Soorte resepte:

Pepper X onttroon Carolina Reaper as warmste rissie

Pepper X (Foto: Guinness-wêreldrekords)

“Pepper X” is nou amptelik die wêreld se warmste rissie met ʼn gemiddeld van 2,693 miljoen Scoville-hitte-eenhede (SHU).

Dit is gekweek deur Ed Currie, stigter van die Puckerbutt Pepper Company in die VSA, wat ook die vorige rekordhouer, die Carolina Reaper, met ʼn gemiddeld van 1,64 miljoen SHU geskep het.

Ed het Pepper X onthul op ʼn episode van die treffer-YouTube-reeks Hot Ones.

Pepper X se skroeiende Scoville-gradering is bepaal deur die Winthrop-universiteit van Suid-Carolina. Toetse is gedoen met monsters oor die afgelope vier jaar, berig Guinness-wêreldrekords.

Om dit in konteks te plaas, ʼn jalapeño haal gewoonlik tussen 3 000 en 8 000 SHU.

Die Scoville-skaal word gebruik om die pikantheid van rissies te meet. Dit word gebaseer op die konsentrasie van kapsaïsien, ʼn aktiewe bestanddeel van rissies. Dit veroorsaak ʼn brandende sensasie wanneer dit in kontak kom met menslike weefsel.

Daar word oor die algemeen geglo dat die saadjies van ʼn rissie die hitte bepaal, maar dit is nie waar nie. Die kapsaïsien is in die plasenta, die weefsel wat die saadjies bevat.

Pepper X (Foto: Guinness-wêreldrekords)

Pepper X se buitewand het talle kurwes en riwwe, wat beteken dat daar ʼn groter oppervlak is waarbinne die plasenta kan groei.

Ed het Pepper X vir meer as 10 jaar op sy plaas gekweek en dit met sommige van sy warmste rissies gekruis om die kapsaïsien-inhoud te verhoog.

(Foto: Guinness-wêreldrekords)

“Toe ons begin het met die kruising, het ek van twee rissies se geure gehou, maar nie een daarvan sou warm genoeg wees vir my smaak nie,” het hy onthul in ʼn First We Feast-video.

Dit verg baie geduld om nuwe tipes rissies te kweek. Plante in die eerste generasie bevat talle van die oorspronklike plant se kenmerke en dit kan jare neem voor die verlangde kenmerke deur selektiewe kwekery onthul word. Dit kan sowat 10 generasies duur voor ʼn hibriede plant stabiliseer met voorspelbare kenmerkende en konsekwente vrugte.

Ed doen elke jaar sowat 100 kruisings, in die hoop dat een of twee daarvan die 10 jaar-ontwikkelingsiklus sal deurstaan.

“As ons begeerlike kenmerke kry, soos hoë indekse van kapsaïsien waarna ons op soek is, dan gaan ons voort met die kruising. As dit nie werk nie, dan begin ons van voor af. Dit is ʼn tydrowende, baie lang proses,” het hy aan WIRED gesê.

Ed werk reeds aan sy volgende moontlike rekordhouer. Met Pepper X wat nou die titelhouer is, 10 jaar ná die Carolina Reaper, sal dit moontlik nog tien jaar duur voor Pepper X onttroon word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Ehhhh …. nee wat, ek sal dié een maar “pass” … ek het gedog die “Pope’s Hat” is warm, maar genade, met dié een sal mens met die agterstewe op ‘n waaier gerig moet staan!

Wicus ·

Die naam Pepper X is ‘n plekhouer terwyl hulle besluit wat hulle dit gaan noem.

Koos 100 ·

Die een sal vir seker jou polse seermaak…… wanneer jy op jou hande in die stort moet staan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.