Pearl Harbour 80 jaar later: Veteraan (101) vertel

Argieffoto van die USS Oklahoma-gedenkteken ter illustrasie. (Foto: LUCY PEMONI / Getty Images North America / Getty Images via AFP)

Toe Japannese bomme op 7 Desember 1941 op Pearl Harbour in Hawaii begin val het, het die jong seeman David Russell van die Amerikaanse vloot aanvanklik onder die dek van die slagskip USS Oklahoma gaan skuil.

Hy het egter in ’n breukdeel van ’n sekonde besluit om eerder nie daar te skuil nie en inderhaas pad gegee. Dié besluit het waarskynlik sy lewe gered.

“Hulle het die luik begin toemaak. En ek het besluit om daar weg te kom,” vertel die nou 101-jarige veteraan oor daardie oggend presies 80 jaar gelede.

CBS news berig 420 matrose en mariniers is dood toe die USS Oklahoma binne 12 minute ná Russell se besluit deur torpedo’s getref is. Die slagskip het kort daarna gesink. Russell kon in die doodsnikke na ’n ander slagskip ontsnap.

Hy keer vandag (Dinsdag) na Pearl Harbour terug vir ’n seremonie ter nagedagtenis van die meer as 2 300 Amerikaanse troepe wat in die aanval op 7 Desember 1941 gesterf het.

Russell sê hy dink gereeld daaraan oor hoe gelukkig hy was om die aanval te kon oorleef en besef dat die meeste van diegene wat onder die dek agtergebly het, waarskynlik nie kon uitkom nadat die luik gesluit het nie.

“Daardie verdomde torpedo’s, hulle het ons net aanhou slaan en aanhou slaan. Ek het gedink hulle sal nooit ophou nie. Daardie skip het rondgedans,” onthou die veteraan.

Hy vertel hy het oor sluitkaste geklouter terwyl die slagskip stadig omgerol het. Hy het eindelik die hoofdek bereik, oor die skip se kant gekruip en die USS Maryland wat langsaan vasgemeer was, gesien.

Hy wou nie swem nie, want uitgelekte olie het in die water onder gebrand. Hy het gespring en ’n tou gegryp wat aan die Maryland gehang het. Só het hy sonder enige beserings na dié slagskip gevlug van waar hy vir die res van die aanval ammunisie help aangee het.

Russell en twee ander is ná die aanval na die nabygeleë Ford-eiland op soek na ’n badkamer. Hiér het hulle honderde erg gebrande matrose aangetref wat mediese behandeling ontvang het. Baie sou eindelik binne ure of dae sterf.

“Die meeste van hulle wou ’n sigaret hê. Ek het nie op daardie tydstip gerook nie, maar ek het ’n pakkie sigarette en ’n paar vuurhoutjies in die hande gekry, en hulle sigarette vir hulle aangesteek.”

“Jy voel vir daardie ouens, maar ek kon niks doen nie. Ek kon net vir hulle ’n sigaret aansteek.”

Russell het by die vloot aangebly totdat hy in 1960 afgetree het. Hy het vir die volgende twee dekades by lugmagbasisse gewerk voordat hy eindelik in 1980 permanent afgetree het.

Russell woon nou in die Amerikaanse deelstaat Oregon.

Identifisering van gesneuweldes  

Die oorskot van ’n aantal ongeïdentifiseerde matrose en mariniers is in 2015 as deel van ’n program opgegrawe in die hoop om hulle met behulp van DNS-tegnologie te identifiseer. Altesame 361 kon sedertdien geïdentifiseer word, waaronder Russel se swaer – Walter “Boone” Rogers.

Die Amerikaanse weermag se agentskap om gesneuweldes terug te bring (DPAA) het egter nou besluit om die herwinningsprogram af te sluit, berig die Washington Post.

Die laaste van die oorskot wat nie geïdentifiseer kon word nie, sal vandag in Honolulu se National Memorial Cemetery of the Pacific herbegrawe word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.