Pianis se R3 miljoen-klavier flenters ná klavierskuiwers dit laat val

Angela Hewitt het die nuus oor haar klavier op Twitter bevestig. “‘n Klavier is soos ‘n vriend,” het sy in dié inskrywing gesê. Foto: @HewittJSB/Twitter.com

ʼn Unieke klavier wat sowat R3 miljoen werd is, is flenters nadat ʼn maatskappy wat spesialiseer in die verskuiwing van musiekinstrumente dit laat val het.

Die unieke F278 Fazioli-vleuelklavier het behoort aan die bekende Kanadese pianis Angela Hewitt, wat deur The Guardian beskryf word as “een van die grootste Bach-vertolkers van ons tyd”. Die klavier was die enigste van dié model in die wêreld wat met ʼn vierpedaal-meganisme gebou is.

Die ongeluk het op 31 Januarie gebeur nadat Hewitt ʼn opname van Beethoven se klaviervariasies by ʼn opname-ateljee in Berlyn afgehandel het, en die klavier teruggeskuif moes word na haar woning in Italië. Hewitt het al haar Europese opnames sedert 2003 op dié klavier gedoen en het dit as haar “beste vriend” beskryf. Sy was so geskok oor die ongeluk dat sy eers tien dae daarna haar volgelinge op sosiale media vertel het wat gebeur het.

“Ek was pas klaar met die opnames en uit my vel uit oor hoe goed dit verloop het toe die klavierskuiwers in die beheerkamer inkom (waar ek besig was om met my vervaardiger te gesels) en vir my sê hulle het my kosbare Fazioli-konsertvleuelklavier laat val. My eie klavier wat ek sedert 2003 vir al my opnames in Europa gebruik het (en natuurlik vir baie konserte). Ek kon dit nie glo nie. Ek was dol oor die klavier. Dit was my beste vriend, my metgesel… Nou is dit kapoet” het ʼn hartseer Hewitt geskryf.

Die gebreekte instrument is geïnspekteer deur die Italianer Paolo Fazioli, ʼn stigterslid van die maatskappy wat die klavier vervaardig het. Die 590 kg-klavier se staalraam het gebreek toe die skuiwers dit op ʼn waentjie probeer laai en dit laat val het. Die impak van die val, tesame met die hoë spanning in die klavier se snare, was so sterk dat die klavier se klap in twee gebreek het. Fazioli het bevind die klavier is onherstelbaar beskadig.

Volgens Hewitt het die maatskappy wat die verskuiwing van die klavier moes hanteer, wie se naam sy nie bekend wou maak nie, hul uiterse ontsteltenis met die ongeluk uitgespreek. “Hulle is al 35 jaar in dié bedryf, en so iets het nog nooit gebeur nie,” het sy gesê. “Ten minste het niemand seergekry nie.”

Sodra die versekeringseis afgehandel is, sal Hewitt ʼn nuwe Fazioli-klavier uitsoek. “Mnr. Fazioli het reeds vir my drie klaviere uitgesoek waaruit ek kan kies,” het sy gesê. “Maar ek weet dié proses kan maande duur.”

Hewitt beskryf ʼn Claude Debussy-opname as haar gunsteling-opname wat op die stukkende Fazioli-klavier gemaak is, “oor die suiwer klank- en kleurgehalte daarvan”.

“Ek hoop my klavier gaan gelukkig wees in die klavier-hemel,” het sy gesê.

  • Luister hier na gedeeltes van Angela Hewitt se Claude Debussy-opname wat sy as haar gunsteling-opname op dié klavier beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sandra

Dis ‘n uiterse tragedie. Ek kan nie een noot klavier speel nie, maar ek kan hoor hoe goed sy op die klavier klaargekom het. Ek kan glo dat dit haar 10 dae gevat het om haar vriende te vertel. Dis soos om ‘n geliefde te verloor, soos ‘n mens of dier. Ek is ook so. As ek ‘n dier verloor waaraan ek baie baie geheg was, vat dit my virewig om weer sosiaal te verkeer en daaroor te praat. Sy gaan lank vat om ‘n nuwe klavier uit te kies.

Vonkprop

Sy klink ‘n bietjie mal soos ‘n kolhaas. Ek is ook geheg aan my voertuie soos sy met haar klavier en ek pas dit op maar ek sien nie my aardse goed as ‘n metgesel en ‘n vriend nie. Dis bietjie vêr gevat. En ‘n klavier-hemel, nee liewe aarde.

Leon

Dis ‘n ramp. Ek dink nie die vervaardiger sal weer so ‘n klavier kan bou nie. Een soortgelyk, maar nie dieselfde. Klaviere is unieke individue.

Niklaas

Iemand sal moet verduidelik. Dit klink grof nalatig. Wonder of versekering gereel was vir verskuiwing/transito ?

katerinadiekat

First world problems.