Pastoor sterf toe krokodil hom gryp

Argieffoto

ʼn Protestantse pastoor is dood nadat hy die afgelope naweek tydens ʼn doopseremonie in ʼn meer in Ethiopië deur ʼn krokodil gegryp is.

BBC berig Docho Eshete en ongeveer 80 lede van sy gemeente het Sondagoggend aan die suidelike kant van die Abayameer bymekaargekom. Die meer is naby ʼn nasionale park geleë waar krokodille volgens berigte gereeld opgemerk word.

Die diere is gewoonlik ʼn toeriste-aantreklikheid. Volgens The Telegraph bestaan daar egter tans ʼn tekort aan visse in die Abayameer wat moontlik die oorsaak is dat die krokodille toenemend aggressief teenoor mense raak. Weens die meer se troebel water is dit moeilik om die krokodille raak te sien wanneer hulle onder water is.

ʼn Inwoner van die nabygeleë stad Arba Minch het aan die BBC van die skokgebeurtenis vertel. “[Die pastoor] het die eerste persoon gedoop en aanbeweeg na die volgende een. Skielik het ʼn krokodil uit die meer gespring en die pastoor gegryp.”

Eiwnetu Kano, ʼn Ethiopiese polisiebeampte, het aan die BBC gesê vissermanne en inwoners van die stad het die pastoor probeer red. Ondanks hul pogings was die pastoor reeds dood toe hulle sy liggaam uiteindelik uit die krokodil se kake kon bevry. Die krokodil het vinnig onder die water verdwyn.

Hoewel sodanige aanvalle nie ʼn alledaagse gebeurtenis is nie, is Ethiopië bekend vir sporadiese krokodilaanvalle. Reuters het berig toe die Wabe Shebellerivier in die suidoostelike gedeelte van die land in 2006 oorstroom het, is regeringsbote wat reddingswerk in die gebied verrig het deur krokodille aangeval.

In 2014 is ʼn Israeliese omgewingsbewaarder se been gedeeltelik afgeruk toe hy op die Omorivier in Ethiopië deur ʼn krokodil aangeval is. Hy het die aanval oorleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

Ek glo nie die Telegraph se storie dat mense veiliger is tussen krokodille wanneer daar meer vis is nie.

Ena ·

Well at least the meal was blessed…one crokkie that did not suffer indigestion.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.