Passasiersvliegtuig stort in woonbuurt neer

(Foto: AP Photo/Fareed Khan)

ʼn Passasiersvliegtuig met 107 mense aan boord het Vrydag in Karatsji in Pakistan neergestort.

Wasim Akhtar, burgemeester van Karatsji, het gesê die vliegtuig wat aan die staatsbeheerde Pakistan International Airlines (PIA) behoort, het in ʼn digbevolkte woonbuurt aan die buitewyke van die stad neergestort.

Al 99 passasiers en agt bemanningslede het in die ongeluk omgekom en volgens Akhtar is vyf of ses huise ook vernietig. Dit was nie onmiddellik duidelik of daar mense in die huise was nie.

Andul Sattar Kokhar, woordvoerder van die land se burgerlugvaartowerheid, het gesê die vliegtuig het van Lahore na Karatsji gevlieg en dat die vlieënier in ʼn “mayday”-noodoproep gesê het dat een van die enjins nie meer werk nie. Hy het die vliegtuig probeer land toe dit neergestort het.

Die woonbuurt waarin die vliegtuig neergestort het, staan as Model Colony bekend en is ʼn baie arm en digbevolkte buurt. Abdul Rahman, ʼn inwoner, het gesê hy het gesien hoe die vliegtuig minstens drie keer gesirkel het en dat dit gelyk het of dit probeer land voordat die vliegtuig neergestort het.

Imran Khan, eerste minister van Pakistan, het sy skok en hartseer oor die voorval uitgespreek. Hy het gesê daar sal onmiddellik met ʼn ondersoek na die voorval begin word. “Ons gebede en medelye is met die oorledenes se families.”

Beeldmateriaal is op plaaslike televisiestasies uitgesaai wat wys hoe die vliegtuig laag oor ʼn woonbuurt vlieg voordat daar vlamme uit een van die enjins skiet.

Die vlug van Lahore na Karatsji duur gewoonlik ʼn uur en ʼn half.

Volgens dokumente is die vliegtuig op 1 November 2019 deur die regering nagegaan en het die hoofingenieur van PIA op 28 April ʼn aparte sertifikaat onderteken waarin verklaar word dat al die nodige instandhouding op die vliegtuig uitgevoer is en dat die vliegtuig ten volle lugwaardig is en aan al die veiligheidstandaarde voldoen.

Die Airbus A320 wat in die ongeluk betrokke was, is van 2004 tot 2014 deur China Eastern Airlines gebruik voordat dit in PIA se vloot opgeneem is.

Airbus het nie onmiddellik gereageer op ʼn versoek vir kommentaar oor die ongeluk nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.