Passasier land vliegtuig ná vlieënier flou word

ʼn Passasier het Dinsdag noodgedwonge ʼn klein Cessna 208-vliegtuig op ʼn aanloopbaan in Florida geland. (Foto: CBS News)

ʼn Passasier het Dinsdag noodgedwonge ʼn klein Cessna 208-vliegtuig op ʼn aanloopbaan in Florida geland en tot stilstand gebring nadat die vlieënier flou geword het.

Tydens die voorval, wat kompleet soos ʼn toneel uit ʼn Hollywood-rolprent klink, het die betrokke passasier die hulp van ʼn lugverkeerbeheerder ingeroep aangesien hy “geen idee” gehad het hoe om ʼn vliegtuig te hanteer nie.

“Ek het ʼn ernstige situasie hier. My vlieënier is onsamehangend. Hy’s uit,” het die man, wie se naam nie bekend is nie, sowat 2 750 meter in die lug oor die radio gesê.

BBC News berig Robert Morgan, ʼn gesoute lugverkeerbeheerder wat nuwe vlieëniers oplei, het die man begelei om die vliegtuig eindelik by die Palm Beach Internasionale Lughawe te land.

“Toe hy [die passasier] gevra is oor sy posisie, het hy geantwoord dat hy ‘geen idee het nie’. Hy kon net die Florida-kus voor hom sien.”

Morgan het aan die passasier gesê om die vlerke gelyk te hou en die kus te volg terwyl hulle probeer om hom op te spoor.

Die man het in dié stadium aangedui dat hy nie eens die navigasiestelsel aangeskakel kry nie.

Hoewel Morgan nie ervaring met die vlieg van dié spesifieke vliegtuig het nie, het hy dit soos enige ander vliegtuig benader. Hy het ʼn kaart van die vliegtuig se stuurkajuit gebruik om instruksies aan die passasier te gee.

“Ek het geweet ek moet hom kalm hou, na die aanloopbaan begelei en hom help om spoed te verminder sodat hy die vliegtuig vir landing kan laat sak,” het Morgan aan WPBF-TV gesê.

In ʼn opname kan gehoor word hoe Morgan die man leer om “kontroles vorentoe te druk en stadig te daal”.

“Voor ek my oë kon uitvee, was hy op die grond. Ek onthou hy het gevra: ‘Hoe sit ek hierdie ding af?’”

Die twee het op die aanloopbaan ontmoet, omhels en ʼn foto geneem, maar in die harwar nie name uitgeruil nie. Dis moontlik dat die man wel sy naam verskaf het, maar dat Morgan dit nie gehoor het nie. Amerikaanse media is tans na die passasier, wat deur Morgan as ’n held gehuldig word, op soek.

“Ek het in daai stadium gevoel of ek wil huil omdat daar soveel adrenalien in my opgebou het.

“Dit was ʼn emosionele oomblik. Hy het gesê hy wil net by sy swanger vrou by die huis uitkom … en dít het nóg beter gevoel. In my oë is hy die held. Ek het net my werk gedoen.”

Kort ná die landing kan gehoor word hoe Morgan die dapper passasier in opnames prys.

“Julle het pas aanskou hoe ʼn passasier ʼn vliegtuig land,” het ʼn ander vlieënier gesê wat gewag het om op te styg.

“Het jy gesê ʼn passasier het ʼn vliegtuig geland? Sjoe, goeie werk,” het dié vlieënier in reaksie daarop gesê.

Volgens die Federale Lugvaartadministrasie is die vliegtuig privaat geregistreer by ʼn adres in die Amerikaanse deelstaat Connecticut.

Dit het volgens FlightAware ʼn uur voor die voorval vanaf Marsh Harbour in die Bahamas vertrek.

Die vlieënier is na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer. Sy naam en toestand is nie bekendgemaak nie.

Volgens die Amerikaanse nuuskanaal CBS, was dit net hulle twee aan boord die vliegtuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Kensy ·

Die man klink nie eers gespanne nie…. koel soos n komkommer!
Om in sulke omstandighede kalm te bly….. is soos n “super power”!
Hy behoort nie nuwe gesig te wees vir watter kalmeer pille ook nou te koop aangebied word.

Tanniepetoors ·

Klink na een van daardie mense wat lank na hul ‘n noodsituasie beleef het eers die gevaar en skok ervaar. Welgedaan.

Grens ·

Wel gedaan, ‘n C208 Caravan is nie ‘n maklike ding om te land nie. Hy het kalm gebly en mooi geluister na die instruksies van die vlieenier op die grond.

Elize ·

Maroela ek sien die opskrif het verander van uitpaas na flouword? Hoe land iemand ‘n vliegtuig? Klink dit nie meer Afrikaans as dit lui: Passasier doen ‘n noodlanding nie?

kaplyn ·

Ag nee nou bederf jy die hele storie. Wees bly die man het dit oorleef en dat die goeie storie vertel kan word!

Hennie Biebouw ·

Net terloops, ‘n Cessna 208 is nie so “klein” nie. Wanneer met kommersiële vliegtuie vergelyk word, ja, maar wanneer dit by ligte vliegtuie kom, is dit beslis nie ‘n Foxbat nie….
Die Cessna 208 is ‘n komplekse Turboprop, wat hierdie insident soveel meer merkwaardig maak.

efjy ·

Give both that men a “BELLS”. Wel gedaan en voorspoed met jou vrou se swangerskap.

Chris ·

Gaan doen jul navorsing oor die aantal gevalle wat plaasvind na die entings begin het – dit is skokkend!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.