Parys brand, honderde in hegtenis in betogings

‘n Plaaslike inwoner van Parys en ‘n brandbestryder probeer ‘n brand blus wat Donderdag deur betogers gestig is. (Foto: Anna Kurth / AFP)

Meer as 450 mense is in hegtenis geneem en 441 lede van Frankryk se veiligheidsmagte, sowel as lede van die publiek, is beseer op die gewelddadigste dag van openbare betogings sedert die begin van Maart.

Lede van die Franse bevolking betoog teen die omstrede pensioenhervorming in dié land en betogings vlam sporadies op sedert die Franse regering aan die begin van Maart aangekondig het hy wil die aftreeouderdom van 62 tot 64 verhoog en vereistes vir volle pensioene aanpas. Dit is glo nodig om te verseker die stelsel beland nie in die rooi nie.

Vakbonde het Woensdag hul lede opnuut aangemoedig om aan betogings deel te neem nadat pres. Emmanuel Macron aangedui het hy is vasbeslote om die wysigings deur te voer, ten spyte van grootskaalse ontevredenheid daaroor.

Luidens amptelike verklarings deur die regering het meer as ʼn miljoen mense Donderdag in Frankryk opgeruk, maar vakbonde skat dit was meer as 3,5 miljoen.

Betogings het aanvanklik vreedsaam verloop, maar in die loop van die dag gewelddadig begin raak.

Meer as 900 brande is later in en om Parys gestig, met radikale anargiste wat die skuld gekry het vir die brand van hope rommel. Winkelsentrums se vensters is ook uitgeslaan en in Bordeaux het betogers die antieke houtingang van die stadsaal aan die brand gesteek. Brandweerdienste kon wel daarin slaag om die brand te blus voordat dit na die res van die gebou versprei het.

in Bordeaux het betogers die antieke houtingang van die stadsaal aan die brand gesteek. (Foto: Philippe Lopez / AFP)

Koning Charles III van Brittanje was juis van plan om dié gebou Dinsdag te besoek, nadat hy Maandag in Parys deurgebring het. Hier sou hy lede van die senaat toegespreek en ʼn staatsfeesmaal in die paleis van Versailles bygewoon het.

Die Franse regering het dit egter goedgedink om die besoek te kanselleer, gegewe die geweld en spanning waarmee die betogings gepaard gaan. ʼn Nasionale dag van aksie word boonop vir Dinsdag beplan.

Die besoek was bedoel om hegter bande tussen Frankryk en Brittanje te beklemtoon, maar vrese bestaan dat die koning moontlik ʼn slagoffer van die betogings sou kon word. Volgens ʼn woordvoerder van die Britse regering het Macron daarom die Britse regering om uitstel vir die besoek gevra.

Die koning se besoek aan Duitsland eerskomende Woensdag gaan wel nog voort soos beplan.

Bykomende bronne: The Guardian en CNN.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.