Piekniek langs ’n pragkolfblad in Frankryk

Andy German en Erik le Roux is aan die stuur van Nantes se  spoggerige kolfblad. Foto: Verskaf.

In die skadu van die imposante château Grand-Blottereau in Nantes is daar iets wat ’n mens glad nie verwag om in Frankryk te sien nie.

Dit is nie die werk van ’n kontemporêre kunstenaar, die stalletjie van ’n verdwaalde sjokolademaker met bogemiddelde entrepreneuriese vaardighede of selfs ’n pragtuin nie – hoewel dít sekerlik ook nie te ver is nie – maar vier krieketkolfblaaie.

Dis ook nie van daardie sintetiese goed wat taamlik volop in kontinentale Europa is nie. Aikôna, hierdie is die ware Jakob: Gras en grond is ongetwyfeld die wagwoorde.

En dit is alles te danke aan die vindingrykheid en talent van Erik le Roux; kosmaak-ghoeroe en mede-aanbieder van die gewilde Edik van Nantes-reeks saam met sy beroemde broer Nataniël.

En krieket is klaarblyklik een van sy vele passies.

Krieket is een van Erik se vele passies. Foto: Verskaf.

“Op skool was ek skraler as baie van my maats, met die gevolg dat rugby altyd vir die een harsingskudding na die ander gesorg het. Krieket is een van die min sportsoorte wat jy met ’n langbroek en langmouhemp kan speel. Dit pas my,” het Erik vanuit Frankryk vir Maroela Media gesê.

Benewens sy pligte as die kaptein van die Nantes-elftal, dra hy ook die hoed van opsigter saam met Andy German – die stigter van die klub wat gereeld saam met Mick Jagger van die rockgroep die Rolling Stones in Frankryk krieket gespeel het.

Die kolfblad-droom het twee jaar gelede begin gestalte kry, terwyl ’n aanlyn kuratorskursus dit verdere vlerke gegee het. Vandag is dit die amptelike oefenveld van Frankryk se nasionale vrouekrieketspan, terwyl daar elke naweek klubkrieketwedstryde aangebied word.

“Sewe van Nantes se vrouespelers speel vir die Franse span en ons het ’n ordentlike kolfblad hier. Ons het ʼn grassnyer, tuinslang en huur ’n roller wanneer nodig. Maar as ’n mens die omgewing, die weer en die pragtige stad in ag neem, is dit beslis een van die beste krieketvelde in kontinentale Europa.”

Die natuurlike kolfblaaie dra die Internasionale Krieketraad se goedkeuring weg en ’n internasionale toernooi is al daarop aangebied. Foto: Verskaf.

Boonop dra die natuurlike baanblad (’n eerste in Frankryk) die Internasionale Krieketraad (IKR) se goedkeuring weg en ’n vrouekriekettoernooi tussen die nasionale spanne van Frankryk, Oostenryk, Noorweë en Jersey is daar aangebied.

Volgens Erik is daar drie ander klubs in die omgewing wat slegs ’n paar uur se ry weg is en kragmetings tussen die plaaslike spanne dien as derby-wedstryde. In die somer word teen Britse spanne gespeel en hulle onderneem jaarliks ’n toer na Brittanje; vanjaar sal daar in die omgewing van Bath gespeel word.

Natuurlik was daar al talle hoogtepunte.

“As span het ons al die ganse spektrum van emosies ervaar: Van oorwinnings van die laaste aflewering af, tot tande wat uitgeboul is. Die Franse toeskouers wat in die park wandel, dink ons is ’n sekte wat in wit geklee is. Ek het al vingers gebreek, naels verloor en verlede jaar my oogbank gekraak; daar is dus altyd iets om te onthou.”

Dit is nou winter in Frankryk, doen hulle iets om die blad teen wind en weer te beskerm?

“Ons sou graag wou, maar ons laat dinge maar sy gang gaan. Ons het eenvoudig net nie die mannekrag of die toerusting om die blad te beskerm nie, maar ons ploeg wel die boonste paar sentimenter, saai en gooi ’n nuwe bolaag.

“Ons mag egter niks aan die buiteveld doen nie. Die Franse is baie omgewingsbewus – geen onkruiddoder of chemikalieë word geduld nie. Soos goeie kos, het ons blad geen bybestanddele nie; jy kan jou sagopoeding daarvan af eet.”

Krieket in Frankryk! Foto: Verskaf.

Frans word wyd en syd as die wêreld se mees romantiese taal beskou. Wanneer ’n Fransman dus vir been voor paaltjie appelleer, moet dit seker baie fênsie klink, of hoe?

“Franse boulers appelleer glad nie want dit eindig altyd in een of ander eksistensiële krisis. Talle vrae maal dan deur ’n bouler se kop: BVP, is dit ’n strikvraag – wat beteken hierdie onduidelike poging tot eliminasie vir my as mens?”

Gevolglik is die paaltjiewagter in Erik se span altyd van ’n krieketspelende land afkomstig.

Nodeloos om te sê, die klub het groot toekomsplanne en daar heers tans ’n groot debat: Moet Dale Steyn of AB de Villiers as Nantes se eerste erelid genooi word?

De Villiers kan sy hele gesin bring, bietjie in die stad rondloop en ’n vriendskaplike krieketwedstryd saam met die klubspelers speel, antwoord Erik.

“Ons is in ’n botaniese tuin geleë, dus is enige Protea welkom!”

Erik se kosmaak-vaardighede beteken dat middagete ’n fees met Steyn of De Villiers se besoek sal wees.

Tog is sy eie piekniekmandjie taamlik beskeie wanneer hy by die veld is: ’n Appel en twee bottels wyn.

En dít, dames en here, is hoe ’n krieketwedstryd benader moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.