“Permanente skietstilstand” glo in Oekraïne

Pres. Petro Porosjenko. Foto: Петро Порошенко/Facebook

Pres. Petro Porosjenko. Foto: Петро Порошенко/Facebook

‘n Permanente skietstilstand is glo tussen Oekraïne en Rusland in die ooste van Oekraïne land gesluit, aldus die Russiese nuusagentskap Interfax.

Volgens die voortspruitende berigte in die Westerse media het presidente Wladimir Poetin en Petro Porosjenko tydens ‘n telefoongesprek “in breë trekke” ooreengestem oor hoe die krisis beëindig kon word.

Geen onafhanklike bevestiging is egter ontvang dat ‘n skietstilstand afgekondig is nie, en dit is ook nie duidelik hoe die rebelle daarop sou reageer nie.

Oekraïne se soldate is die afgelope week teruggedryf na die rebelle, gerugsteun deur Russiese soldate “wat met verlof is” maar ‘n derde front in die suide geopen en Oekraïne se soldate effektief in die rug aangeval het.

Verskeie rondes samesprekings tussen Oekraïne, Rusland en verskeie westerse lande is in Minsk, hoofstad van Wit-Rusland gehou, maar sonder duidelike tekens van vordering.

Nadat die rebellemagte die offensief oorgeneem het, het Poetin sy kaarte duideliker begin speel. Hy het aangedring daarop dat ‘n nuwe staat in die ooste van Oekraïne tot stand moet kom. Dit is later deur sy woordvoerders versag tot ‘n outonome gebied, iets waarvoor Rusland vanuit die staanspoor beywer het.

‘n Woordvoerder van Navo, wat aandring om anoniem te bly, het gesê Porosjenko se beste opsie is om nou sy troepe lewend voor die aanslag van die Russiese troepe te onttrek.

Rusland het verdere druk opgelaai deur aan te kondig dat dit groot oefeninge met sy kernarsenaal gaan hou. Poetin het in die jongste tyd toenemend na sy land as kernmoondheid verwys as klaarblyklike aanduiding hoe futiel dit is om in sy land se planne se pad te staan. Poetin het ook daarop aangedring dat die bouwerk aan Rusland se eie ruimtehawe versnel word. Rusland is in dié stadium grootliks van die ruimtefasiliteite in Kazakstan afhanklik om sy tuie gelanseer te kry.

Bronne: Trouw, Der Spiegel, De Standaard, Yahoo News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.