Parys-aanvalle: Vrou sterf tydens klopjag in ontploffing

Een van die tonele tydens die aanvalle op Parys Vrydagaand. Foto: AP/Thibault Camus

Een van die tonele tydens die aanvalle op Parys Vrydagaand. Foto: AP/Thibault Camus

ʼn Vrou het haarself glo Woensdag in ʼn noordelike voorstad van Parys in Frankryk opgeblaas waar die Franse polisie besig is met klopjagte in hul soektog na die moontlike meesterbrein agter Vrydagaand se terreuraanvalle in dié stad.

Die klopjagte is by ʼn woonstelblok in Saint-Denis uitgevoer. Veiligheidsmagte vermoed dat een van die hoofverdagtes, Abdelhamid Abaaoud (28), en sy medepligtiges in die woonstelblok woon.

Die vrou het haarself glo opgeblaas kort nadat veiligheidsmagte op die woonstelblok toegeslaan het. Joernaliste wat naby die toneel was het die ontploffing en geweerskote gehoor. Franse media berig dat ʼn tweede persoon volgens gerugte doodgeskiet is en dat ʼn derde persoon in die woonstelblok vasgekeer is. Daar word bespiegel dat dié persoon Abaaoud is.

Drie mans wat in die woonstelblok was, is in hegtenis geneem. Hul identiteit is nog nie bekend nie. Drie polisiebeamptes is tydens die voorval ligtelik beseer. Die woonstelblok is naby aan die Stade de France-sokkerstadion, wat een van die teikens in die aanval was.

Tot dusver is 129 mense dood en meer as 350 mense beseer tydens ʼn reeks georganiseerde selfmoordbom- en vuurwapenaanvalle Vrydagaand by ses plekke in Parys. Minstens sewe van die aanvallers is in selfmoordbomontploffings dood en een is doodgeskiet. Speurders is steeds besig om van die aanvallers se identiteit te bepaal.

Militante van die Islamitiese Staat (IS) het verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar. Abaaoud het vir die IS-militante in Sirië geveg.

Die Franse polisie het vroeër aangekondig sewe mense is reeds in hegtenis geneem en die soektog na nóg verdagtes gaan onverpoosd voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.