‘Phantom’ groet Broadway ná 35 jaar, byna 14 000 vertonings

Sarah Brightman, Andrew Lloyd Webber, Cameron Mackintosh en Laird Mackintosh as die Phantom tydens die finale buiging van die laaste vertoning Sondagaand. (Foto: Timothy A. Clary / AFP)

Ná 35 jaar en byna 14 000 vertonings het die gordyn Sondag vir die laaste keer ná ʼn Broadway-vertoning van die immergewilde Phantom of the Opera gesak.

Die produksie het gesukkel om te herstel nadat Broadway tydens die Covid-19-pandemie 18 maande lank gesluit was, wat gelei het tot die besluit om die opvoering te staak.

Phantom of the Opera was die vertoning wat die langste op die planke van Broadway in New York te siene was.

Sedert die opening daarvan in Januarie 1988, het Andrew Lloyd Webber se uiters gewilde musiekblyspel New Yorkers en toeriste van oor die wêreld bekoor en ʼn kenmerkende simbool van die beroemde teaterdistrik geword. Ondanks talle aanhangers het ʼn swak opkoms sedert Covid-19 die doodsklok vir die produksie gelui.

Die Britse vervaardiger Cameron Mackintosh het in September verlede jaar aan die New York Times gesê dat die produksie verliese begin ly het weens die stadige terugkeer van internasionale besoekers na die Groot Appel ná die pandemie.

Stygende produksiekoste, wat op $950 000 (meer as R17 miljoen) per week geraam word, het ook ʼn rol gespeel.

Die melodrama oor ʼn gemaskerde musikale genie wat by die Paryse Operahuis spook en wie se hart na die jong sopraan, Christine, hunker, is al deur 20 miljoen mense gesien. Dit het oor die jare meer as $1,4 miljard (sowat R25 miljard) uit kaartjieverkope verdien.

Toeskouer Daniel Wright (56) het aan AFP gesê hoewel hy die vertoning al verskeie kere gesien het, was die laaste een Sondagaand “buitengewoon” en vol oomblikke waarin hy “hoendervel” gekry en diep emosie ervaar het.

Ná 35 jaar en byna 14 000 vertonings het Broadway se Phantom of the Opera tot ‘n einde gekom. (Foto: Timothy A. Clary / AFP)

“Daar is ʼn rede waarom dit al 35 jaar lank opgevoer word,” het hy gesê.

“Dit is tydloos en klassiek. Dit het soveel mense se lewe geraak.”

Die vertoning, aangepas uit Gaston Leroux se Franse roman met dieselfde naam, het in 1988 sewe Tony-toekennings gewen, waaronder beste musiekblyspel, en het op 9 Januarie 2006 die langste vertoning in Broadway-geskiedenis geword.

Die produksiespan skat dat dit oor die jare 6 500 mense in diens gehad het, onder wie 450 akteurs.

Sondag se uitverkoopte vertoning by die Majestic Theatre langs Times Square voor ʼn stampvol gehoor was vertoning nommer 13 981.

Die gehoor van 1 600 mense het ʼn staande toejuiging gegee en was oorstelp toe Webber by sommige van die oorspronklike en huidige akteurs vir die heel laaste buiging op die verhoog aangesluit het.

Webber het die vertoning opgedra aan sy seun wat in Maart aan kanker gesterf het.

“Dankie, almal, en dankie, New York, dat jy so ʼn wonderlike tuiste vir ons was,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.