Perde kies hasepad deur Londense middestad

(Foto: X)

Vier mense is Woensdag beseer toe minstens twee verwilderde weermagperde, een oënskynlik bebloed, Woensdag deur die Londense middestad gehardloop het.

Verskeie video’s en foto’s van hoe die twee galoppende diere gedurende spitstyd deur busse, taxi’s en motors in Aldwych vleg, is op sosiale media gedeel.

Albei perde was gesaal en getoom. Die een perd se bors en voorpote was bedek met wat lyk na bloed.

BBC berig die perde het tydens hul vaart teen ʼn stilstaande toerbus en taxi vasgehardloop. Foto’s van die toerbus se stukkende voorruit is ook gedeel.

Die Londense Metropolitaanse Polisie het vanoggend saam met hul kollegas in die weermag gewerk om die perde op te spoor.

“Ons beamptes het twee perde op die snelweg naby Limehouse aangekeer. Ons wag vir ʼn weermag-perdeboks om die perde op te laai en vir veeartsenykundige sorg te vervoer.”

(Foto: X)

ʼn Woordvoerder van die weermag het intussen gesê ʼn “aantal militêre werkperde het vanoggend tydens roetine-oefeninge losgeraak”.

Volgens die woordvoerder is “al die perde” aangekeer en terug na hul kamp geneem.

“ʼn Aantal personeellede en perde is beseer en ontvang die toepaslike mediese aandag.”

Dit is egter nog onduidelik presies hoeveel wegholperde in die strate van Londen is. Sommige omstanders beweer hulle het meer as twee perde gewaar.

Die Daily Telegraph berig tot vyf weermagperde is tydens ʼn militêre oefening vanoggend deur ʼn geraas die skrik op die lyf gejaag, waarna hulle hul ruiters afgegooi en laat spaander het.

ʼn Aantal gesogte weermagregimente het stalle in die Britse hoofstad en perde is ʼn gereelde gesig rondom regeringsgeboue by Whitehall, Buckinghampaleis, The Mall en in die nabygeleë Hyde Park.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Arme perde! Ek is bly om te lees dat hulle immers weer aangekeer is en die nodige sorg ontvang.

Leona ·

Arme Perde! Ek hoop hulle is reg! Wat n skok moes dit vir hulle gewees het.

trotsNAMSA ·

Om met diere te werk is altyd onvoorspelbaar.
As een onrustig raak, dan kan jy maar weet, niks gaan gebeur. Sterkte aan die mooie perde en ruiters.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.