Paniek in Kaboel ná Taliban oorneem

Mense klou aan ‘n vliegtuig by die Kaboel-lughawe in ‘n desperate poging om landuit te vlug. Die Taliban het die naweek weer beheer van die land oorgeneem. (Foto: Wakil Kohsar/AFP)

Talle Westerse lande het Maandag inderhaas begin om hul burgers en plaaslike werkers uit Kaboel te verwyder ná die Taliban se blitsige oorname van Afghanistan. Die Taliban het beheer oorgeneem nadat die regering Sondag finaal ineengestort het.

Afgaanse pres. Ashraf Ghani het landuit gevlug en ʼn land in oënskynlike chaos agtergelaat. Nadat die polisie en ander staatsmagte Sondagaand ook die handdoek ingegooi het, het Taliban-vegters padblokkades oorgeneem en die presidensiële paleis binnegeval.

Duisende vlug 

Militante met gewere oor die skouers het Maandag deur die strate van die sogenaamde Groen Sone, ʼn voorheen hoogs beveiligde gebied wat meestal ambassades en internasionale organisasies huisves, gestap.

Die Taliban het die internasionale gemeenskap die versekering gegee dat Afgane niks het om van hulle te vrees nie en het beloof om geen wraak te neem teen diegene wat die VSA-geleide alliansie gesteun het nie.

Duisende mense het egter reeds na die stad se lughawe gestroom in ʼn poging om van die Taliban – wat tydens sy bewind van 1996 tot 2001 die uiters streng Sharia-wet ingestel het – te ontsnap, terwyl die VSA en 65 ander lande ʼn beroep op die Taliban gedoen het om Afgaanse – en buitelandse burgers – toe te laat om die land te verlaat.

Video’s wat wys hoe desperate vlugtelinge aan vliegtuie probeer klou terwyl dit die lughawe verlaat, is ook op sosiale media versprei.

Die Europese Unie (EU) het geskarrel om ʼn oplossing te vind vir sy Afgaanse werkers wat moontlik – ondanks die Taliban se beloftes – die slagoffers van weerwraakaanvalle kan wees en probeer sy 27 lidlande oortuig om visums aan hulle toe te staan.

Die Amerikaanse weermag het Kaboel se lughawe beveilig, terwyl die VSA, Duitsland, Frankryk en Nederland hul werkers daarheen oorgeplaas het om voorbereidings vir ontruiming te tref. Ander lede van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo), waaronder Brittanje, Italië, Denemarke en Spanje, het aangekondig dat hulle hul burgers so gou moontlik uit die land wil kry, terwyl Swede dieselfde gedoen het.

Honderde werkers van die Amerikaanse ambassade het Afghanistan reeds verlaat en die VSA het 600 troepe gestuur om die veilige vertrek van sy burgers te verseker.

Rusland het aangedui dat sy ambassade in Kaboel nie ontruim gaan word nie, en dat hy die versekering van die Taliban gekry het dat sy ambassades in die land veilig sal wees.

Chinese soek witvoetjie

Amerikaanse soldate neem ‘n blaaskans te midde van die chaos op die lughawe in Kaboel waar duisende Afghane saamdrom in die hoop dat hulle landuit sal kan vlug. (Foto: Wakil Kohsar/AFP)

China se ambassade in Kaboel is ook steeds in werking, hoewel hy al maande gelede begin het om sy burgers landuit te neem. Die ambassade het wel aan Chinese burgers in Afghanistan gesê om die veiligheidsituasie fyn dop te hou en binnenshuis te bly.

China het ook gesê hy is gereed vir “vriendskaplike en samewerkende” betrekkinge met Afghanistan. Beijing handhaaf nie-amptelike bande met die Taliban sedert Amerikaanse troepe hulle uit die land onttrek het.

China deel ʼn grens van sowat 76 km met Afghanistan. Beijing vrees al geruime tyd dat Afghanistan die beginpunt kan wees vir die minderheid Uyghur-separatiste in die belangrike grensstreek, Xinjiang.

ʼn Hoëvlakafvaardiging van die Taliban het verlede maand egter beloof dat die land nie as ʼn basis vir militante gebruik sal word nie. In ruil daarvoor het China ekonomiese steun en belegging in Afghanistan se heropbou beloof.

China het die kans “verwelkom” om bande met Afghanistan te verstewig – ʼn land wat al geslagte lank gesog is vir sy geo-strategiese belang vir groot moondhede.

Vrees oor hernieude terreur

Die VSA het Sondag die laaste personeel van die ambassade in Kaboel na die lughawe in die stad geneem, sy vlag gestryk en die perseel verlaat. (Foto: Wakil Kohsar/AFP)

Die VSA het Al-Kaïda en sy leier, Osama bin Laden, ná die 9/11-aanvalle op New York en Washington geïdentifiseer as een van die Islamitiese militantegroepe verantwoordelik vir die aanvalle.

