Petito ter ruste gelê; opspoorder help soek na kêrel

Gabrielle Petito (Foto: Twitter)

Die bekende Amerikaanse “bounty hunter” Duane “Dog” Chapman, het aangebied om Brian Laundrie, wat spoorloos verdwyn het nadat sy verloofde, Gabrielle “Gabby” Petito, se liggaam onlangs gevind is, te help opspoor.

Verskeie mense het ná Laundrie se verdwyning met Chapman in aanraking gekom met versoeke dat hy by die soektog betrokke raak en hy het ingestem om te help.

Volgens Chapman wil hy geregtigheid vir Petito se dood laat geskied en sal hy alles in sy vermoë doen om Laundrie op te spoor.

Die bekende Amerikaanse “bounty hunter” Duane “Dog” Chapman (Foto: Twitter)

Volgens Fox News het Chapman veral deernis met Petito se saak omdat hy in 2006 sy dogter in ʼn motorongeluk verloor het. Sy was dieselfde ouderdom as Petito.

“Ek weet hoe Petito se ouers voel,” het Chapman gesê.

Chapman is al die afgelope 45 jaar lank ʼn professionele opspoorder, of wat in die VSA as ʼn bounty hunter bekend staan. Hy is ook die ster van sy eie werklikheidsreeks op TV.

Die 22-jarige Petito is op 11 September as vermis aangemeld nadat sy en Laundrie op toer deur die VSA gegaan en Laundrie op 1 September alleen teruggekeer het. Daar was geen teken van Petito nie.

Amerikaanse owerhede het verlede Sondag tydens ʼn grootskaalse soektog na Petito op menslike oorskot in die Amerikaanse deelstaat Wyoming afgekom. Die plaaslike patoloog het bevestig die oorskot is wel dié van Petito. Die patoloog het ook bevestig dat moord die voorlopige oorsaak van dood is.

Laundrie is aanvanklik as “persoon van belang” verklaar en het geweier om met die polisie saam te werk. Die raaisel oor wat met Petito gebeur het, het boonop verdiep nadat Laundrie ook spoorloos verdwyn het.

Die polisie het Donderdag ʼn lasbrief vir Laundrie se inhegtenisneming uitgereik.

Soektog na Laundrie

Chapman het intussen Saterdag by Laundrie se ouers se huis opgedaag [Foto: Jab News, Twitter]

Chapman het intussen Saterdag by Laundrie se ouers se huis opgedaag om met hulle te praat, maar skryf op Facebook hy is met stilte begroet.

Volgens hom het hy inligting ontvang wat daarop dui dat Laundrie moontlik in die Appalachiese Gebergte skuil. Hy het glo voorheen daar gaan kamp.

“As daar ʼn plek is waar hy heel moontlik kan wegkruip, sal dit daar wees. Hy is nie ʼn ervare misdadiger nie en sal na die plek gaan waar hy die gemaklikste is – en dit is die buitelug,” voer Chapman aan.

“Ek dink nie hy sal voortvlugtend kan bly en ʼn misdadige bestaan voer soos om byvoorbeeld uit winkels te steel of in goedkoop hotelle te bly nie.”

The US Sun berig Bill Warner, ʼn private ondersoeker, het Chapman se stelling beaam en Laundrie ook as ʼn sogenaamde “elite stapper en buitelugman” beskryf en gesê dat hy waarskynlik op die vlug in die bos is en moontlik op pad is na die voetslaanpad in die Appalachiese Gebergte.

Die polisie het ʼn beroep gedoen dat enigiemand met meer inligting oor waar Laundrie hom kan bevind, hulle sal skakel.

Roudiens

Petito se ouers tydens haar roudiens [Foto: Erin Smith, Twitter]

Intussen het familielede en vriende Petito Sondag tydens ʼn roudiens in Holbrook, New York, finaal gegroet.

Petito se pa, Joe, het die diens geopen en mense gevra om nie bedroef te wees oor die tragiese dood van sy dogter nie. Hy het gesê almal moet eintlik geïnspireerd wees oor haar kort lewe wat vol avontuur was.

“As julle vandag hier weggaan, word geïnspireer deur wat sy bereik het – want die hele planeet ken nou my dogter se naam,” het Joe Petito gesê.

“Ek kon nie as ʼn pa trotser wees nie.”

ʼn Regstreekse uitsending van die diens wys hoe geliefdes mekaar omhels voor ruikers blomme en groot foto’s van Petito.

Tientalle polisielede en nooddienswerkers het ook die diens bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

koos ·

Ai man, rus in vrede. Sleg as jou kind voor jou sterf, so onnodig.

Werner ·

Kan nie aan n plaasmoord dink wat in sulke detail oor berig is nie.Die vrou is nie eens van SA nie.

Swerwer ·

Ongelukkig gee ons Presidensie en Hoed nie ‘n vlenter om oor plaasmoorde en plaasaanvalle nie. Maar dat dit nou 1 van hulle is dan word daar lang berigte geplaas en hulde gebring aan die ……………………..

Toy ·

So bly Dog help ook, Laundrie se ouers weet seker waar hy is en maak of hulle nie weet nie. Hy sal nie verewig kan weghardloop nie, behalwe as hy homself om die lewe gebring het. Sterkte aan Gabby se ouers en familie.

Swerwer ·

Pragtige jong lewenslustige Gabrielle Petito, so hartseer dat jou lewe so kortgeknip moes word.
Mag hul Brian Laundrie vinnig opspoor en hy boet vir sy dade.

Aai ·

Dit is die Amerikaners se Mike Bolhuis.Sterkte daar brink hom vir my as julle hom het.

SlinkseKoljander ·

Die ou is al lankal land uit of dood.
Ek is bly almal hier is regters, wie se hy is skuldig??

kolonel ·

Gestel hy is onskuldig, dan is die bewyslas op hom, in die afwesigheid van ooggetuies. Die aangewese ding is dan om NIE PRESIES te doen wat ‘n skuldige persoon sal doen nie.
Sy ouers dink ek het ook ‘n regsverrassing wat hulle kant toe kom.

ES ·

kolonel, bewyslas is altyd op die staatsaanklaer met kriminele sake – en veral moordsake. In ons land en in die VSA.

Daleen ·

As hy onskuldig is – hoekom weier om saam polisie te werk en hoekom verdwyn?

marius ·

Korrek . Daar is nie getuienis om hom te arresteer nie . Die lasbrief is vir die beweerde onregmatige gebruik van ‘n debiet kaart . Dis al waarop hy op hierdie stadium hoef te antwoord .

ES ·

Andre, onskuldige mense hardloop nie weg nie – veral nie nadat jou prokureur jou daarteen adviseur nie. Al is hy dan kwansuis onskuldig, versterk dit nie sy saak nie.

Sandra ·

Mens kan jou nie indink wat haar ouers deurgaan tensy jy self al daar deur is nie. Voorspoed aan haar ouers

marius ·

Daar is nog geen getuienis wat hom verbind met haar dood nie .

ES ·

Ek hoop doe mannetjie word gevang sodat die waarheid kan uitkom. Hierdie omstandighede waarin hy homself nou geplaas het gaan vir enige jurie bewys dat nie verantwoording wil doen vir sy dade nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.