Parool toegestaan 52 jaar ná moord op Kennedy

Sirhan Sirhan is destyds lewenslank gevonnis vir die sluipmoord op Robert F Kennedy in 1968. (Foto: Die departement van korrektiewe dienste in Kalifornië/AFP)

Die man wat in 1969 skuldig bevind is aan die sluipmoord die vorige jaar op die Amerikaanse senator Robert F Kennedy, is Vrydag parool in Kalifornië toegestaan.

Sirhan Sirhan, nou 77, het reeds meer as vyf dekades agter tralies deurgebring sedert Kennedy, broer van die Amerikaanse president John F Kennedy wat in 1963 in ʼn sluipmoordaanval doodgeskiet is, op 6 Junie 1968 ook in ʼn sluipmoordaanval by die Ambassador Hotel in Los Angeles doodgeskiet is.

Die paroolraad se besluit om parool toe te staan beteken egter nie dat Sirhan outomaties vrygelaat sal word nie. Die besluit is onderhewig aan ʼn drie maande-hersiening en sal eindelik by die goewerneur van Kalifornië berus.

Sirhan is in 1969 skuldig bevind aan die moord op Kennedy en ter dood veroordeel nadat hy skuld beken het. Sy doodsvonnis is etlike jare later na lewenslange tronkstraf omgekeer.

Twyfel het egter destyds ontstaan of Sirhan werklik verantwoordelik was vir die senator se dood in die lig van bewerings dat daar op 5 Junie 1968 ʼn tweede gewapende man in die Ambassador Hotel kon gewees het.

Kennedy het die betrokke aand ʼn toespraak in die hotel gelewer nadat hy die Demokratiese presidentsverkiesing in Kalifornië gewen het.

Die senator is in die kombuis waar hy personeel ontmoet het, geskiet. Verskeie mense in sy gevolg is ook geskiet, soos Paul Schrade wat in die kop geskiet is, maar oorleef het.

Schrade het hom sedertdien beywer vir die vrylating van Sirhan en gesê die getuienis teen hom maak nie sin nie. “Dit is ʼn goeie besluit,” het Schrade Vrydag aan AFP gesê nadat Sirhan parool toegestaan is.

“Ek is baie dankbaar dat die paroolraad Sirhan die geleentheid gee om huis toe te gaan.”

Kennedy se jongste seun, Douglas, het Vrydag ook voor die paroolraad aangedui dat hy ten gunste is van Sirhan se vrylating.

Onsekerheid oor Sirhan se skuld het destyds tydens sy verhoor ontstaan toe ʼn lykskouingsverslag getoon het dat Kennedy van agter op ʼn afstand geskiet is.

Volgens ooggetuies het Sirhan voor Kennedy gestaan toe die skote afgevuur is.

Getuienis het met die verloop van jare na vore gekom wat toon dat daar tot 13 skote daardie aand afgevuur is.

Die wapen wat Sirhan afgevuur het, het slegs plek gehad vir agt patrone.

Sirhan, ʼn Palestynse Christen, het destyds tydens sy verhoor gesê hy het Kennedy gehaat weens sy steun aan Israel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

piet ·

Ja. Het jy geweet dat omtrent al die Christene in Israel van Arabiese of Palestynse afkoms is en ook dat daar meer Christene in Palestina as in Israel is persentasiegewys van die onderskeie bevolkings. Interessant ne? Dit maak dit ook interessant dat Christene die wereld oor so bankvas agter Israel staan teen Palestina en dit nogal ter ondersteuning van ‘n basies on-Christelike land (Israel) waar slegs 2% van die bevolking Christene is (wat eintlik Palestynse Christene is wat in Israel woon soos reeds gese). Ek vind dit nogal interessant maar ek dink hierdie ondersteuning deur Christene vir Israel kan dalk gebore wees uit onkunde.

