Parkeerruimte in Hongkong vir R17 miljoen verkoop

Hongkong (Foto: Dirk Daniel Mann/Pixabay)

ʼn Enkele parkeerruimte is vir HK$10 miljoen (meer as R17,3 miljoen) verkoop by ʼn luukse woonstelblok in Hongkong, het plaaslike media Vrydag berig.

Die 12,5 m² ruimte is deel van ʼn ontwikkeling by The Peak, ʼn rykmansbuurt wat van die stad se mees welgestelde inwoners lok.

Die ontwikkeling bied ʼn asemrowende uitsig oor Victoria-hawe, maar eiendomspryse is van die duurste in die wêreld.

Alhoewel Hongkong se welaf inwoners nie huiwer om miljoene vir hul huise op te dok nie, sukkel miljoene van die stad se inwoners om die huur te bekostig op piepklein woonstelle – sommige selfs kleiner as die parkering.

ʼn Verslag deur UBS in 2019 het gesê ʼn “vaardige werker” het 22 jaar lank se inkomste nodig om ʼn 60 m²-woonstel te bekostig – ʼn groot toename in die 12 jaar van ʼn dekade gelede. Salarisse het sedert 2008 rofweg dieselfde gebly. Nóg ʼn studie, dieselfde jaar, het die gemiddelde eiendomsprys in Hongkong aangedui as $1,2 miljoen.

Die luukse eiendomsmark het weer begin groei ná ʼn tydperk van onsekerheid oor toenemende politieke onrus in die stad en dit wil voorkom of dit die ekonomiese impak van Covid-19 oorkom het.

ʼn Dakwoonstel van sowat 1 030 m² is vroeër vanjaar vir US$59 miljoen (byna R807 miljoen) verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.