Passasier oorleef brand wonderbaarlik

Die man het wonderbaarlik die brand op die boot oorleef (Foto: Pro Thema)

ʼn Passasier is Sondag lewend gevind aan boord ʼn boot wat al drie dae lank aan die kus van Griekeland brand, het die kuswag gesê.

Dit is moontlik dat verskeie mense, wat nog vermis word, ook die voorval oorleef het. Elf vragmotorbestuurders word nog vermis.

ʼn Brand het Donderdagaand op die Euroferry Olympia naby Corfu uitgebreek met ongeveer 300 mense aan boord. Die brand het aanvanklik reddingsbeamptes verhoed om aan boord te gaan. Sleepbote is gebruik om die vaartuig nader aan die eiland te sleep. Ongeveer 280 passasiers is Vrydag ontruim en na Corfu geneem. Die Olympia was van Griekeland na Italië op pad.

Reddingsbeamptes het Sondag ʼn 21-jarige man op die agterste deel van die vaartuig opgemerk toe dit na die hawe gesleep is.

Die boot was ongeveer 2 km van die noorde van Corfu, het die kuswag gesê.

“Sê my ek leef,” het die vragmotorbestuurder aan reddingsbeamptes gesê toe hulle op hom afkom, berig die Proto Thema-nuuswebwerf.

Geklee in ʼn kortbroek, swart T-hemp en plakkies, het hy teen ʼn leer afgeklim tot in ʼn reddingsboot, aldus foto’s van die iefimerida-nuuswebwerf.

Rook borrel uit die Euroferry Olympia naby Corfu (20 Februarie 2022) (Foto: Angelos Tzortzinis/AFP)

Die glimlaggende man van Belarus is na ʼn hospitaal in Corfu geneem. “Ek is oukei,” het hy aan verslaggewers gesê. “Ek was in my kajuit. Ek het na die laer dek gegaan. Ek het stemme gehoor. Ek het nie die ander gesien nie.”

Nuus van die man se wonderbaarlike oorlewing laat die hoop opvlam dat nog lewens gered kan word.

“Ons is optimisties. Gegewe die feit dat dié man die boonste dek onder dié omstandighede kon bereik,” het Nikos Alexiou, woordvoerder van die kuswag, aan die Ert-uitsaaier gesê.

Volgens die brandweer is 40 brandbestryders Sondagoggend in die gebied ontplooi om met die reddingspoging te help.

“Die hitte en giftigheidsvlakke op die vaartuig bly hoog. In sommige dele woed die brand steeds. Dit is ʼn baie delikate operasie,” het Costas Katsafados, adjunkminister van verskeping, aan Skai-televisie gesê.

Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie, maar omstandighede op die vaartuig word veroordeel. Die boot het na bewering brandstof en “gevaarlike vlambare goedere” vervoer. Daar was 239 passasiers en 51 bemanningslede, 153 vragmotors en 32 motors aan boord, het die Grimaldi-maatskappy gesê.

Die kuswag het egter gesê twee van die mense wat gered is, was Afghane wie se name nie op die manifes was nie. Daar is dus kommer dat daar nog ongedokumenteerde passasiers op die skip was wat vermis word.

Die vermiste vragmotorbestuurders het vermoedelik in hul voertuie lê en slaap omdat kajuite op die vaartuig oorvol was.

Ilias Gerontidakis, die seun van ʼn vermiste vragmotorbestuurder van Griekeland, het aan Proto Thema gesê die Olympia was “aaklig in elke opsig”. “Daar was bedluise, dit was vuil, daar is geen veiligheidstelsel nie,” het hy gesê, terwyl hy angstig by die hawe wag vir nuus oor sy pa. “Daar was 150 vragmotors. Normaalweg sou daar 70 – 75 kajuite wees, maar daar was slegs 50. Hulle het ons gedwing om tot vier mense in ʼn kajuit te slaap. My pa, soos ek verstaan, het in die vragmotor geslaap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.