Vrijburger ·

Interessant. Beste data wat ek kan kry wys dat maar slegs 3.5% Christene in Palastina self is, dus nie ‘n vreeslike verskil nie. Persoonlik dink ek weglaatbaar klein wanneer besluit word wie om te steun. In SA speel die ondersteuning wat Isreal aan die vorige bedeling gegee het beslis ‘n groter rol (blanke Christene pro-Israel, ANC & kie anti-Israel).

piet ·

Ja, maar daar is baie meer Christene afkomstig vanaf Palestina wat in Israel woon as Christene van Israeliese (Joodse) afkoms. Soos ek se, mens dink nie altyd daaraan nie maar dit het tot my deurgedring die eerste keer toe ek dit gelees en besef het. Ek dink die fout wat baie Christene maak, is om te dink Israel = Bybel =Christenskap. Ekself het in daai strik getrap. Dit sal nogal interessant wees wat Christene wereldwyd se antwoord sal wees as jy vra welke persentasie van die Israelse bevolking Christene is.

Cherokee ·

Piet, gaan vertel vir mense soos hoofregter Mogoeng Mogoeng, dat jy dink dit is dom, oftwel onkundig, van Christene om Israel te ondersteun. Hy is bereid om die anc teë te staan ter wille van sy liefde vir Israel. Dit is weens wat ons as Bybels beskou.

piet ·

Cherokee – Palestynse gebiede is ook “Bybels” so ek verstaan nie wat jy daardeur probeer se nie. Ek dink daar is ‘n groot waarskynlikheid dat baie Christene Israel ondersteun weens vooropgestelde persepsies of wanopvattings soos byvoorbeeld om te dink dat Israel ‘n Christelike land is en bloot as gevolg daarvan ondersteun moet word. Dis al wat ek probeer se. Vir my gaan dit oor die kwessie of Israel aanspraak kan maak op historiese Palestynse grondgebied en na my mening dink ek nie so nie.

Johann ·

Ons hou maar duim van dat Larry Elder die pos van goewerneur het teen die tyd dat die ou se parool opkom.

Sal interessant wees om te verneem wat die term “huis toe gaan” in die verband sal wees, na 50 jaar se afwesigheid.

Harley Davidson ·

VF+ neem kennis hierdie is ‘n swaar vonnis,nie 15 jaar waarvan jy ‘n kwart moet uitdien voor jy op onvoorwaardelike parool vrygelaat word vir moord en roof van twee mense nie( met verwysing na die Sebiedele moord )

Sarel ·

In SA sou hy na ongeveer 15jr Parool gekry het. Fit is nou die ” Definisie” van Lewenslank

piet ·

Onmoontlik. As jy lewenslank kry in SA moet jy minstens 25 jaar sit voor jy enigsins in aanmerking kom vir parool.

piet ·

In aanmerking kom beteken nie jy gaan dit kry nie. Geen parool is automaties nie. Natuurlik kom hy in aanmerking, het al hoeveel keer al, dit word egter elke keer afgekeur deur die paroolraad.

Cherokee ·

piet het gesê ‘minstens’, andre.
en piet, Marlene Lehnberg, die skermoordenaar, het 11 jaar tronkstraf uitgedien.

OW ·

Sy was slegs aandadig aan die moord en het nie die moord gepleeg nie.Martinus Choegoe het hierdie spesifieke moord gepleeg.

piet ·

Cherokee – Lehnberg se doodstraf is verander na 20 jaar gevangenisstraf waarvan sy 11 jaar gesit het.

Pieter9 ·

Sukkel om my kop om hierdie een te kry; vermoor ‘n mens… word tydelik uit die groter gemeenskap gehaal… Gaan nou terug en LEWE… Iewers verstaan ons iets nie reg nie?

OW ·

Met John F sy broer was hulle ook nie so seker dat Lee Harvey Oswald hom vermoor het nie.Daar sou met JF se moord na 50 jaar ‘n openbaarmaking gewees het,maar het nie weer iets daarvan gehoor nie.

Frank John ·

50 jaar is ‘ n lang tyd. As jy werklik christen is is die Jode belangrik vir jou want fie Woord sê jy moet nid vir hulle en deur hulle het ons Verlosser gekom.

Cherokee ·

My vrou en ek is getroud enkele weke voor die moord op oom Robert. ………. Ons oudste kleindogter is al getroud. (mag julle geseënd wees!) Hy wat die veronderstelde en erkende moornaar is, is destyds toegesluit. Nou word hy (die moontlikheid van) parool aangebied. Oom Robert is steeds weg vanaf hierdie aarde. Dit neig te klink na mini-rsa.

Charl ·

Pieter9, in Suid Afrika kry jy ‘n tik oor die vingers vir moord, daai ou sit al 52jr ! Kry jou kop om hierdie een !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.