
Die Porsche 911 Cabriolet en die Bugatti Chiron, albei peperduur motors, is in die ongeluk op die pas beskadig. (Foto: Rainer Johnson Supercars)
Skade van nagenoeg R68 miljoen is aan drie peperduur voertuie aangerig nadat hulle in die prentjiemooi Switserse Alpe se Gotthard-pas in mekaar vasgery het.
Die bestuurder van ʼn Bugatti Chiron en die bestuurder van ʼn Porsche 911 Cabriolet wou oënskynlik op presies dieselfde oomblik ʼn woonwa op die pas verbysteek, het Mail Online berig.
Die woonwa het glo veel stadiger as die res van die verkeer op die pas gery en ʼn effense verkeersopeenhoping veroorsaak.
Volgens carbuzz.com het die bestuurder van die Chiron, heel agter in die ry voertuie, probeer om al die ander voertuie verby te steek op presies dieselfde tyd wat die bestuurder van die Porsche in die teenoorgestelde rigting besluit het om óók die woonwa verby te steek.
Volgens Mail Online het die Porsche die Mercedes C-Class Wagon en die Bugatti die woonwa getref.
Die Porsche en die Bugatti se lugsakke het ook albei ontplooi. Die Porsche het glo die ergste skade opgedoen, terwyl die Bugatti se voorste rooster, buffer en enjinkap in die ongeluk beskadig is. Die prys van ʼn nuwe Bugatti Chiron beloop ʼn allemintige R52 miljoen.
Die Mercedes-bestuurder is na ʼn hospitaal vir behandeling gehaas.
Switserland is een van die rykste lande ter wêreld en talle inwoners besit peperduur luukse motors. Motorongelukke waarby eksotiese voertuie betrokke is, is dus niks vreemds in die land nie.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Die berig is verwarrend want dit sê altwee wou die woonwa verby steek wat nie waar is nie. Die 2 weergawes van koste vir Chiron is ook nie dieselfde nie R52milj teenoor R68milj.
Waarom sou die Porche in die teenoorgestelde rigting as die Bugatti die woonwa wou verbysteek? Dalk was beide Porche en Bugatti agter die woonwa en toe steek hulle hom tegelyk verby en word die Mercedes wat van voor af kom, getref en in die proses ook die woonwa. Hoe dit ookal sy, geld maak nie v jou ‘n goeie bestuurder nie he he he
Duur uitstappie. Liewer laat as nooit het my oorlede pa altyd gesê
agh wat! hulle kan dit bekostig liewers hulle bugati dan my bakkie.
Hoop darem dat die duur- motors se eienaars se versekering sake mooi in plek is. Daai polis premies sal gewis aangepas word na dese.