Pienk diamant vir meer as R1 miljard verkoop

Williamson PInk Star (Foto: Sotheby’s)

ʼn Seldsame pienk diamant is Vrydag in Hongkong vir HK$453,2 miljoen (meer as R1 miljard) verkoop. Dit is die tweede hoogste prys ooit op ʼn veiling vir enige juweel, sê Sotheby’s-afslaers.

Dit is boonop ʼn rekordprys per karaat op ʼn veiling vir enige diamant of edelgesteente.

ʼn Anonieme koper van Boca Raton, Florida in die VSA het die 11,15 karaat Williamson Pink Star gekoop. Die persoon het twee keer soveel as die verwagte verkoopprys betaal.

Die steen is die tweede grootste pienk diamant wat nog ooit op ʼn veiling verkoop is. Pienk diamante is die seldsaamste edelgesteente en die grootste in aanvraag in die wêreldwye mark.

Die wêreldrekord vir ʼn pienk diamant is in 2017 opgestel toe ʼn steen, genaam die CTF Pink Star, in Hongkong vir $71,2 miljoen (ongeveer R1,2 miljard) verkoop is.

Vrydag se transaksie “is nie net ʼn bewys van die deurlopende aanvraag na topgehalte diamante in Asië nie, maar ook ʼn verhoogde bewustheid van die seldsaamheid van pienk diamante”, het Wenhao Yu, voorsitter van juwele en horlosies by Sotheby’s Asië, gesê.

Die Williamson Pink Star is vernoem na twee ander pienk diamante: die rekord CTF Pink Star en die Williamson-steen, ʼn 23,6 karaat diamant wat as ʼn trougeskenk in 1947 aan koningin Elizabeth II gegee is.

Tobias Kormind, bestuurder van die Britse handelaar 77 Diamonds, sê die “verstommende” verkope bewys dat diamante van hoë gehalte steeds groot bedrae haal in ʼn sukkelende ekonomie.

“Bates soos wêreldklas diamante het ʼn geskiedenis dat hulle goed vaar, selfs in tye van onsekerheid,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.