Perth-brande bedreig lewens, huise

Inwoners is gevra om, indien moontlik, die gebied te verlaat. (Foto: Bridget Fitzgerald/Twitter)

Australiese brandbestryders sê hulle gaan na verwagting tot laatnag werk om ʼn veldbrand wat buite beheer woed in bedwang te bring. Die vlamme bedreig lewens en huise in Perth.

Inwoners is in ʼn noodberig aangesê “om dadelik op te tree om te oorleef”, terwyl die vlamme al hoe nader aan Oakford, sowat 35 km suid van Perth se stadskern, beweeg het.

Plaaslike inwoners is gevra om die gebied te ontruim indien dit moontlik is, of om skuiling te soek terwyl die brand dik rookwolke oor die gebied laat hang het.

Sowat 150 brandbestryders sal na verwagting deurnag werk om die brand oor ʼn gebied van tussen 80 en 100 ha in bedwang te bring.

“Daar lê beslis nog uitdagings voor,” het Russel Wells, distriksbeampte van die brand-en-nooddiens, gesê.

Hoewel die temperature van sowat 33 °C vannag gaan daal, word sterk wind voorspel.

Nooddienswerkers verwag Sondag selfs hoër temperature te midde van kommer dat die winderige toestande kan beteken dat die brand in omvang verdubbel.

“Wat ons in hierdie stadium probeer doen, is om die brand in bedwang te bring en môre ʼn sterk teenwoordigheid te handhaaf om te verseker dit vlam nie weer op nie,” het Wells gesê.

Beeldmateriaal wat uit die lug geneem is, wys hoe minstens een struktuur brand, terwyl vliegtuie die vlamme uit die lug bestook.

Verskeie paaie is gesluit en ontruimingsentrums voorberei.

Verskeie ander veldbrande woed ook aan die buitewyke van die stad.

Westelike Australië is die ergste van verlede somer se verwoestende veldbrande gespaar. Dit het meestal in Nieu-Suid-Wallis en Victoria gewoed.

Die brande het in 2019 en vroeg in 2020 meer as 24 miljoen ha droë bosgebied verwoes. Meer as 30 mense is dood en duisende huise is verwoes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Gert

Sterkte vir die Brandbesryders en die mense daar. Hoop hulle kan ‘n voorbrand aan die gang kry om die brand te stuit