollige sterftes

Volgens die WGO het die meeste oortollige sterftes – wat 84% van die algehele aantal sterftes is – meestal in Asië, Europa en die Amerikas plaasgevind.

Slegs tien lande, waaronder Suid-Afrika, was verantwoordelik vir 68% van alle oortollige sterftes. Die ander lande is Brasilië, Egipte, Indië, Indonesië, Mexiko, Peru, Rusland, Turkye en die Verenigde State (VSA).

Hoë-inkomstelande was verantwoordelik vir 15% van die oortollige sterftes, terwyl hoër-middel-inkomstelande vir 28% verantwoordelik is, laer-middel-inkomstelande vir 53% en lae-inkomstelande vir 4%. Die WGO wys egter daarop dat baie lande nie die kapasiteit het om sterftes aan te teken nie en data ontbreek dus wat nodig is om oortollige sterftesyfers uit te werk.

Die WGO glo oor die algemeen word ses uit 10 sterftes wêreldwyd nie formeel aangeteken nie.

Die wêreldwye dodetal was hoër vir mans as vir vroue – 57% was mans en 43% vroue. Altesame 82% van die oortollige sterftes was na raming mense ouer as 60 jaar.

“Hierdie ontnugterende data dui nie net op die reikwydte van die pandemie nie, maar ook op die behoefte vir alle lande om in meer veerkragtige gesondheidstelsels te belê,” het Tedros Adhanom Ghebreyesus, WGO-hoof, gesê.

Teenstand oor syfers

Die WGO se jongste syfers is uiters sensitief, juis weens die wyse waarop dit reflekteer op die owerhede van ʼn land se hantering van die pandemie. Sommige lande, soos Indië, betwis reeds die dodetal en meen dat sy sterftes veel minder is.

Indië het vroeër aangemeld dat sy Covid-19-verwante sterftes vir 2020-’21 net meer as 480 000 is, maar die WGO voer aan dat die geraamde sterftes eerder tussen 3 en 6,5 miljoen is.

Volgens die WGO word hierdie getal toegeskryf aan die direkte en indirekte uitwerking van die pandemie en die invloed wat dit op die land se breër gesondheidstelsel gehad het.

Indië se ministerie van gesondheid en gesinswelsyn het in ʼn verklaring die WGO daarvan beskuldig dat hy die data publiseer “sonder om Indië se bekommernisse voldoende aan te raak”.

“Ons moet die lewens eer wat tragies kortgeknip is, lewens wat ons verloor het – en ons moet onsself en ons beleidmakers aanspreeklik hou,” het Samira Asma, datahoof van die WGO, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Miskruier

Eintlik moet die Aspen vaksien vervaardiger 100% in produksie wees. Ek vertrou 100% op God dat hy weet hoe om my deur die krisis te kry.

Carin

“Eintlik”.. dis nie die pandemie se skuld nie dis die einste WGO, regerings en media se skuld. Mense het ALLES verloor, dood aan honger, selfmoord, ander siektes soos kanker want Covid is mos die heeeeel belangrikste ding onder die son, en vreeslik baie ander goed is oorgesien en geignoreer. Knap gedaan! G’n wonder die “syfers is sensitief” nie. Ons nageslagte gaan hierdie generasie leiers ontsaglik kras oordeel.

Marius

Hulle sal enige versinsels voorhou om hul agenda te bevorder.

Rudi

Ou Bill is seker bly.

Owlie

Hierdie syfers is ook dus nie die korrekte syfers vsn mense wat aan die corona virus self gesterf het nie maar wel n syfer van sterfgevalle tydenz due pandemie periode – aan fehaal uit die skrywe” “Dit behels nie net sterftes wat direk verwant hou met die virus nie, ” Gee vir die wêreld die korrekte wêreldwye persentasie van Corona Virus sterf gevalle nie net die Covid periode sterfgevalle nie Logies gesproke sal meer mense onder soveel onnidige druk sterf aan stres, hart, beroertes, kanker, tb en vele meer