Bin Laden was in Afghanistan en is beskerm deur die Taliban, wat in daardie stadium sedert 1996 in beheer van die land was. Nadat hulle geweier het om hom te oorhandig, het die Amerikaanse weermag die land binnegeval en beloof om demokrasie te ondersteun en die terreurbedreiging uit die weg te ruim.

Die VSA het sedertdien egter misluk om ʼn volhoubare demokratiese regering op te bou wat in staat sou wees om die Taliban teen te staan, ondanks die miljarde dollars wat hy in die land gestort het en die twee dekades van weermagsteun wat hy gebied het.

In 2014 het Navo se internasionale magte verantwoordelikheid vir veiligheid aan die Afgaanse weermag gegee – en die Taliban het al hoe meer momentum begin opbou.

Verlede jaar is ʼn ooreenkoms oor die onttrekking tussen die VSA en die Taliban aangegaan, maar dit het nie Taliban-aanvalle gestuit nie.

BBC berig een van die groot vrese is dat die land weer ʼn opleidingsplek vir terreur kan word. Die Taliban hou vol dat hy net ʼn Islamitiese regering in werking wil stel en nie ʼn bedreiging vir enige ander land inhou nie, maar talle ontleders waarsku dat die Taliban en Al-Kaïda nie van mekaar geskei kan word nie.

Verloop van gebeure

Die aanval op die Wêreldhandelsentrum in New York op 11 September 2001. (Foto: Getty Images via AFP)

Die Taliban se verstommende en vinnige oorname van Afghanistan was die gevolg van nie net sy mag op die oorlogsveld nie, maar ook weens voortgesette pogings om oorgawes af te dwing en ooreenkomste te maak.

Die insurgente het dreigemente en lokmiddels saam met sielkundige oorlogvoering ingespan terwyl hy stad ná stad oorgeneem het – soms sonder dat ʼn enkele skoot afgevuur is.

Buitelandse troepe het Afghanistan in Julie finaal verlaat, en Washington en Kaboel was vol vertroue dat die Afgaanse weermag die Taliban in toom sou kon hou. Met meer as 300 000 personeellede en gevorderde toerusting van miljarde dollars – veel meer gevorderd as dié van die Taliban – het die Afgaanse magte – op papier – formidabel gelyk.

Korrupsie, swak leierskap, ʼn gebrek aan opleiding en swak moreel het al hoe meer kop uitgesteek. Soldate het gereeld gedros en Amerikaanse inspekteurs het gewaarsku die mag was onvolhoubaar.

Afgaanse magte het aanvanklik kwaai weerstand gebied, maar moes die Taliban nou die stryd aansê sonder gereelde Amerikaanse lugaanvalle en weermagsteun. Die kleiner, maar hoogs gemotiveerde en gedrewe vyand, het beteken dat talle regeringsoldate en selfs hele eenhede gedros of sommer net oorgegee het – en die insurgente was vry om stad ná stad oor te neem.

Mense keer Maandag onverrigter sake van die grens met Pakistan terug nadat hulle vergeefs uit Afghanistan probeer vlug het. (Foto: AFP)

Die saad vir die ineenstorting is verlede jaar gesaai nadat Washington ʼn ooreenkoms met die insurgente aangegaan het om sy troepe heeltemal te onttrek. Vir die Taliban was dit die begin van sy oorwinning ná byna twee dekades van oorlog.

Vir talle Afgane was dit verraad en verlatenheid.

Die Taliban het sy aanvalle op regeringsmagte voortgesit, maar dit gekombineer met die geteikende moorde op joernaliste en aktiviste en het ʼn omgewing van vrees geskep. Propaganda van ʼn onvermydelike Taliban-oorwinning was aan die orde van die dag en sielkundige oorlogvoering is ingespan.

Afgaanse krygshere, in talle gevalle gevrees en berug, het beloof om die Taliban bloedneus te gee. Maar ook hulle het vinnig boedel oorgegee. Hul stede het sonder geveg geval en milisielede het voertuie, wapens en selfs uniforms agtergelaat en gevlug.

Maandag het Taliban-vegters die strate van Kaboel in oorwinning gepatrolleer nadat die insurgente die nag tevore die hoofstad omsingel en oorgeneem het. Binne net tien dae het al die stede in die land geval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
JanSt

Herinner ons asb watter Amerikaanse president het laasjaar besluit om die magte te onttrek?

skurweberg

Tragies! SA neem kennis asb.

marius

Hulle neem net terug wat die weste en hul eoropese bondgenote deur bedrog van hulle ontneem het . Dis al .

MakersMark

Churchill het die spulletjie goed opgesom.

MT

Die Taliban is tog ‘n Amerikaanse skepping, en maak die VSA troep onttrekking op die oomblik 100% sin, vanuit daardie lig beskou.

Die wereld word voorberei vir die koms van die valse vredemaker.