Picasso-skildery vir meer as R1,4 miljard opgeveil

Pablo Picasso se “Woman sitting by a window (Marie-Therese)” is vir meer as R1 miljard opgeveil. (Foto: DANIEL LEAL-OLIVAS / AFP)

ʼn Skildery van Pablo Picasso is Donderdag vir ʼn allemintige $103 miljoen (ʼn raps meer as R1,4 miljard) op ʼn veiling in New York verkoop. Dit is amper dubbel soveel as wat die afslaer Christie’s vermoed het die werk gaan haal.

Die skildery, Sittende vrou by ʼn venster (Marie-Thérèse), is in 1932 voltooi en is binne 19 minute op die veiling opgeraap. Die skildery is ʼn portret van Picasso se jong minnares en muse Marie-Thérèse Walter. Die skildery het agt jaar gelede op ʼn veiling en Londen onder die hamer gekom en is toe verkoop vir $44,8 miljoen (R627 miljoen).

“Die jongste transaksie bevestig dat die kunsmark steeds sterk is, ten spyte van die Covid-19-pandemie, en ook die besonderse status van Picasso, wat in 1881 gebore en in 1973 dood is,” het Bonnie Brennan, president van Christie’s in die VSA gesê.

Dit is die vyfde werk van dié Spaanse skilder wat vir meer as $100 miljoen van die hand gesit is. Die skildery Vroue van Algiers is sy kunswerk wat die meeste gehaal het op ʼn veiling. Dit is in 2015 vir ʼn allemintige $179 miljoen (R2,5 miljard) verkoop.

Dit is egter die eerste keer in twee jaar dat enige skildery vir meer as $100 verkoop. Die laaste skildery wat dié mylpaal bereik het, was Claude Monet se Hooimiedens (1890) wat op ʼn veiling van Sotheby’s in New York verkoop is vir $110,7 miljoen (R1,5 miljard).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hans ·

Ek is dalk onnosel masr vir my lyk dit na kaerskool kuns…..

JM ·

Soveel mense ly honger en dan word hierdie buitensporivge bedrag vir ‘n onindrukwekkende skildery betaal.

Danie ·

Ek kan daai skildery in 10 minute kopieer.
Die inkleur sal nog 10 minute vat.
Belaglikheid sonder perke.

Tanniepetoors ·

Ek was bevoorreg om in 2019 ‘n uitstalling van Picasso se werke by Fondation Beyeler in Riehen, Switzerland te sien. Wat ‘n belewenis!

Elmarie ·

Ek was weer gelukkig om ‘n reisende uitstalling van sy werke in Tokyo te kon sien. Wonderlik! Net omdat mens dit nie verstaan, hoef mens nie neerhalend oor kuns te wees nie. Elke mens geniet waarvan sy/hy hou maar dat ander dit dan altyd moet afkraak is vir my vreemd. Niemand dwing jou om van iets te hou al dan nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.