Petito wél vermoor; verloofde steeds spoorloos

Brian Laundrie se huis is reeds deursoek. (Foto: Octavio Jones/ Getty Images/AFP)

Die Amerikaanse FBI het die publiek se hulp gevra in die voortgesette soektog na Brian Laundrie wat spoorloos verdwyn het nadat sy verloofde, Gabrielle “Gabby” Petito, se liggaam gevind is.

Die plaaslike patoloog het Dinsdag bevestig ʼn liggaam wat in Wyoming gevind is, is wel dié van Petito wie se onlangse verdwyning die VSA aangegryp het. Die patoloog in Teton het ook bevestig dat “moord die voorlopige oorsaak van dood is”.

Die finale uitslag van die nadoodse ondersoek is egter nog uitstaande, het die FBI in ʼn verklaring gesê.

Die owerhede het ʼn reusesoektog van stapel gestuur na die 22-jarige Petito nadat haar familie haar op 11 September as vermis aangegee het. Sy het spoorloos verdwyn nadat sy en haar kêrel – Laundrie – op toer deur die VSA gegaan het. Laundrie het op 1 September teruggekeer, maar daar was geen teken van Petito nie.

Petito het vroeër by haar werk bedank, haar lewe in ʼn kampeerwa gepak en saam met die 23-jarige Laundrie op ʼn reis vertrek wat volgens Instagram-plasings idillies gelyk het.

Laundrie is vroeër as “persoon van belang” verklaar en het geweier om met die polisie saam te werk. Die raaisel oor wat met Petito gebeur het, het boonop verdiep nadat Laundrie ook spoorloos verdwyn het. Hy word intussen steeds gesoek.

Die FBI het nou ʼn beroep om hulp gedoen op enigiemand “wat moontlik kontak met me. Petito of mnr. Laundrie gehad het, of wat dalk hul voertuig gesien het” tussen 27 en 30 Augustus.

“Die FBI en ons vennote bly verbind daartoe om te verseker dat enigiemand verantwoordelik vir of aandadig aan me. Petito se dood, aanspreeklik vir hul optrede gehou word,” het Michael Schneider, die FBI se spesiale agent in beheer van die saak, gesê.

In die verklaring word ook ʼn beroep gedoen op enigiemand met inligting oor Laundrie se “rol in die saak”, of waar hy hom moontlik bevind, om die FBI te kontak.

Verslag oor gesingsgeweld

Die polisie het in Augustus op ʼn voorval van gesinsgeweld gereageer waarby Petito en Laundrie betrokke was. (Foto: Moab City Police Department/AFP)

Die paartjie het van New York aan die Amerikaanse ooskus vertrek en foto’s gedeel van die prentjiemooi uitsigte van die Amerikaanse weste, terwyl die twee van hulle gelukkig langs die klein wit, kampeerwa glimlag.

In een van die video’s wat hulle gedeel het, kan Petito en Laundrie gesien word waar hulle mekaar soen, na die sonsondergang kyk en op ʼn strand stap.

In Augustus het die polisie in Utah egter gereageer op ʼn klagte oor gesinsgeweld waarby Petito en Laundrie betrek is.

Beeldmateriaal van ʼn polisiebeampte se lyfkamera wat Amerikaanse media gedeel het, wys ʼn ontstelde Petito wat sê dat sy ʼn rusie met Laundrie gehad het. Die twee se voertuig is afgetrek en in die beeldmateriaal kan gesien word hoe Petito huil en sê dat sy sukkel met geestesgesondheidsprobleme.

Petito het gesê sy het Laundrie ʼn klap gegee ná ʼn stryery, maar het ook gesê dat sy nie bedoel het om hom leed aan te doen nie.

Die polisiebeampte het besluit om geen klagte aanhangig te maak nie, maar het die paartjie beveel om die aand afsonderlik van mekaar deur te bring om te kalmeer.

Laundrie glo in omgewing gesien

CNN berig ʼn vrou het gesê sy en haar vriend het Laundrie op 29 Augustus ʼn saamrygeleentheid in Wyoming gegee en dat hy aangevoer het dat hy alleen vir ʼn paar dae lank kampeer, terwyl Petito in die kampeerwa aan sosialemediaplasings werk.

Volgens Miranda Baker het hulle Laundrie opgelaai terwyl hy in Colter Bay geryloop het. Dit is nie ver van waar Petito se oorskot later gevind is nie. Hy het hulle glo $200 (sowat R2 900) aangebied selfs voor hy in die voertuig geklim het.

Hy het glo sowat 30 minute later ontsteld geword, gevra dat hulle stilhou en uitgeklim, het Baker in ʼn reeks TikTok-video’s gesê. Sy het die voorval reeds by die polisie aangemeld.

CNN berig voorts die Petito-familie se regsverteenwoordiger, Richard Benson Stafford, het in ʼn verklaring gesê die familie het tyd nodig om te rou en dat hulle kommentaar sal lewer “wanneer Gabby tuis is”.

Daar word tans onder meer in die omgewing van die Florida-natuurreservaat na Laundrie gesoek nadat sy ouers glo gesê het hy gaan verlede week daarheen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Die volle waarheid sal mettertyd uitkom , hopelik. Duidelik was dinge tussen hulle nie deurgans maanskyn en rose nie. Daars nou ook berig dat getuies hul sien stry het in ‘n restaurant.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.